Mag van groot 4 ouditeurs dalk gebreek
Mag van groot 4 ouditeurs dalk gebreek

Mag van groot 4 ouditeurs dalk gebreek

Riglyne word ontwikkel vir hoe firmas oudits saam kan uitvoer.
Die regering wil stappe doen om die oorheersing van die vier groot ouditfirmas in die land te verminder ná verskeie boekhouskandale die afgelope paar jaar.

Die land se grootste genoteerde maatskappye wil nie sommer die dienste van kleiner ouditfirmas gebruik nie omdat hul bedrywighede ingewikkeld is en oor verskeie lande versprei is.

Verskeie kleiner ouditfirmas is nou besig om personeel aan te stel in afwagting op nuwe regulasies wat die oorheersing van PwC, Deloitte, EY en KPMG kan beëindig.

Die bedryf is in beroering sedert laat 2017.

KPMG is toe betrek by pogings tot staatskaping deur die Gupta-familie. ’n KPMG-ouditeur het die Gupta-firma Linkway Trading se boeke gedoen. Dié firma het geld wat vir die Vrede-suiwelplaas in die Vrystaat bestem was, vir ’n uitspattige troue by Sun City gebruik.

KPMG is ook later betrek by die ineenstorting van VBS Mutual Bank omdat twee KPMG-werknemers op dié bank se direksie gedien het.

’n Derde KPMG-skandaal was ’n verslag wat in opdrag van Tom Moyane, vorige kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, opgestel is wat die wettigheid van ’n spesiale ondersoekeenheid bevraagteken. Die verslag is later onttrek omdat dit op vals inligting gegrond is.

Deloitte het op sy beurt deurgeloop onder kritiek omdat hy jare lank Steinhoff se boeke gedoen het en eers laat in 2017 agtergekom het bedrog van miljarde rande is gepleeg.

Deloitte was ook Tongaat Hulett se ouditeur. Boekhoubedrog is ook by dié firma gevind.

Bernard Agulhas, hoof van die Onafhanklike Reguleringsraad vir Ouditeure (Irba) sê dis nie staatskaping wat almal gedwing het om na die oormatige konsentrasie in die mark te kyk nie. “Daar is ’n groot gaping tussen die groot vier en ander firmas. Dis ’n groot probleem.”

Riglyne word nou ontwikkel oor hoe firmas oudits saam kan uitvoer ten einde middelgrootte maatskappye se vaardighede te verbeter en kleiner firmas aan te moedig om saam te werk aan groot mandate.

Vanaf 2023 word die verpligte rotasie van ouditfirmas elke tien jaar van krag.

Dion Shango, PwC se uitvoerende hoof vir Afrika, sê die ouditbedryf se grootste uitdaging is die herstel van vertroue. “Vertroue is ondergrawe en meer as ooit vantevore moet die bedryf fokus op gehalte ten einde daardie vertroue te herwin.”

KPMG het sy beeld probeer poets deur nuwe aanstellings op sy bestuur en direksie en bykomende lae verantwoordbaarheid in die ouditproses in te stel. Die firma se inkomste en personeel het met meer as ’n derde gedaal.

KPMG het sy beeld probeer poets deur nuwe aanstellings op sy bestuur en direksie en bykomende lae verantwoordbaarheid in die ouditproses in te stel. Die firma se inkomste en personeel het met meer as ’n derde gedaal.

Deloitte is baie kieskeuriger oor hoe hy potensiële kliënte kies.

Deloitte het al herhaaldelik gesê daar is geen bewys dat enige van sy personeel by die Steinhoff- of Tongaat-bedrog betrokke was nie en dat dit moeilik is om bedrog raak te sien.

Steinhoff se eksterne ouditeur is nou Mazars, ’n mediumgrootte firma in Suid-Afrika.

Anoop Ninan, mede- uitvoerende hoof van Mazars in Suid-Afrika, het ’n eenheid op die been gebring wat in finansiële dienste spesialiseer. Hulle werf tans personeel van die groot vier ten einde banke en versekeraars as kliënte te lok.

Ninan sê daar is ’n netwerk onder die groot vier omdat soveel plaaslike ouditeurs hul klerkskap daar gedoen het.

Mazars se inkomste het in 2019 met 12% geklim.

Ignatius Sehoole, uitvoerende hoof van KPMG, sê hulle is besig om een of twee kleiner firmas te kies vir gesamentlike oudits. Die bedoeling is om hulle te “koester en te ontwikkel”.

BDO hoop om kliënte te werf wanneer maatskappye hul ouditeurs moet verander, sê Mark Stewart, uitvoerende hoof. ’n Belangrike deel van sy strategie is om personeel op te lei om slaggate te identifiseer.

Inisiatiewe om ouditgehalte en onafhanklikheid te bevorder, het die maatskappy se wins met sowat 3% laat daal.

Tito Mboweni, minister van finansies, het onlangs in sy begrotingsrede gesê ’n paneel sal aangewys word om die ouditbedryf se praktyke te hersien en wetgewing te versterk wat oorsig sal verbeter.

“Nie elke onderneming se ondergang is ’n ouditprobleem nie,” sê Agulhas. “ ’n Deel van die regulerende reaksie is om bedrogrisikostandaarde te hersien om te kyk of daar van ouditeure verwag moet word om meer werk oor (die opsporing van) bedrog te doen.” – Bloomberg/Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!