Makkers gaan soek beendere in Angola

Jaco Nel - Andries (Skillie) Human van Alberton het op 4 Mei 1978 in Angola met sy wapen in sy hande geklem uit ’n Hercules gespring, al het hy die vorige dag voorspel hy sou sterf. Toe verdrink hy in die Culonga-rivier. y oorskot was skoonveld tot die dag toe ’n staaltjie aan ’n toeris in die gebied vertel is deur ’n Angolees wie se pa lank, lank gelede ’n Suid-Afrikaanse parabat in sy eie valskerm begrawe het. Nou, 40 jaar ná die dapper valskermsoldaat se dood, gaan sy makkers Skillie se beendere haal om dit huis toe te bring.

Sy sprong het gebeur tydens die Slag van Cassinga, ’n omstrede aanval met amper 400 Suid-Afrikaanse valskermsoldate op ’n Swapo-kamp. Swapo het vir jare volgehou dit was eintlik ’n vlugtelingekamp, maar die SANW het geglo hulle het guerrillavegters daar opgelei. Human is laas lewend gesien toe hy saam met 366 makkers uit ’n Lockheed C-130 Hercules gespring het. Die manne het in ’n radius van etlike honderd meter geland. Human het in die Culonga-rivier geval. “Eers daardie aand, by die Cassinga-weermagbasis, het ons besef Skillie is weg,” sê Mike McWilliams (67), president van die Parabats Veterans Organisation (PVO), wat ook op 4 Mei gespring het. Human is twee jaar later dood verklaar sodat sy lewensversekeringspolis kon uitkeer.

Lank ná die oorlog het Angola se regering toegestem om oorlogveldtoere by Cassinga te hou. “ ’n Jong man in dié area het vir ’n toeris vertel van sy pa wat ’n Suid-Afrikaanse parabat in sy eie valskerm begrawe het,” sê McWilliams. Twee jaar gelede het ’n Namibiese toergroep dié jong man se pa, slegs bekend as Headmaster Culonga, ontmoet. Headmaster het vir hulle die graf gewys en het selfs vertel hoe Swapo se soldate eers op Human se wapens beslag gelê het.

Daarna is hy beveel: “Begrawe die man.” Lede van die toergroep kon GPS-koördinate bevestig en het dit aan McWilliams verskaf.

McWilliams en sy kamerade beplan om in Junie vir Skillie te gaan haal. - Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!