Magashuleu2019n vlieg in CR se verkiesing-sop
Magashuleu2019n vlieg in CR se verkiesing-sop

Magashule’n vlieg in CR se verkiesing-sop

Ramaphosa se uitdaging is duidelik: Hy moet oortuigend die verkiesing op 8 Mei wen en ’n einde bring aan die Zuma-era van verwoesting en stroping.
Henry Jeffreys - Pres. Cyril Ramaphosa het welkome verligting gekry danksy die kredietgraderingsagentskap Moody’s se besluit om nie nou al ’n standpunt in te neem oor Suid-Afrika se soewereine skuldstatus nie.

Moody’s sou dit Vrydag bekend gemaak het, maar het aangekondig dat hy dit vir eers sal los, klaarblyklik tot ná die algemene verkiesing op 8 Mei.

Dit is onmiddellik vertolk dat die gradeerder wil kyk hoe Ramaphosa in die verkiesing sal vaar, ’n mosie van tydelike vertroue, wat nie te versmaai is nie.

Moody’s se besluit is ongelukkig gevolg deur onthullings die naweek oor die ANC-sekretaris-generaal, Ace Magashule, se vermeende aandeel in staatskaping. In ’n nuwe boek word beweer Magashule was of is deel van ’n staatskapingsnetwerk wat op groot skaal betrokke was by stropingsaksies in die Vrystaat toe hy nog premier was.

Magashule ontken die beweringe en dreig met regsaksie, terwyl die ANC dit afgemaak het as fopnuus en ’n georkestreerde joernalistieke komplot.

Die onthullings oor Magashule is ’n probleem vir Ramaphosa en die hantering daarvan kan ’n groot faktor in die graderingsagentskappe se opweging van die situasie in Suid-Afrika wees.

Want Magashule sit in die hart van Luthuli-huis, waar al die belangrikste besluite geneem en die intriges gesmee word. En naas die ANC-president is die pos van sekretaris-generaal die invloedrykste in die regerende party.

BRANDENDE BEGEERTE

Magashule is geen vriend van Ramaphosa nie. Hy is ’n groot ondersteuner van oudpres. Jacob Zuma, en het geen geheim daarvan gemaak dat hy ’n brandende begeerte het om Zuma se eksvrou, Nkosazana Dlamini-Zuma, in 2017 tot ANC-leier verkies te kry nie.

Ramaphosa moet egter nie op sy gemak wees oor Moody’s se besluit nie. Graderingsagentskappe wil meer aksie as retoriek sien oor die hervormings wat Ramaphosa al lank belowe.

Dit sluit in optrede teen ANC-hoës, soos Magashule, wat by korrupsie betrek word. Ramaphosa voel duidelik nog nie sterk genoeg in sy pos as ANC-leier om op te tree teen die senior kamerade in die binnekring van die ANC nie, wat die wêreld vir hom moeilik kan maak.

Hy moet onthou dat sy optrede teen Zuma iets is wat hom ook kan oorkom, terwyl sy mandaat nog so broos is. Hy moet dus seker maak dat hy ’n oortuigende mandaat op 8 Mei kry.

Ongelukkig is dit in ’n groot mate afhanklik van wat mense soos Magashule en sy adjunk, Jessie Duarte (ook ’n stoere Zuma-meeloper), met die verkiesingsveldtog doen.

ONDERMYNENDE PROBLEME SKEP

Hulle kan allerlei ondermynende probleme vir Ramaphosa skep. Hulle moet egter nie onderskat hoe hoog dit wat Ramaphosa verkondig, aanklank vind onder kiesers nie. Op sy beurt moet Ramaphosa dit nie oorskat nie.

Moody’s se besluit beteken nie Ramaphosa of die land is skielik op ’n goeie plek wat betref ons skuldgradering nie. Allesbehalwe.

Uit die drie groot internasionale graderingsagentskappe is dit net Moody’s wat ons skuld nog nie tot rommelstatus afgegradeer het nie. Dit kan in November, wanneer Moody’s na verwagting nog ’n mening sal uitreik, verander.

Ramaphosa se uitdaging is duidelik: Hy moet oortuigend wen op 8 Mei. Hy moet beslag gee aan die vele goeie beleidsuitsprake wat hy sedert die begin van die jaar gereelde uiter.

Wen hy die verkiesing, sal hy ’n kabinet moet saamstel met kundige, verdienstelike en eerlike ministers en adjunkte. Hy sal eenvoudig die rug van die ANC-kultuur van gunsies en baantjies vir boeties moet breek en ’n einde bring aan die Zuma-era van verwoesting en stroping.

Dit is nou tyd vir die Zuma-era om finaal te val. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!