Man eis ná 'kwaadwillige vervolging'
'n Inwoner van Katima Mulilo meen die polisie moet opdok vir sy pyn en lyding ná kwaadwillige vervolging vir verkragting.
Jana-Mari Smith
'n Eis om skadevergoeding van bykans N$1 miljoen is ingestel teen 'n polisiebeampte van Katima Mulilo, die polisiebaas en die ministerie van veiligheid en sekuriteit deur 'n man wat ses jaar gelede valslik van aanranding en verkragting aangekla is.
Mnr. David Mbanga Mukela en drie ander is in 2014 daarvan beskuldig dat hulle 'n 25-jarige vrou wat vir die Amerikaanse Vredeskorps gewerk het, in die vroeër oggendure van 14 Januarie daardie jaar op Katima Mulilo aangerand en verkrag het.
Die vrou is so erg aangerand dat sy gehospitaliseer moes word. Sy het voor die voorval as vrywilliger in diens van die Vredeskorps in Namibië onderwys gegee.
Ná die gruvoorval het sy teruggekeer na die VSA, waarna sy later elders in Afrika gaan werk het. Sy het eers weer in Augustus 2016 na Namibië teruggekeer om in die saak teen die mans te getuig.
Mukela is saam met mnre. Nicollans Silimwe Mapenzi, Heinrich Kasuka Numwa en Nsundano Abraham Nseka in hegtenis geneem en vir 15 maande aangehou.
Dit blyk die vrou is die betrokke nag wreed aangerand, haar keel is toegedruk en sy is met 'n bottel geslaan en verkrag.
Twee jaar later, in Augustus 2016, is die saak teen die vier mans egter weens 'n gebrek aan getuienis deur landdros Bongani Ndlovu in die landdroshof op Katima Mulilo laat vaar.
Mukela voer in sy eissaak aan sy inhegtenisneming en aanhouding was onregverdigbaar en sonder redelike gronde en dat hy kwaadwilliglik en sonder voldoende getuienis vervolg is.
Hy eis ook vir die trauma wat hy weens die aanhouding en die wye publisiteit van die saak beleef het. Dit het hom "as verkragter gebrandmerk” en sy goeie naam verwoes, sê hy.
Die aanvanklike woede en openbare belangstelling in die saak soos deur die media weergegee, het vinnig ná die eerste berigte in 2014 getaan. Net een mediaberig is twee jaar later gepubliseer toe die saak teen die mans teruggetrek is, sê hy in hofstukke.
Nampa het in Augustus 2016 berig landdros Bongani het skerp kritiek uitgespreek teen die “slordige polisiewerk”, insluitend die wyse waarop die ondersoek gedoen is, asook die polisie se swak getuienis gedurende die verhoor.
Bongani het luidens die nuusberig gesê die rede waarom die saak teen hulle laat vaar is, is onvoldoende getuienis en swak polisiewerk deur onervare beamptes.
Oor die ondersoekbeampte self, het Bongani volgens die Nampa-berig gesê hy “bevraagteken die wysheid daarvan om onervare konstabels aan te stel om só 'n saak te ondersoek”.
Die enigste getuienis wat die polisie op die misdaadtoneel ingesamel het, was 'n pet.
Luidens hofstukke wat Mukela in Februarie vanjaar as deel van sy eis by die hoërhof in Windhoek ingedien het, het “'n sekere adjudant-offisier Munangisha van die eenheid vir die beskerming van vroue en kinders op Katima Mulilo” hom in hegtenis geneem.
Hy voer aan sy inhegtenisneming en aanhouding van sowat 15 maande was gegrond op swak ondersoekwerk en onredelike gronde.
“Adjudant-offisier Munangisha het opgetree op grond van wilde waninligting dat die pet Mukela s'n was,” word in die hofstukke aangevoer.
Hy sê toe die polisie by sy huis aangekom het om hom in hegtenis te neem, was hy in besit van sy eie pet wat baie lyk soos die een wat op die misdaadtoneel gevind is. “Hy (Munangisha) het nietemin voortgegaan en my in hegtenis geneem.”
Mukela sê die “arbitrêre en onwettige inhegtenisneming, aanhouding, onmenslike en vernederende behandeling en gevolglike kwaadwillige vervolging” was 'n growwe skending van sy fundamentele en grondwetlike regte en sy reg op persoonlike vryheid en menslike waardigheid.
Verder het hy “beduidende trauma gely” weens die stigma en aantasting van sy naam.
Hy eis N$600 000 vir emosionele pyn en trauma en N$300 000 vir die algehele oortreding teen hom.
Die verweerders is die minister van veiligheid en sekuriteit, die inspekteur-generaal van die polisie en Munangisha, wat aangedui het hulle gaan die eis teenstaan.
Die saak is vir mediasie in Augustus verwys, met 'n voorverhoor op 1 September.
Adj.komm. Kauna Shikwambi, polisiewoordvoerder, het by navraag gesê die saak is ná Bongani se beslissing gesluit en geen ander inhegtenisnemings is gemaak nie.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie