Maatreëls moet kwesbaarstes beskerm
Verskeie versorgingsoorde vir verswakte bejaardes het besoekers vir die volgende maand beperk.
Henriette Lamprecht – Spesiale maatreëls is in plek om bejaardes en mense met verswakte immuniteit, wat hoërisikogroepe vir Covid-19 is, teen die aanslag van die siekte te probeer beskerm.
By die Paramount-gesondheidsorgsentrum in Windhoek is enige besoeker onder meer aan ’n vraelys onderworpe om te bepaal of die persoon enige direkte gesondheidsbedreiging vir die sentrum se bejaardes of mense met verswakte immuniteit weens onder meer kanker inhou.
Volgens mnr. Hein Venter fokus die maatreëls buiten die beskerming van pasiënte ook op personeel wat met besoekers in aanraking kom. Met verwysing na personeel sê hy sekere higiëniese protokol soos maskers en handreinigers is standaard en was nog altyd in plek, maar is nou “verdubbel”.
Venter sê alle besoekers aan die sentrum sal gevra word om ’n vraelys te voltooi wat onder meer sal bepaal of die besoeker “’n persoon van belang” is.
Dit word volgens hom “in belang van pasiënte en personeel” gedoen en die sentrum behou die reg voor om enigiemand toegang te weier wat die vraelys nie wil voltooi nie.
“Na gelang van die antwoorde word bepaal of die persoon enige risiko en in welke mate inhou. Word hy toegelaat, ontvang die persoon onmiddellik ’n masker en moet hy ook sy hande was. Die dokter wat die persoon gaan besoek, word ook gekontak om, indien nodig, die nodige voorsorgmaatreëls te tref sou die pasiënt deur middel van die vraelys as ’n “persoon van belang” geïdentifiseer is,” sê Venter.
By die Katutura-ouetehuis in die hoofstad is alle besoeke tot verdere kennisgewing afgelas en “bly die hekke gesluit”, sê die bestuurder, mnr. Alex Kanu.
“Ons inwoners bly binne en die hek toe. In die geval van ernstige siekte sal ons natuurlik daarvolgens optree,” sê hy.
By die Oude Rust-aftreeoord is môre die laaste dag wat die oord se bussie bejaardes vir onder meer inkopies stad toe sal vervoer.
Inwoners is ook aangeraai om vriende en familie te versoek om enige kuiers vir eers tot die minimum te beperk of eerder uit te stel.
Volgens matrone Ellie Reinhardt is alle groepbyeenkomste by die oord afgestel en sal geen studente of vrywilligers tot tyd en wyl hier gebruik word nie.
Reinhardt sê ook ’n ekstra noodkamer is ingerig waar inwoners met ernstige griep en “enige verdagte gevalle” geïsoleer sal word.
Sanitasie en higiëne is ook “goed opgeskerp”.
Intussen het mnr. Berrie Holtzhausen, uitvoerende hoof van Alzheimer Dementia Namibia (ADN), en die organisasie se tuiste buite Swakopmund ingrypende maatreëls ingestel om inwoners teen Covid-19 te beskerm.
“Die kwesbaarstes vir Covid-19 is bejaardes met onderliggende mediese toestande. Mense met demensie is nog weerloser, want jy kan nie aan hulle verduidelik hulle moet hul hande was of nie besoekers se hande skud nie,” sê Holtzhausen.
Sedert gister word geen besoekers vir die volgende 30 dae toegelaat nie en sal die personeel se toegangshek gesluit bly.
Geen personeellid sal in dié tyd toegelaat word om die perseel te verlaat of enige besoekers te ontvang nie. Weeklikse aankope sal deur ADN se drywer en nog iemand op Swakopmund gedoen word.
“Met hul terugkeer moet hulle maskers dra soos voorgeskryf deur die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste (MoHSS),” sê Holzhausen.
Hy het beklemtoon inwoners sal slegs na dokters of hospitale vervoer word, sou dit deur ’n dokter aanbeveel word.
Geen nuwe gevalle sal voor 16 April by die versorgingsoord ingeneem word nie.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie