Mamma se kindjie of weggooibaba?
Mamma se kindjie of weggooibaba?

Mamma se kindjie of weggooibaba?

Tanja Bause
Tanja Bause - Zia is gebore en is nou al besig om lekker groot te word.

Al wat sy soek, is kos, ’n skoon doek, Mamma se liefdevolle arms, ’n vol maag en ’n snoesige bedjie.

Wanneer Mamma haar versmoor met soentjies en aandag, helder haar gesig op, glimlag sy van oor tot oor en maak sy oulike geluide.

Sy is ’n baie gelukkige baba – nie net omdat sy genoeg kos, ’n warm bed en baie liefde het nie, maar ook omdat sy ’n mamma het wat haar baie lief het en wat haar as die geskenk wat sy is, sien en waardeer.

Ek skryf gereeld oor die Namibiese polisie se misdaadverslag wat ná ’n naweek uitgereik word.

Verlede week het ek weer geskryf oor ’n ma wat haar pasgebore baba in ’n doek toegedraai het en in die bosse langs ’n wandelpad in die noorde van die land weggegooi het.

Ek kan nie onthou oor hoeveel weggooibabas ek al in die verlede geskryf het nie.

Elke keer is dit dieselfde: Die gemeenskap staan rond en is kwaad, die man van die lykshuis en die polisiebeamptes is al so gewoond daaraan om pasgebore babas, fetusse en babas wat kort ná geboorte vermoor is, te sien dat hulle die klein lyfies met baie min respek dikwels net in ‘n plastieksak sit en agter in die polisiebakkie gooi.

Daar is ’n organisasie vir kwesbare kinders op Tsumeb wat ’n beroep op vroue gedoen het om die babas wat hulle nie wil hê nie, na hulle toe bring. Nou word hulle met oproepe van oraloor die land oorweldig van vrouens wat geboorte geskenk het en nie hul kinders wil hê of nie vir hulle kan sorg nie.

Ek verstaan die omstandighede is dikwels moeilik en die armoede is groot, maar wat het van voorbehoeding geword? Die inspuiting en ander vorme van voorbehoeding is immers verniet by enige staatskliniek in die land.

Babas en kinders het nie gevra om hier te wees nie. Dit is jy as ma wat hulle in die wêreld ingebring het, welwetende wat kan gebeur as jy seks het.

So, dit is jou verantwoordelikheid as vrou om voorsorg te tref as jy weet jy kan of wil nie vir die baba sorg nie.

As jy dit nie doen nie, word die baba iemand anders se probleem, of jy gooi hom of haar eenvoudig soos ’n leë koeldrankbottel weg.

Aan die ander kant is daar ook mammas wat enigiets vir hul kinders sal doen. Mammas wat ook in moeilike omstandighede bly en wat arm is.

Mammas wat kinders met spesiale behoeftes het en uit hul pad gaan om die kind elke dag by ’n dagsorgsentrum te kry sodat die kind verskillende terapieë kan ontvang om hom of haar lewe bietjie makliker te maak.

Dié mamma het nie besluit om haar gestremde kind weg te gooi nie, maar sy het besluit om verantwoordelikheid te neem en alles in haar vermoë te doen om haar kind die beste moontlike lewe te gee.

Dit is ’n mamma wie se oë blink wanneer haar vierjarige kind ná baie spraakterapie haar eerste woord uitspreek.

Hoe is dit moontlik dat dié twee tipes ma’s bestaan? Die een doen alles in haar vermoë om haar kind tot die beste van haar vermoëns groot te maak, en die ander een sien nie kans vir iets waaraan sy lewe geskenk het nie.

Hoe is dit moontlik dat twee verskillende vroue met soortgelyke agtergronde óf moederinstink óf die teenoorgestelde ervaar?

Uiteindelik is al wat kinders soek, liefde, aanvaarding, drukkies, kos, ’n bed en ’n gevoel van veiligheid.

Die helfte van wat hulle soek, kos nie eers geld nie, maar beteken vir hulle die wêreld.

Kommentaar

Republikein 2025-04-08

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer