Man sterf glo aan kongokoors
Man sterf glo aan kongokoors

Man sterf glo aan kongokoors

Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – ’n Man van die kus is die naweek in Windhoek dood aan wat vermoedelik kongokoors kan wees.

Volgens ’n infeksiebeheerbeampte verbonde aan die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste (MoHSS) is die 33-jarige man Saterdag van die Welwitschia Private Hospitaal na die Windhoek Sentrale Hospitaal oorgeplaas.

Volgens mnr. Augstine Kastherody het die man Sondagmiddag in die hospitaal se isolasie-eenheid gesterf.

Die man het glo ’n plaas in die Khomas Hochland besoek. Volgens Kastherody het hy aan personeel gesê iets het hom gebyt, maar hy kon nie sê wat dit was nie.

Kastherody sê bloedmonsters wat van die man geneem is, is na Suid-Afrika vir ontleding gestuur om te bepaal of dit wél kongokoors was.

Die uitslae van die toetse word teen Woensdag verwag.

Kongokoors is ’n virus wat spontane bloeding veroorsaak en deur bosluise versprei word, maar dit kan ook deur vee se besmette bloed en weefsel versprei word.

Bosluise dra die virus vir lang periodes.

Dit word ook deur hul eiers aan die volgende geslag oorgedra.

’n Besmette persoon kan die virus aan ander mense oordra wanneer hul bloed met ander mense in aanraking kom.

Streng voorsorgmaatreëls geld wanneer iemand aan dié hoogs aansteeklike virale siekte sterf.

Dit sluit in dat almal wat met die persoon in kontak was, streng vir enige simptome gemonitor word.

Spesiale riglyne moet ook vir ’n veilige begrafnis gevolg word, wat streng beheermaatreëls insluit om die risiko van besmetting tot die minimum te beperk.

Alles wat tydens die pasiënt se behandeling gebruik is, insluitend beddegoed en klere, word ook begrawe.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer