'Maatskaplike toelae 'n basiese mensereg'

'n Aktivis meen pensioenarisse, weeskinders en gestremde mense is geregtig op toelae, maar sekere toelae en uitbetalings moet hersien en gewysig word.
Tanja Bause
Tanja Bause - Pensioenarisse, weeskinders en mense met gestremdhede is diegene wat maandeliks ’n maatskaplike toelaag van die Namibiese regering kan ontvang.

Tans is elke Namibiër bo die ouderdom van 60 geregtig op ’n pensioentoelaag van N$1 300. Weeskinders moet jonger as 18 wees en een of beide ouers aan die dood afgestaan het om vir ’n toelaag te kwalifiseer.

Die voogde, ouers of versorgers ontvang N$200 vir die eerste kind en N$100 vir elke kind daarna, tot op ses kinders. Mense wat ouer as 16 is kan vir ’n ongeskiktheidstoelae van N$1 100 per persoon aansoek doen.

Me. Rosa Namises, ’n gemeenskapsaktivis, sê die voorsiening van maatskaplike toelae mag nooit vir politieke doeleindes gebruik word om stemme te werf, en nooit deur die regerende party misbruik word nie.

“Maatskaplike toelae is ’n grondwetlike reg van elke burger. Die regering moet die lewensomstandighede van die mense kan verbeter. Hulle moet die mense help wat onder armoede gebuk gaan om 'n verenigde instelling te word,” het sy gesê.

Sy het bygevoeg die toelae vir weeskinders moet hersien word; dit is te min en help nie rêrig die kinders nie.

“Die behoeftes van die kinders moet in ag geneem word; die toelaag is net té min.”

Volgens haar moet die kriteria om vir ’n ongeskiktheidstoelaag in aanmerking te kom ook gewysig word.

“Ek verstaan mense moet ’n doktersbrief en ’n brief van ’n maatskaplike werker voorsien, maar om ’n polisieverklaring te kry, vat gewoonlik baie lank. Meeste van die mense ontvang geen inkomste terwyl hulle vir die papiere wag nie. Hierdie proses moet hersien word om dit spoediger te maak.”

Die maatskaplike toelaag of pensioengeld is voldoende en stel die ou mense ten minste in staat om kos te koop, sê sy.

“Die Maatskaplike Voorsorgkommissie (SSC) se uitbetalings aan werknemers wat by die werk beseer word of vir swanger vroue, moet beslis hersien én verhoog word. As ’n gemeenskapsaktivis voel ek ons is op die regte pad. Ons kan nog aan die beleide skaaf en verander ten goede van die betrokke partye, maar ons moet realisties wees. Die verhoging van toelaes moet realisties wees. Politici moet besluite neem tot voordeel van die gemeenskap.”

Mnr. Rudi van Wyk, voorsitter van die Rehoboth Independent Town Management Association (Ritma), sê maatskaplike toelaes is ’n basiese mensereg en wanneer die ekonomiese omstandighede verbeter sal die huidige maatskaplike toelaes dalk genoeg wees.

“Jy kan in beter ekonomiese omstandighede miskien daarvan lewe en iets daarmee maak, maar op die oomblik is baie mense se salarisse gesny en besighede sukkel. Dit beteken diegene wat niks het nie is afhanklik van diegene wat iets het.”

“Die regering moet ondersoek instel en seker maak die ekonomie kom weer aan die gang. In talle plekke in Namibië, asook hier in Rehoboth, is alles besig om inmekaar te tuimel,” het hy gesê. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!