Magstryd in Zim kan tot groter chaos lei
Die dinamika in Zimbabwe bly gevaarlik kompleks, delikaat gebalanseer en is ’n potensiële bedreiging vir vrede en stabiliteit in Suider-Afrika, skryf Pieter Labuschagne.
Pieter Labuschagne
Verwagtinge dat Zimbabwe ’n tydperk van voorspoed, stabiliteit en vrede sou binnegaan ná die dramatiese omverwerping van oudpres. Robert Mugabe en sy binnekring, was duidelik voortydig.
Pres. Emmerson Mnangagwa het verlede week sy besoek aan Rusland en Kazakstan kortgeknip en na Zimbabwe terugkeer.
Hy het aanvanklik beplan om ook die Wêreld Ekonomiese Forum se beraad in Davos, Switserland, by te woon, maar verslegtende omstandighede in Zimbabwe het sy besoek kortgeknip. Sy terugkeer is genoodsaak deur internasionale en nasionale druk nadat betogings in Zimbabwe teen die verhoging van 150% in die brandstofprys in geweld ontaard het.
Die weermag was weer prominent in die eskalering van die geweld en soldate het nie geskroom om skerp ammunisie te gebruik om betogers te bedwing nie. Helikopters is ook ingespan om traangas op betogers te spuit.
Twaalf mense is met die onderdrukking van betogings dood en 600 is in hegtenis geneem. Onder hulle tel burgerregteleiers soos past. Evan Mawarire.
Dit is kommerwekkende dat burgerregteleiers wat betogings gereël het, nie van oproer of iets soortgelyk aangekla is nie. Die aanklagte se formulering het tot die uiterste gegaan: opruiing en ’n poging om die regering omver te werp. Mense wat hieraan skuldig bevind word, kan tot 20 jaar tronkstraf opgelê word.
Mnangagwa het met sy terugkeer in Zimbabwe die burgerlike samelewing en die weermag oor die toename in geweld gekritiseer.
Dit is veral betekenisvol dat Mnangagwa die weermag aangespreek het vir die gebruik van uiterste metodes om die protesoptrede te onderdruk.
Die gebeure laat waarnemers en gewone mense wonder wat agter die skerms in Zimbabwe aangaan? Wat is die moontlikheid dat die geweld weer kan opvlam en selfs verder kan toeneem? En waarom het die aanvanklike verwagtinge en hoop vir vrede nie werklikheid geword nie?
Daar is na raming reeds bykans 2 miljoen Zimbabwiërs in Suid-Afrika wat van die ekonomiese verval en algehele wanorde in hul land gevlug het. As burgerlike onrus verder toeneem, kan ’n verdere eksodus suid oor die Limpopo plaasvind en vrede en stabiliteit in die streek ernstig bedreig.
Inligting dui daarop dat die magsbalans in Zimbabwe delikaat tussen Mnangagwa se gematigde groep en die meer militante groep oud- militêre leiers onder visepresident Constantino Chiwenga gebalanseer is. Dié potensieel plofbare situasie word verder gekompliseer deur Mnangagwa en Chiwenga se betrokkenheid by mededingende petroleumgroepe.
Die politieke en ekonomiese situasie en die botsing van belange skep ’n gevaarlike en plofbare mengsel en dit sal nie veel neem om dit te laat ontbrand nie.
Zimbabwe en Suid-Afrika
Die ontstellende werklikheid in Zimbabwe is dat die kabinet, net soos die geval in Suid-Afrika is, uit twee sterk kampe bestaan. Dié polarisasie kan die kabinet en selfs Zanu-PF laat skeur. Dit kan Zimbabwe oor die afgrond stoot.
Pres. Cyril Ramaphosa het plaaslik die onbenydenswaardige taak om ’n radikale faksie onder Ace Magashule (sekretaris-generaal van die ANC) binne die regering en die party te hanteer. Ramaphosa moet deurentyd ’n balanseertoertjie uitvoer om nie net die opponerende faksies bymekaar te hou nie, maar ook om die kabinet van radikales te suiwer. Hy kan egter nie té drasties optree nie, omdat die radikale groep sy posisie kan ondermyn.
In Zimbabwe is daar soortgelyke polarisasie tussen Mnangagwa se faksie en dié van Chiwenga.
Chiwenga was waarnemende president tydens Mnangagwa se besoek aan Rusland. Hy was in beheer tydens die betogings in Harare en Bulawayo toe skerp ammunisie gebruik is om mense by ’n gewone burgerlike protesaksie uitmekaar te jaag.
Die politieke dinamika in Zimbabwe kan net begryp word deur te kyk na die maande voor Mugabe se gedwonge bedanking. Mugabe het gedurende die tydperk, onder druk van sy vrou, Grace, van Mnangagwa as sy visepresident ontslae geraak.
Mnangagwa het nie ’n sterk genoeg magsbasis gehad om sy afdanking te beveg nie, terwyl Mugabe steeds ’n sterk greep oor sy lojaliste in die binnekring en die polisie gehad het. Die enigste bron van mag buite die invloedsfeer en direkte beheer van Mugabe, was die weermag.
