Mal oor beweeg
Karin Brockmann het haar eerste fiets gekoop en agt maande later die Desert Dash klaargemaak.
“Kort voor my 30ste verjaardag het my kêrel my gevra wat ek nog alles graag wil doen. Op my lys was karateklasse en hy het my ingeskryf.
“Nege-en-twintig jaar later het ek my vyfde dan swartgordel verwerf en is een van net twee vroue in die geskiedenis van Okinawa Goju-Ryu Karate Namibia (OGKN) wat dit kon regkry,” vertel Karin Brockmann.
Karin is in Duitsland gebore en het op negejarige ouderdom saam met haar ouers en broer na Namibië verhuis.
“My broer was ’n asmalyer en my ouers het na ’n plek met ’n droë klimaat gesoek. Hulle het iemand ontmoet wat hulle van Namibië vertel het en die besluit is geneem om te migreer.”
Ná skool het sy in Potchefstroom as apteker gaan studeer voordat sy teruggekeer het.
KARATE
“My destydse kêrel Rufus het my gevra wat ek nog wil doen.
“Ek het gesê ek wil die gorillas in sentraal-Afrika gaan sien, valskermspring en karate leer.
“Ek het die gorillas gesien en uit ’n vliegtuig gespring en is in 1991 by Goju-Ryu vir klasse ingeskryf. Ek het al van kleins af van karate gehou. Ek het dit fassinerend gevind, maar op skool het jy aan skoolsport deelgeneem en dit was dit.”
Aanvanklik het sy gedink sy kan nie nou met karate begin nie, maar nadat sy bewus geword het ’n mens kan rêrig enige tyd en op enige ouderdom begin, het sy die eerste klas gaan bywoon en het sommer vinnig versot daarop geraak.
“Daar is veel meer aan die sport as net in die klas staan en bewegings uitvoer. Die tradisies en geskiedenis agter dit . . . ek wou meer en meer van dit weet. Ek het geld gespaar en was twee keer in Okinawa, die geboorteplek van karate, om meer uit te vind oor die holistiese sport wat die verstand en liggaam gebruik.”
In 2009, nadat sy haar vierde dan behaal het, het sy opgehou om aktief aan karate deel te neem. Sy het haar toegespits om haar kinders groot te maak en ’n paar jaar later nadat sy haar eie apteek gekoop het op haar besigheid gekonsentreer.
In 2014 het sy weer klasse begin bywoon.
“Aan die begin van die jaar het ek die uitnodiging ontvang om vir die vyfde dan gegradeer te word.”
Vir hierdie seldsame mylpaal word karateka nie net op hul kata-tegniek (stylvertoon) beoordeel nie. Hulle moet ook ’n opstel skryf oor ’n tema wat aan hulle toegeken word.
“My tema was ‘Wat is die wese van Goju-Ryu en hoe oefen jy om dit te bereik?’”
“Ek het baie navorsing gedoen en dit het my belangstelling in die sport opnuut wakker gemaak. Die gradering self was weens Covid-19 virtueel, wat vir my nogal ’n skrikwekkende ervaring was.
“Ek was die enigste kandidaat uit Namibië en dus die enigste op ’n skerm; die ander ses was in Suid-Afrika en hulle was almal bymekaar.
“Gewoonlik beoefen jy karate in ’n groep en nie alleen nie, maar ek het dit gedoen en die aand die oproep ontvang dat ek geslaag het. Ek is baie bly daaroor en is nou nog meer as voorheen gemotiveer om aan te gaan so lank soos ek kan.”
FIETSRY
Karin is ook ’n ywerige fietsryer wat die Desert Dash reeds vyf keer voltooi het.
“Dit is ook so ’n snaakse storie. My kinders was baie by waterski betrokke en die een aand ses jaar gelede sit ek en hul afrigter van Engeland by die huis en drink wyn en gesels. Dit was net voor die Desert Dash. Ek sê toe vir hom ek hou van die spangees van die fietsryers wat by my apteek inkom.
“Hy antwoord toe, ‘dan ry ons twee volgende jaar die Dash saam’. Ek het in April van daai jaar my eerste fiets gekoop en in Desember die Dash vir die eerste keer gery.”
Van fietse of fietsry het sy niks geweet nie. Sy het by ’n fietswinkel ingestap en toe die man agter die toonbank haar vra padfiets of bergfiets, kon sy nie eens antwoord nie.
“Die betrokke afrigter kon nie weer Namibië toe kom nie en ek het saam met ’n vrou van Walvisbaai my eerste Dash gery. In November, voor die Dash, het ek vir die eerste keer die Kupferbergpas gery en amper doodgegaan. Ek kon nie die berg op kom nie.
“Dit is toe ek my kop reggekry en harder begin oefen het. Ek en sy is betyds oor die eindstreep (Windhoek na Swakopmund, binne 24 uur) en ek het dit intussen nog vier keer as lid van ’n span van twee of vier gedoen.”
Sy het ook al die Kaapstad-padfietstoer etlike kere gery en neem gereeld aan plaaslike fietswedrenne deel.
“Ek is mal daaroor om te beweeg en goed te doen wat vir my lekker is.”
DRIEKAMP
“Ek wou so graag aan ’n Ysterman-kompetisie deelneem waar jy lang afstande swem, fietsry en hardloop. Dit het vir my so lekker gelyk om dit te doen.
“So twee jaar gelede het ek met triathlon begin en laas jaar het ek aan die Halfysterman in Durban deelgeneem en klaargemaak.
“Dit is alles vir my baie lekker. Ek het nie regtig ’n oefenprogram nie, behalwe voor ’n kompetisie waar ek ’n program het en volg. Maar ek sien alles as oefening. Wanneer ek met die honde gaan stap, oefen ek hardloop. Wanneer ek met vriende op die plaas fietsry, is dit oefen vir ’n kompetisie.
“Dit is net swem waaroor ek nie so mal is nie en daarvoor moet ek doelbewus tyd maak om te oefen.”
Karin is seker dat solank sy gesond is, sy nog talle dinge in haar lewe sal vind wat haar sal interesseer en dit sal aanpak.
“Ek het ook ’n duikkursus gedoen en in Griekeland en Bali gaan duik. Wat ek wel ook nog wil doen, is om Kilimanjaro en Machu Picchu uit te klim. Ek is mal daaroor as ek iets interessants kan sien en goed leer terwyl ek beweeg.”
“Jy kan eintlik alles doen wat jy wil solank jy dit wil doen en dit vir jou lekker is. Alles wat jy doen, moet jy vir jouself doen en nie vir ander nie. Vat jou tyd en wees realisties; dit help nie jy begin iets en wil in ’n week nommer een wees. Doen alles op jou tyd, vir jouself en vir die pret daarvan.”

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie