Makliker egskeidings, minder geslagsgeweld
Makliker egskeidings, minder geslagsgeweld

Makliker egskeidings, minder geslagsgeweld

Die wetgewing op egskeidings gaan moontlik binnekort verander word om die proses eenvoudiger en goedkoper te maak.
Sanet de Waal
Jana-Mari Smith – Die hoë finansiële en emosionele koste verbonde aan egskeidings in Namibië kan binnekort verlig word indien 'n voorgestelde gewysigde wets­ontwerp op egskeiding later vanjaar ingedien en bekragtig word.

Die ministerie van justisie het onlangs bevestig hulle is van plan om 'n wysigingswetsontwerp in Julie vanjaar by die Nasionale Vergadering (NV) in te dien.

'n Wysigingswetsontwerp op egskeidings word sedert 2016 beplan.

Indien dit uitgevaardig word, sal die huidige wet – wat as argaïes en potensieel skadelik beskryf word aangesien dit ongelukkige paartjies vasgevang hou in huwelike wat versuur het of gewelddadig is – hersien word.

Die huidige ingewikkelde en duur egskeidingsprosedures veroorsaak 'n ondeurdringbare versperring en hou mense vasgevang in ongesonde en gevaarlike huwelike.

“Egpare wat nie die nodige finansiële middele het om 'n skeisaak aanhangig te maak nie, kan gedwing word om getroud te bly selfs al woon hulle apart,” waarsku 'n Sister Namibia-verslag getiteld “Divorce in Namibia: A Real Struggle”.

Me. Dianne Hubbard van die Legal Assistance Centre (LAC) het verduidelik “die huidige ingewikkelde wetgewing dra by tot gesinsgeweld, omdat mense in ongelukkige of gewelddadige verhoudings vasgevang is.”

Daarbenewens kan paartjies wat weens die hoë koste besluit om getroud te bly nie eiendomskwessies afhandel nie en word kinders deur hierdie giftige verhoudings benadeel.

In 2013 het regterpresident Petrus Damaseb die land se egskeidingswet as “argaïes” beskryf en gesê “dit is amper nie denkbaar om vrugbaarder grond vir gesinsgeweld te kry nie.”

Hy het toe al gesê dié wet moet dringend hervorm word.



VERANDERINGE

Egskeidings kan tans slegs by die hoërhof in Windhoek gedoen word, wat vereis dat elke party 'n duur prokureur moet bekom en die ander die skuld moet gee.

Die nuwe wet sal glo op 'n foutlose stelsel gebaseer word, waarin partye onversoenbare verskille as die rede vir die beëindiging van hul huwelik kan gee.

Die nuwe wet beoog om die behoefte aan prokureurs te verminder en bied die opsie om 'n egskeiding deur papieraansoeke te verkry, in plaas daarvan om persoonlik in die hof te verskyn.

Onbetwiste egskeidings in Namibië kos tans minstens N$10 000 tot N$13 000, maar die koste kan tydens betwiste en uitgerekte egskeidings vinnig toeneem.

Die ministerie van justisie het onlangs verduidelik hoewel die egskeidingswetsontwerp in beginsel die kabinet se goedkeuring ontvang het, vereis dit steeds die kabinets­komitee vir wetgewing (CCL) se goedkeuring.

“Die ministerie van justisie en die kantoor van die regbank is steeds in interne konsultasie voordat verdere openbare konsultasies gevoer kan word om te verseker die wetsontwerp is prakties en die doelstellings vir 'n maklike, koste-effektiewe hofproses word bereik.”



OU WETTE WORD HERSIEN

Buiten vir die hervorming van Namibië se verkragtings-, gesinsgeweld- en egskeidingswet, werk die ministerie van justisie ook aan 'n eenvormige wetsontwerp op huwelikseiendom, wat die ministerie in Junie vanjaar in die NV sal voorlê.

Volgens die LAC sal hierdie wetsontwerp “aanhoudende rassediskriminasie in die reëls vir huweliks­eiendomstelsel uit die weg ruim”.

Volgens die huidige wet wat van krag is – die Inheemse Administrasie Proklamasie 15 van 1928 – is daar volgens die LAC “een standaardstelsel vir swart mense in sekere dele van die land en 'n ander vir die res”.

Die wetsontwerp sal om binne gemeenskap van goedere getroud te wees die standaardstelsel maak vir almal wat in 'n burgerlike huwelik tree.

Volgens die ministerie van justisie is die huwelikswetsontwerp in 2019 deur die kabinet en in Oktober 2020 deur die CCL goedgekeur.

Finale wysigings is aan die wetsontwerp aangebring en die ministerie van justisie beplan om dit in Junie vanjaar by die NV in te dien.

Die ministerie van justisie het bevestig die wetsontwerp op burgerlike registrasie is ook aan die CCL vir goedkeuring voorgelê.

“Dit maak ook bevredigende vordering in ooreenstemming met die wetgewingsproses,” het die ministerie gesê.

Hierdie wetsontwerp sal dit makliker maak vir enkelouers van beide geslagte om die geboorte van hul kinders te registreer en sal ook kinders help wie se ouers nie dokumentasie het nie en staatloos is.

 - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!