Die eerste tekens dat ’n omwenteling besig was om plaas te vind was toe ’n weermagtenk die strate ingerammel het. Die bloedlose staatsgreep is deur die leierselement in die weermag beplan; mense waaroor Mugabe min beheer gehad het. Die polisie was altyd lojaal aan hom en is as sy stormtroepe gebruik, maar hulle was magteloos teen die ystervuis van die weermag.
Chiwenga, wat die bloedlose staatsgreep gelei het, het die skyn probeer skep dat dit ’n legitieme daad was om die verslegtende situasie in die land om te keer. Die emosionele steun van die gewone burgerlikes, wat in groot getalle in die strate saamgedrom het, was die soort van legitimering waarop Chiwenga en sy kollegas in die weermag gehoop het.
Die meeste buitelandse waarnemers het egter besef dat die weermag die staatsgreep uitgevoer het. Mugabe is in die openbaar verneder en met weermaglede, in volle uniform rondom hom, gedwing om sy bedanking te lees. Die druk wat op hom uitgeoefen was, kon nie misgekyk word nie.
Chiwenga was duidelik in beheer, maar het berekenend strategies opgetree en toegelaat dat Mnangagwa die beheer van die regering en die party oorneem. Hy het egter seker gemaak dat die nuwe regering in samewerking met sy weermagkliek optree sodat hy steeds ’n sterk houvas op mag in die land kon behou.
Die verkiesing van 2018 het die status quo van die nuwe magshebbers bevestig. Die legitimiteit en die regverdigheid van die verkiesing is egter sterk deur die opposisieparty, die MDC, asook ander burgerregtegroepe in die land bevraagteken.
Die twee kampe in die Zimbabwiese kabinet
Chiwenga het seker gemaak dat hy ’n sterk ondersteuningsgroep in die kabinet het met oudweermaggeneraals as ministers. Genl. Sibusiso Moyo, wat die verklaring ná die weermag se ingryping voorgelees het, is die minister van buitelandse sake en het ook danksy sy vrou, regter Loice Matanda Moyo, bande met die regswêreld.
Chiwenga word ook in die kabinet deur oudgenl. Perence Shiri, minister van landbou en plaaslike ontwikkeling, ondersteun. Shiri se hande drup van bloed, vanweë sy leierskap en aandeel in Gukurahundi-veldtog toe bykans 20 000 mense in Matabeleland vermoor is.
Genl. Winston Chitando, ’n vertroueling van Chiwenga, is as minister van mynwese aangestel. Chitando het na bewering baie noue bande met dr. Priscilla Chigumba, die direkteur van die Zimbabwiese verkiesingskommissie. Chigumba se hantering van die verkiesing en haar objektiwiteit het kwaai onder skoot van die MDC gekom.
Mnangagwa het probeer om sy houvas op mag binne die kabinet te versterk deur die aanstelling van ministers wat hom steun. Die meer onlangse aanstellings was dié van Oppah Muchinguri (minister van verdediging), July Moyo (minister van plaaslike regering) en Joram Gumbo (minister van energiesake).
Die stryd om die beheer van brandstof
In Zimbabwe, nes in Suid-Afrika, word die hoofteks van die politieke drama gekompliseer deur ’n subteks wat bykomende druk op verhoudinge in die kabinet plaas.
Die stryd tussen die twee faksies het ook ’n ekonomiese kinkel.
Dit het alles te doen met brandstof. Die regering koop brandstof omdat handelaars nie die nodige buitelandse valuta het om dit te doen nie.
Chiwenga het baie noue bande met die sakeman en skatryk entrepreneur Kudakwashe Tagwirei. Hy is uitvoerende hoof van Sakunda Holdings, wat met oliepypleiding tussen Beira en Mutare beheer.
Mnangagwa word verbind met ’n tweede beoogde pyplyn wat ná voltooiing 500 miljoen liter brandstof per dag van Beira tot by Bulawayo en selfs Botswana kan pomp. Mnangagwa is ook ten gunste van die Suid-Afrikaanse maatskappy Mining Oil and Gas Services (Mogs) wat brandstof via Trek Petroleum en Engen in Zimbabwe verskaf.
Mogs ding egter mee met Sakunda Holdings.
Die stryd om die beheer oor die verspreiding van brandstof en die moontlikheid van ’n tweede pyplyn stel die militêre faksie dus direk teenoor die meer gematigde groep van Mnangagwa. Die plundering van staatsbronne vir eie finansiële gewin is dus ’n verdere strydpunt tussen die twee groepe en hou heelwat konflikpotensiaal in.
Dit het die potensiaal om die delikate balans, stabiliteit en vrede in Zimbabwe te versteur. Dit is 'n potensieel plofbare situasie wat niemand oorkant die Limpopo wil sien ontvou nie.
* Pieter Labuschagne is emeritusprofessor in politieke wetenskap aan Unisa. - Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie