Man vas met twee erdvarkkarkasse
Man vas met twee erdvarkkarkasse

Man vas met twee erdvarkkarkasse

Francoise Steynberg
'n Namibiese man, mnr. Harry Garoeb, is Saterdag by Outjo glo met twee erdvarkkarkasse in hegtenis geneem.

Hy is een van tien vermeende wildmisdadigers wat verlede week vasgetrek is.

Volgens die weeklikse wildmisdaadverslag van 8 tot 14 Junie van die Namibiese polisie en ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme is vier nuwe sake aanhangig gemaak.

Drie verdagtes is in verband met renosterstropery of die sameswering daarvan in hegtenis geneem. Hulle is die Namibiërs, mnre. Albert Iilihilwa Nangolo vir vermeende renosterstropery by Omaruru, Augustinus Jonas vir dieselfde oortreding by Outjo en Kefas Poronjo Kurooro by Sesfontein. Laagenoemde se jaggeweer is gekonfiskeer.

Beslag is op twee elk erdvarkkarkasse, gemsbokkarkasse en vuurwapens gelê, asook op een elk ietermagôvel en voertuig.

Mnre. Johannes Martin en Wilbard Natangwe Tobias is Saterdag by Kapps Farm oos van Windhoek glo met 'n ietermagôvel in hul besit vasgetrek.

Me. Mclesia Mbaisa, glo 'n werknemer van die ministerie van grond en hervestiging, en haar broer mnr. Marvin Mbaisa, asook mnr. Rudolf Katjiuanjo is na bewering met 'n gemsbokkarkas by Omitara in hegtenis geneem. Beslag is op 'n jaggeweer en voertuig gelê.

By Omaruru is mnr. Kevin Benrard glo met 'n gemsbokkarkas betrap.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer