Maatskappye doen nu00f3g stappe teen covid-19
Maatskappye doen nu00f3g stappe teen covid-19

Maatskappye doen nóg stappe teen covid-19

Google, Twitter, Facebook en verskeie ander internasionale maatskappye het in die laaste 24 uur stappe aangekondig om die verspreiding van covid-19 te probeer keer.

Teen Dinsdagoggend (Suid-Afrikaanse tyd) was daar 90 893 bevestigde gevalle van die virus wêreldwyd, insluitend 100 in Amerika.

Twitter het in ’n ongekende stap al sy werknemers gevra om vir tyd en wyl van die huis af te werk.

Die maatskappy raai al 5 000 sy werknemers, ook dié in Amerika, aan om eerder tuis te bly terwyl die virus wêreldwyd al hoe vinniger versprei.

Sy werknemers in Hongkong, Japan en Suid-Korea het egter geen keuse nie en móét tuisbly, sê Twitter in ’n inskrywing op sy korporatiewe blog.

Facebook het hom Maandag aan vanjaar se South by Southwest- (SXSW) fees onttrek weens kommer oor die nuwe coronavirus. Dit is een van Amerika se grootste musiek- en tegnologiefeeste.

Ses Amerikaners is reeds weens die virus dood.

Tot dusver gaan SXSW voort, al het Facebook hom onttrek. Meer as 20 000 mense het egter ’n petisie onderteken en eis dat die fees gekanselleer word.

Facebook het vroeër vandeesmaand ook sy jaarlikse konferensie vir programmeerders in San Francisco gekanselleer.

Google se afdeling vir wolkbergingsdienste, Google Cloud, het ook sý volgende groot konferensie gekanselleer.

KANSELEER KONFERENSIE

Google Cloud Next sou van 6 tot 8 April in San Francisco plaasvind. Die konferensie lok gewoonlik meer as 30 000 besoekers.

“Die gesondheid en welstand van Google se vennote, kliënte, werknemers en die gemeenskap is ons topprioriteit,” het die tegnologiereus Maandag in ’n verklaring gesê.

“Weens die groeiende kommer oor covid-19 en in ooreenstemming met beste praktyk soos uiteengesit deur die Wêreldgesondheidsorganisasie en ander entiteite, het Google besluit om Google Cloud Next te skuif.”

Hoewel die fisieke konferensie gekanselleer is, het Google besluit om dit tog digitaal aan te bied. Besoekers wat reeds kaartjies aangeskaf het, sal vergoed word en sal die konferensie gratis aanlyn kan volg.

Google het verlede week bevestig dat een van sy werknemers in sy kantoor in die Switserse hoofstad, Zürich, positief vir covid-19 getoets het.

Facebook, Twitter en Amazon het ook beperkings ingestel op oorsese reise na Italië, Japan, Suid-Korea en Iran – die lande wat naas China die swaarste deur die virus getref is.

Vrese oor die virus knou lugdienste met British Airways (BA) en die laekostelugdiens Ryanair wat honderde vlugte moes kanselleer omdat te min mense vlieg.

BA het meer as 400 vlugte tussen 16 en 28 Maart van Londen na verskeie internasionale bestemmings, insluitend New York, Rome, Parys, Wene, Antwerpen, Frankfurt en Dublin, gekanselleer.

Ryanair het duisende passasiers ingelig hul vlugte is gekanselleer nadat die lugdiens besluit het om sy vermoë tussen 17 Maart en 8 April met tot ’n kwart te verminder.

Die lugdiens het ’n “aansienlike afname” in die getal besprekings die afgelope paar weke gesien vir vlugte aan die einde van Maart en vroeg in April, vandaar die kansellasies. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!