Maak vas jou wiele
Tielman van Lill - Dit is daai tyd van die jaar wat menige mense besef die uurglas het uitgeloop en dat die jaar so te sê op sy rug lê.
Dit was rondom 1989 gewees toe ek as 24-jarige ‘n pypdroom ontwikkel. Nee, nie die tipe wat die branderryers van droom nie. Hierdie een sou vier wiele, ‘n enjin, stuurwiel en ‘n sitplek gehad het wat deur pype bymekaar gehou word.
So skaf ek ‘n Kewer aan wat se ratkas nie ten volle operasioneel is nie. Die dop (bakwerk) sou later afgehaal en verkwansel word terwyl ‘n horde verskillende dikte pype en ander ysters by my ouers se huis afgelewer word. Ek woon elders in Windhoek en kry net naweke kans om aan my droom te gaan skaaf.
Neef Pieter kom verduidelik my van die ratkas wat uitmekaargehaal moet word om die stukkende parte te vervang. Omrede ek van enjins en ratkaste verstaan, verduidelik neef net een maal waarna ek die ou takie op my eie aanpak.
Vrinne het ek ook wat graag naweke kom kyk hoe die droom vorder. So beland ‘n gevreesde skoolpel met die nodige proviand een Saterdag by my om handjie by te sit met Volla se gedaanteverwisseling.
Ons vorder nie. Die proviand is te veel en die hande en tyd te min. Pa Ponie loer gereeld by die garage in om te sien of enigsins vordering gemaak is sedert hy ‘n uur vantevore daar was. Hy lyk bekommerd, maar ek, pella en proviand is nie bekommerd nie - daar is nog baie naweke in die toekoms.
Vele naweke later is die ratkas terug op sy plek en die aspirant-pypkar word versigtig vir ‘n draai geneem. Met die terugkomslag vat ek ‘n draai teen ‘n rapsie vinniger as ‘n draffie toe die spreekwoordelike vrugtebak die waaier tref.
Die Volla se neus lig ‘n aks en word deur ‘n helse skuurgeluid opgevolg. Ek kyk verward rond, net om te sien hoe die linkeragterwiel my verbysteek om ‘n ent verder teen ‘n huis se muur sy lêplek te gaan kry. Toe ek wil rem, is daar nie veel van rem ter sprake nie en moet maar geduldig wag dat ons stadig maar seker tot stilstand kom.
Die Volla se dop is ten einde laaste afgehaal en verkoop waarna die pypwerk in alle erns aangepak is. Maar soos met die ratkas was die naweke te kort, vrinne te veel en 1989 het ongesiens verbygesluip waarna Desember gou plek vir Januarie 1990 gemaak het.
Ek is Oranjemund toe om daar te gaan arbeit en voor ek my kom kry, was die pypdroom in Steyntjie se garage staangemaak. Daar het ek meer tyd gehad om die pypkar aanmekaar te sit, maar o wee, vrinne en die nodige proviand het weer eens ‘n stewige stokkie voor my aanslag gesteek.
Toe ek op 2 September 1991 koers kies Kaap toe het my droom nog onaangeraak by Steyntjie gestaan. Die enigste uitweg met my duurerige plan was: “Tjom, hier is vir jou ‘n kar. Jy moet hom net aanmekaar sit dan het jy wiele.”
Toe ek Steyn’n paar jaar daarna weer sien, het hy my vertel dat hy ook nie die pyp met die “ding” kon rook nie en het dit vir iemand anders gegee.
So gaan dit met ongedane sake. Vir die afstellers en uitstellers is dit nie ’n probleem nie. Want sien, die ou takie wat vroeër in 2017 tersyde gestel is, word opnuut na 2018 aangeskuif. Maar daar is diegene wat nagte wakker lê oor dit en in ‘n koue sweet uitslaan as die onderwerp aangeroer word.
Later van tyd leer ‘n mens (soos ek) om te sorg dat jou brieke reg moet wees en jy seker is dat daai wielmoere deeglik vas is. Anders kan jy bult af nie rem nie en om die draaie kan ‘n wiel of twee perdalkies afkom om jou spoed te breek voordat jy by daai uitgestelde ou takie kan uitkom.
Kry daai garage se goed agtermekaar en netjies gepak of gaan kuier vir jou maat wat jy drie jaar laas gesien het. Kry daai uitgestelde takie van 2017 agter die rug, want net dalk gaan jy in Januarie in koue sweet wakker word.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie