Maanvallei bied eerste uitdaging vir 2022

Padwedlope
Tielman van Lill
Tielman van Lill – SPAR Namibië en Gondwana het gister hul eerste Maanvallei-marathon bekendgestel, wat op 19 Maart in Swakopmund by die Mole afgesit word.

Die SPAR Gondwana Maanvallei-marathon en halfmarathon oor onderskeidelik 42.2 en 21.1 kilometer, se roete sal deur die skilderagtige Maanvallei tot by die Rössmund-gholfklub strek.

By Rössmund draai die marathonhardlopers terug na Swakopmund vir hul laaste 21.1 km, terwyl die halfmarathonners by dié bekende oase halt roep.

Vir die minder ernstige langasems en pretdrawwers is daar ’n 10 km-uitdaging wat kort ná die marathonatlete sal wegspring.

Beide die hoofitems word deur Atletiek Namibië erken en is deel van hul kalender van wedlope in 2022.

Dié kompetisie word bemark as die ideale geleentheid vir Namibië se elite-langasems om vir die 2024 Olimpiese Spele in Parys, Frankryk, te begin voorberei. Die marathon en halfmarathon sal gedeeltelik op grond- en teeroppervlak gehardloop word.

Francois Lötter van SPAR het gesê: “SPAR en Gondwana is beide trots Namibiese maatskappye. Ons bedien ons kliënte almal op tradisionele Namibiese wyse. Hoewel buitelandse toeriste ’n groot deel van ons besigheid uitmaak, gee ons graag terug aan Namibiërs. Daarom het ons besluit om saam die kompetisie te borg. Dis ’n eer en voorreg vir ons.”

Steny Watermeyer, Gondwana se verkoopsbestuurder, sê: “Ons is opgewonde oor die byeenkoms. Die idee was om ’n volhoubare kompetisie vir beide atlete en toeskouers oor etlike jare te skep.

“Die pryse is natuurlik van groot belang. Atlete in die eerste drie posisies van die hoofitems sal kontantpryse ontvang, terwyl die pretdrawwers vir ’n gelukstrekking kan regstaan.

“Die gesamentlike borgskap sal ongeveer N$300 000 beloop wat kontantpryse insluit. Dis ons eerste marathon en ons sien uit na die opwindende geleentheid.”

Inskrywings word tot 200 atlete per item beperk. Atlete kan na www.gondwana-collection.com gaan om te registreer. Die koste vir die twee hoofitems is N$250 per persoon of N$150 vir die pretloop.

Inskrywings het gister geopen en sluit op 14 Maart om 17:00.

[email protected]

FOTO's

Van links staan Shedeen Eimbeck (SPAR), Steny Watermeyer (Gondwana), Jo Anne Manuel (ministerie van sport, jeug en nasionale diens), Francois Lötter (SPAR) en Cherly Schoeman (Gondwana). Foto Tielman van Lill

Die onderskeie hardlooproetes vanaf Swakopmund na Rössmund.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!