Magsvergrype ry CoW

Betrekkinge by die beleërde plaaslike owerheid is opnuut op die spits gedryf.
Denver Kisting
Jemima Beukes en Denver Kisting – Die verdeeldheid binne die leierskap van die City of Windhoek (CoW) dreig om dié plaaslike owerheid oor die afgrond te stuur.

Beweerde magsvergrype – aan die hand van die stadspolisiehoof, mnr. Abraham Kanime en sommige Swapo-raadslede en bestuurslui – het die CoW opnuut in ’n krisis gedompel.

Dié nuus kom te midde van onthullings dat raadslede maandeliks tussen N$30 000 en N$40 000 verdien.

Hiernaas kry hulle vir elke vergadering na wat verneem word sowat N$1 000 en verdien ’n maandelikse vervoertoelaag van tussen N$3 000 en N$4 000.

Ondanks dié vervoertoelaag maak raadslede glo van raadsvoertuie gebruik om na raadsake om te sien.

Kanime is glo onlangs onregmatig aangestel nadat hy bedank het en kort voor hy 60 jaar oud geword het.

Dié kwessie dien tans voor die hoërhof.

Om daardie rede is hy nie by magte om daarop kommentaar te lewer nie, sê mnr. Robert Kahimise, die uitvoerende hoof van CoW.

Gesaghebbende bronne binne CoW skets ’n prentjie van twee magsentra wat aan die orde van die dag is.

Na wat betroubaar verneem word is ’n waarnemende uitvoerende hoof, senior superintendent Paukeni Titus, aangestel om oor Kanime se aanstelling waak te hou toe Kahimise nie hiervoor te vinde was nie.

Boonop was dit nie die enigste beweerde onregmatige menslike hulpbronproses wat tydens dié vergadering bekragtig is nie, word op goeie gesag verneem.

Twee strategiese hoofde – dié van menslike kapitaal en korporatiewe dienste, mnr. George Mayumbelo, en dié van infrastruktuur, water en wetenskaplike dienste, mnr. Ludwig Narib, – se status is van permanent na vaste kontrakte verander tot met hul aftrede en op ’n salariskerf van 75% van hul salarisskaal.

Na wat verneem word, is dít ongehoorde praktyk.

Narib het die afgelope week by navraag onkunde gepleit.

Volgens hom is hy die afgelope twee weke met verlof. “Ek is op die plaas met verlof. Ek is nie oor dié verwikkelinge ingelig nie. Wat die raad ook al besluit, word as vertroulike inligting hanteer. Dit is vir my nuus.”

Narib het ook gesê hy dra geen kennis van die betaling van nagenoeg N$900 000 aan hom nie.

Hy het verdere navrae aan die woordvoerder en uitvoerende hoof verwys.

Die voorsitter van die raad se bestuurskomitee, mnr. Moses Shiikwa, sê hy is slegs die voorsitter en kan net aanbevelings aan die raad maak. “Individue neem nie besluite nie.”

Die huidige burgemeester, me. Fransina Kahungu, steun na wat verneem word nie Kanime en kie se beweerde pogings om CoW soos ’n kleinhandelaar te bedryf nie.

Kahungu is daarom verlede week tydens ’n buitengewone raadsvergadering met haar adjunk, mnr. Ian Subasubani, vervang om namens CoW in Kanime se geding beëdigde verklarings af te lê.

Subasubani het Dinsdagoggend by navraag dié verwikkeling erken.

Maar, voer hy aan, dit was nie sy besluit nie.

Hy het “natuurlik” die besluit verwelkom en aanvaar die bestuurskomitee het “hul wysheid gebruik”.

Die adjunkburgemeester sê hy kan ook nie reageer op vrae oor hoekom Titus as waarnemende uitvoerende hoof aangestel is nie.

Subasubani ontken twee verskillende magsentra regeer tans vir CoW. “Nee, glad nie. Dit hang af wat jy daarmee bedoel.”

Volgens hom bly Kahungu as burgemeester die hoof van die instelling.

Oor die vergoeding van raadslede sê Subasubani: “Dis; ek bedoel toelaes is daar.”

Hy kan egter nie die bedrae bevestig nie omdat hy dan oor “ander mense se vergoeding” sal praat. Hy het egter toegegee dat die tersaaklike bedrae in die kol is.

Titus het gistermiddag erken hy is steeds die waarnemende uitvoerende hoof ondanks die feit dat Kahimise ook in die tuig is.

Volgens hom is die raad by magte om ’n waarnemende uitvoerende hoof aan te stel as die posbekleër nie al of ’n gedeelte van sy of haar verantwoordelikhede kan nakom nie.

Titus het ook erken hy was teenwoordig tydens die onlangse raadsbesluit toe daar oor Kanime, Narib en Mayumbelo se diensvoorwaardes besin en besluit is.

Kanime het Dinsdag ook onkunde gepleit oor die twee magsfaksies. “Ek is nie bewus daarvan nie.”

Hy wou nie verder kommentaar lewer nie.

“Onthou, ek het nie die reg om oor personeelaangeleenthede met die media te praat nie.”

Kahimise het nadat hy om kommentaar genader is, die verwikkelinge rondom die strategiese hoofde se diensvoorwaardes bevestig maar beklemtoon dit is ’n vertroulike personeelaangeleentheid.

“Dit kan egter bevestig word alle strategiese hoofde is op ’n vyfjaar-vastetermynwerkkontrak behalwe die twee strategiese hoofde wat vastetermynkontrakte tot aftrede aangebied is met terugbetalings tot 2017. Dit is deur die bestuurskomitee en die raad besluit – teenstrydig met die uitvoerende hoof se raad.”

Volgens hom is dié besluit teenstrydig met die doelwit van prestasie-aansporing. Boonop stel dit die raad wat ’n openbare instelling is, befonds deur publieke fondse, bloot aan onnodige finansiële risiko’s, het hy gewaarsku.

Vertroulik word verneem die twee mans het gemiddeld N$947 532.44 ontvang in “agterstallige lone”.

Oor raadslede wat ’n vervoertoelaag ontvang én van raadsvoertuie gebruik maak, sê die uitvoerende hoof: “Die vervoertoelaag is bedoel om raadslede in staat te stel om hul pligte in Windhoek uit te voer. Derhalwe moet raadslede nie raadsvoertuie gebruik nie mits dit vanweë afstand en terrein geregverdig is.”

Kahungu het die afgelope week nie haar foon geantwoord nie.
- [email protected]/[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!