Maatreu00ebls teen Covid u2018tot groot mate doeltreffendu2019
Maatreu00ebls teen Covid u2018tot groot mate doeltreffendu2019

Maatreëls teen Covid ‘tot groot mate doeltreffend’

Namibië se deelname aan Covax plaas hom in ’n gunstige posisie om ’n entstof teen Covid-19 te bekom.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – Die maatreëls en ingrypings wat deur die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste in die stryd teen Covid-19 geïmplementeer is, was tot ’n groot mate doeltreffend in die beheer en onderdrukking van die verspreiding van die siekte.

Die gesondheidsminister, dr. Kalumbi Shangula, het tydens ’n omvattende voorlegging van Namibië se reaksieplan teen die pandemie verwys na die plaaslike gebruik van remdesivir as deel van sy arsenaal in die behandeling van ernstige siek Covid-19-pasiënte. Namibië is ook deel van die Covax-proses, ’n samewerkingsooreenkoms onder die vaandel van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) en Gavi, die internasionale entstofvereniging, vir die ontwikkeling van ’n entstof teen Covid-19.

Dit plaas die land in ’n gunstige posisie om die entstof te bekom wanneer dit beskikbaar raak. Die aanvanklike beraamde begroting om die siekte te bestuur, was aanvanklik N$1 miljard, maar is later tot N$727 miljoen aangepas. Volgens die minister is die finansiering hersien soos die epidemiologiese situasie ontvou het.

Die aanspreeklikheidsverslag wat die tydperk 1 April tot 24 Augustus dek, sal volgens Shangula in ’n latere stadium aan die kabinet voorgelê word.

Die algehele uitgawekoers vir die betrokke tydperk staan tans op 78%.

Die reaksieplan is gebaseer op nege pilare en sluit landswye koördinering, beplanning en monitering, betrokkenheid van die gemeenskap, reaksiespanne en ondersoek van gevalle, grensposte, nasionale laboratoriums, infeksiebestuur en –voorkoming, gevallebestuur, logistiek en psigo-maatskaplike ondersteuning in.

Die eerste pilaar sluit ’n noodsentrum en die kwarantyn en isolasie van vermoedelike en bevestigde Covid-19-gevalle in. Pilaar twee is onder meer die gereelde verskaffing van inligting aan die publiek, terwyl die monitering van enige gevalle in gemeenskappe, gesondheidsgeriewe en by grensposte deel van die derde pilaar is. Die monitering van die geografiese verspreiding van die virus, oordragkoers en die impak daarvan op gesondheidsdienste word ook hier gedek. Grensposte en die gevolglike kwarantyn en isolasie van reisigers vir moontlike gevalle val onder pilaar vier. Pilaar vyf (laboratoriums) sluit die verhoogde toetskapasiteit by Pathcare, Namdeb, die Universiteit van Namibië (Unam) en die Nasionale Instituut vir Patologie (NIP) in. Nog twee gaan bygevoeg word.

Infeksiebeheer en –voorkoming is onder pilaar ses en sluit die voorkoming van infeksie en oordrag in gesondheidsgeriewe, onder personeel, besoekers en die gemeenskap in. Met verwysing na isolasie en die opknap van geriewe is isolasiegeriewe by die Windhoek Sentrale Hospitaal (10 beddens), Opuwo, Oshakati en Rundu (vier beddens elk), Okongo en Gobabis (agt beddens elk) en Keetmanshoop en Walvisbaai (12 en 24 beddens onderskeidelik) opgerig.

Bykomende geriewe is ook ingerig en aangepas by die ongevalle-afdeling van die Windhoek Sentrale Hospitaal, die tuberkulose-saal in Katutura, die Robert Mugabe-kliniek en personeelverblyf by die Internasionale Lughawe Hosea Kutako. Die opknapping van die oostelike vleuel van verpleegsters se woonkwartiere by die Katutura-staatshospitaal, motorhuise en die algemene saal by die Walvisbaaise staatshospitaal, die algemene saal by die staatshospitaal op Swakopmund, die Tamariskia-kliniek, ablusiegeriewe by die Hentiesbaaise jeugsentrum, die algemene saal by die Omaruru-staatshospitaal, saal agt by die Oshakati-staatshospitaal, geriewe by die Oshikango-grenspos, Nyangana en Andara, asook die malariakamp by Popa-valle, val hieronder. Opknappings is ook by die staatshospitale op Keetmanshoop, Uutapi en Onandjokwe onderweg.

Riglyne vir selfisolasie waar gepas, val onder pilaar sewe. Pilaar agt is kritieke mediese toerusting, farmaseutiese en kliniese voorrade, sowel as ambulanse aangekoop, terwyl meer as 2 000 gesondheidswerkers en administratiewe personeel in reaksie op die pandemie aangestel is. Psigo-maatskaplike ondersteuning (pilaar nege) is volgens hom uniek aan Namibië omdat dit nie deel van WHO-riglyne vir lande se reaksieplanne vorm nie. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!