Maatskappy wil kyk of hy gas, olie kry
Elise Tempelhoff – Suid-Afrikaners is oor die algemeen “geweldig gekant” teen enige eksplorasie vir olie en gas. Die meeste Suid-Afrikaners vrees selfs dié proses.
Só sê die Amerikaanse olie-en- gasmaatskappy Rhino Oil and Gas in sy voorimpakverslag vir sy beoogde soektog na onder meer olie en gas in groot dele van die Vrystaat en KwaZulu-Natal (KZN). Dié verslag is gister vir kommentaar gepubliseer.
Die omgewingskonsultante SLR Consulting, wat die verslag namens Rhino Oil and Gas opgestel het, sê dié maatskappy doen by die Petroleum-agentskap van Suid-Afrika aansoek om op 773 259 ha na onder meer olie, konvensionele gas en helium te soek. Die gebied sluit 4 270 eiendomme in.
Volgens SLR gaan die maatskappy aanvanklik net lugopnames doen om vas te stel of daar petroleumbronne in die gebied is wat dalk later ontgin kan word. Die maatskappy het onderneem om geen lugopnames oor mense se huise of natuurreservate te doen nie.
Luidens die verslag is Rhino Oil and Gas verplig om ’n omgewingsimpakproses te volg. Dit moet aan die departement van minerale bronne en energie voorgelê word vir omgewingsgoedkeuring.
’n Landmeter wat deur die applikant aangestel is, het vasgestel die gebied behoort onder meer aan private mense, trusts, maatskappye, gemeenskapsorganisasies, staatsinstellings en verskeie regeringsdepartemente. Dit sluit strategiese waterbronne vir die Bo-Middel-Vaal en die Thukela-opvangsgebiede (die Sterkfonteindam) in.
In die gebied is ook goed ontwikkelde plase en baie van dié aktiwiteite is van grondwater afhanklik. Dit sluit ook die Drakensberg in.
“Dié berg is bekend vir sy natuurskoon. Dis ’n toerismebestemming wat ’n groot inkomste verdien. Dit is ryk aan biodiversiteit en bestaan uit verskeie natuurreservate.” Luidens die dokument is landbou en toerisme in die gebied geheel en al van die natuurlike kapitaal en ekostelsels afhanklik.
In die afdeling oor die noodsaaklikheid vir die projek, sê SLR: “Die regering het verskeie planne om hernubare energiebronne te bevorder en klimaatsverandering teen te werk. Terselfdertyd toon dié planne en beleid fossielbrandstowwe sal steeds gebruik word om aan die vraag te voldoen. Die regering moedig daarom die ontdekking en ontginning van minerale en petroleum aan.”
SLR sê dié maatskappy het tot dusver sowat 50 briewe van belanghebbendes oor die projek ontvang. Die meeste mense teken beswaar aan en wil toesien dat dit van meet af aan gestaak word. Van hulle meen as olie of gas gekry word, sal Rhino Oil and Gas se projek tot volskaalse ontginning oorgaan en dit sal die gebied se grond en water vernietig. Hulle vrees dit sal toerisme en landbou op hul knieë dwing.
Hierop antwoord SLR dat Rhino Oil and Gas geen waarborg het dat die departement van minerale bronne sy omgewingsimpakstudie sal goedkeur nie.
* Belanghebbendes het tot 30 November om op die verslag kommentaar te lewer. Rhino Oil and Gas het sy planne om lugopnames van Normadien Farms in die noorde van KZN te maak onlangs ná ’n reeks regsaksies laat vaar. Dié maatskappy het regte bekom om wes van Kaapstad in die Atlantiese Oseaan oor ’n gebied van 12 070 km2 na olie en gas te soek. Dit is nie duidelik wat die status van dié projek is nie.
Hy het ook die regte bekom om langs die Namibiese kus in ’n gebied van 17 394 km2 na olie en gas in die see te soek. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie