Man skiet broer, pleeg toe selfdood
Man skiet broer, pleeg toe selfdood

Man skiet broer, pleeg toe selfdood

Tanja Bause
Mnr. Pombili Hauwanga (45) het Saterdag omstreeks 16:00 in die Onangubu-nedersetting in die Ohangwenastreek sy 32-jarige broer geskiet. Volgens die polisie se misdaadverslag het hy sy broer – nadat hy hom geskiet het – uit die voertuig gegooi en weggery.

Hauwanga is by die Onhuno-padblokkade afgetrek. Terwyl die polisiebeampte na sy voertuig geloop het, het hy homself in die kop geskiet. Beide die slagoffer en Hau­wanga is na die Engela-distrikshospitaal geneem waar Hauwanga aan sy beserings beswyk het.

• Saterdag is 'n man in die Soweto- informele nedersetting op Outjo glo deur sy meisie (20) met 'n mes in sy rug gesteek. Na bewering het 'n bakleiery tussen die twee ontstaan nadat die slagoffer 'n TV-speletjie gewen het wat hulle gespeel het.

Die slagoffer is na 'n hospitaal in Windhoek geneem. Die polisieondersoek duur voort.

• 'n Ses-en-twintigjarige vrou is Vrydag in Onderombapa by Aminuis sowat nege keer deur haar 21-jarige kêrel met 'n mes in die kop gesteek. Na bewering het 'n rusie tussen hulle ontstaan nadat sy met 'n ander man gesels het. Die verdagte is in hegtenis geneem. Die polisieondersoek duur voort.

• Paramedici het mnr. Asser Dominicus (28) Saterdag omstreeks 00:30 dood verklaar nadat hy met 'n onbekende voorwerp gesteek is. Na bewering het vyf mans die slagoffer genader terwyl hy sy meisie begelei het. Die verdagtes het hom van sy selfoon beroof en ook probeer om sy meisie te beroof. Drie van die verdagtes is in hegtenis geneem en een is vrygelaat. Die polisieondersoek duur voort.

• Sondag om 17:00 is 'n verbrande lyk in die bosse by die Bravo- informele nedersetting op Outjo gevind.

Kinders wat voëls gejag het, het op die lyk afgekom. Die polisie vermoed dat die lyk verbrand het in 'n veldbrand wat Woensdag in die omgewing gewoed het. Die polisie se ondersoek duur voort.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer