Maak- of breektye
Maak- of breektye

Maak- of breektye

Hoofartikel
Dani Booysen
Met sy aankondiging laat Sondag het pres. Hage Geingob enkele ou kruike uit sy kabinetskamer gerol en ook 'n paar leë simbale se gedruis uitgedoof.

Ontleders is versigtig optimisties.

Ons behou ook uitspraak voor.

Weens Covid-19 staan Namibië soos die meeste lande in die wêreld op die drumpel van 'n krisis wat moontlik groter kan wees as die meeste probleme wat ons die afgelope drie dekades moes bestuur. Dit sal aansienlike, bykomende druk op die hantering van alle steeds voortslepende ontwikkelingskwessies plaas.

Die begroting wat waarskynlik volgende week ter tafel gelê sal word, sal voorsiening vir die impak van Covid-19 moet maak. Op die laatste behoort openbare gesondheid se omvattende reaksieplan terselfdertyd aangekondig te word.

Die aanstelling van mnr. Iipumbu Shiimi, voorheen president van die sentrale bank, as nuwe minister van finansies is wyd positief ontvang. Hy gaan in huidige omstandighede die volle samewerking van elke ander kabinetslid benodig.

Jong politici, nuwelinge en ervare ministers met nuwe take sal hulself moet bewys. Hulle sal so gou moontlik baie Namibiërs se groeiende pessimisme moet hokslaan.

Wat bemagtigingsplanne, grondhervorming, landbou en 'n oorkoepelende waterplan betref, sal mnre. Shiimi, me. Lucia Iipumbu en mnr. Calle Schlettwein redelikheid, maar ook spoed aan die dag moet lê.

In 2020 en verder vorentoe sal veel meer as die “now hard work” nodig wees waaroor Swapo in sy strydkrete sing.



So sê ander

19 Maart 2020



Regering moet kophou oor sy stimulus-pakket



Midde die koronakrisis, wat ook Suid-Afrika getref het, is daar afwagting vir die tesourie se stimulus-pakket om die ekonomie deur die storm te help.

Suid-Afrika is reeds, weens swak ekonomiese omstandighede en die gevolge van staatskaping, in troebel waters. Daar is nie veel beweegruimte om nou met die nodige miljarde na vore te kom nie.

Tog is die hulp van 'n stimulus-pakket dringend nodig om te keer dat die reeds vuisvoos verbruiker – wat die hoofbron vir die ekonomie is – finaal op sy knieë beland.

Kommerwekkend is die sprake dat die geld verkry sal word deur “minder belangrike projekte” te staak. Die regering se oordeel oor wat sulke projekte is, boesem nie veel vertroue in nie.

Van die geld wat op 'n dooie perd soos die SAL of 'n sterwende reus soos Eskom gemors word, kan nou handig te pas kom.

Tot nou lyk dit of die regering die krisis nugter en heel realisties benader. Ramaphosa en sy span, sowel as landsburgers se strafste toets lê nog voor soos infeksiegetalle onvermydelik gaan toeneem. Hopelik sal daar steeds kop gehou word.

• NETWERK24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!