Maak reg vir post-app-era
Maak reg vir post-app-era

Maak reg vir post-app-era

Estelle de Bruyn
Mense in die werkplek en werkgewers moet hul voorberei vir die post-app-era, waar virtuele persoonlike assistente (soos Apple se Siri of Amazon Echo) van die take gaan oorneem wat vandag deur slimfoontoepassings gedoen word.

David Willis, navorsingshoof vir mobiliteit en die digitale werkplek by die tegnologiekonsultant Gartner, het by die Gartner-simposium wat tans in Kaapstad gehou word gesê mense word al ’n bietjie keelvol vir die oormaat apps, en die koers waarteen apps afgelaai en dan ná ’n kort tydjie onbenut gelaat word, is baie hoog.

“Baie handelsmerke het verskeie apps. ’n Telekommunikasiemaat­skappy kan drie tot vyf verskillende apps hê vir verskillende goed, maar dit raak net te veel en verwar mense. Dit word ’n uitdaging om die regte app tussen die chaos te vind. Dis waar ’n virtuele persoonlike assistent goed te pas kom.”

Willis het by ’n gespreksessie met joernaliste gesê die verskaffers van sagteware-apps het die afgelope jare agter geraak met die lewering van gepaste slimfoon-apps. Hulle was gewoond daaraan om programme vir lessenaarrekenaars te ontwikkel, maar moet nou programme ontwikkel vir veel kleiner skerms, skerms van verskillende grootte en toestelle wat met of sonder muise en sleutelborde werk.

Nuwe programmeringswerktuie en rekenaartaal word gebruik in die mobiele era wat onbekend is vir die tradisionele sagteware-ontwikkelaars. Die groot sagteware-ver­skaffers het die sakewêreld in dié opsig in die steek gelaat, want hulle kon nie bybly nie en hulle sukkel om die gaping te vul.

Willis verduidelik die behoeftes van slimfoon- en tabletgebruikers is anders as lessenaar-rekenaargebruikers. Op die mobiele toestelle raak mense ongeduldig as daar ná drie sekondes niks gebeur nie, terwyl hulle op tradisionele rekenaars nog bereid is om tot agt sekondes te wag.

Aspekte wat in die toenemend mobiele en digitale werkplek aandag sal moet kry, is duidelike maatskappybeleid oor werknemers se gebruik van hul eie toestelle; of hulle daarvoor vergoed gaan word deur die werkgewer as hulle hul eie toestelle na die werk bring; hoe die werkgewer se data beskerm word en mense se persoonlike en werklewe digitaal geskei moet word; en of die werkgewer toegelaat moet word om werknemers se bewerings te alle tye via hul mobiele toestelle na te spoor.

Regte

Vlootbestuurders kan nog aanvaar die werkgewer moet weet waar hulle is, maar ander werknemers se regte kan in gedrang kom as die werkgewer hulle 24 uur van die dag volg en monitor watter apps hulle gebruik of wat hulle alles aanlyn aanvang, meen Willis. Gartner voorspel daar sal vanjaar 2,37 miljard rekenaartoestelle (lessenaarrekenaars, tablette, selfone en ander mobiele toestelle) verkoop word, asook meer as 293 miljoen draagbare toestelle (soos fitbit, Up of Apple Watch). Gartner verwag volgende jaar sal 2,38 miljard rekenaartoestelle en 342 miljoen draagbare toestelle verkoop word. Willis sê dit verg nuwe tegnieke van interaksie in die werkplek. -Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer