Man verdrink in tombo
Man verdrink in tombo

Man verdrink in tombo

Misdaad het die naweek weer hoogty gevier, wys die polisie se verslag.
Francoise Steynberg
'n Man van Otjiwarongo het Saterdagoggend in tuisgebroude bier, bekend as tombo, verdrink.

“Dit word beweer dat mnr. Thomas Somseb van die Okauha-gebied omstreeks 05:30 Saterdag dronk was en twee liter-houers met tombo gevul het. Toe hy buk om bier te skep, het hy met sy kop in ''n houer geval en verstik of verdrink,” het ''n woordvoerder van die polisie, hoofinsp. Kauna Shikwambi, gesê.

Me. Shathiyama Theresia Nangura (52) is Vrydagaand deur 'n krokodil in die Kavangorivier gevang toe sy water gaan haal en gaan bad het.

“Haar halfgevrete­ liggaam is Saterdagmiddag ontdek en na die Andara-lykshuis geneem,” het Shikwambi gesê.

Die liggaam van 'n vierjarige Zambiese seuntjie, Pekeleko Liseli, is Saterdagoggend in die bosse 'n ent weg van die Sikuzwe-nedersetting in die omgewing van Mubiza naby Katima Mulilo gevind.

“Dit word beweer dat die seuntjie verlede Woensdag van sy nedersetting vermis geraak het. Die oorsaak van sy dood is onbekend en die polisie­ondersoek duur voort,” het Shikwambi gesê.

In die Kavango-Wesstreek het 'n man glo 'n vrou vir seksuele gunsies gevra, maar toe sy weier, het die verdagte haar begin slaan.

“Die slagoffer het gevlug, maar die verdagte het haar gevang en haar met 'n mes doodgesteek. Albei is van die San-gemeenskap­ en die verdagte sou gister in die landdroshof op Rundu verskyn,” het die woordvoerder gesê.

Saterdag om 07:00 is die liggaam van me. Hambeleleni Hainana (42) in 'n kombers buite haar kamer by die Uudengelo-­nedersetting in die Oshana­streek gevind. Die ondersoek duur voort.

“Ook in die Oshanastreek in die Oshoopala-­nedersetting, is 'n 22-jarige man op die toneel dood toe hy met 'n kombuismes in sy linkerbors deur 'n ander man gesteek is,” het Shikwambi gesê en bygevoeg dat die verdagte op die vlug geslaan het en nog nie in hegtenis geneem is nie.



POGING TOT MOORD

Twee voorvalle van poging tot moord het die naweek plaasgevind, waarvan die een Saterdag omstreeks 04:00 by Club Vibe in Krönlein op Keetmanshoop.

“Dit word beweer die 25-jarige verdagte, ''n onderwyser by die Sekondêre Skool PK de Villiers, het ná ''n argument met die slagoffer sy vuurwapen uit die voertuig gehaal en die slagoffer in die regtervoet geskiet. Die onderwyser het met sy voertuig gevlug en is nog nie in hegtenis geneem nie,” lui die misdaadverslag.

Die tweede voorval het om 22:45 Vrydag by die Senior Sekondêre Skool Tsumeb plaagevind toe ''n argument glo tussen twee mans opgevlam het.

“Een van die mans het met sy pistool die verdagte (26) in sy linkerheup geskiet. Die verdagte, ''n werknemer by Dundee Precious Metal, is in hegtenis geneem en sy vuurwapen gekonfiskeer. Hy sou gister in die landdroshof op Tsumeb verskyn.”

In die Ohangwenastreek is ''n graad 10-leerling­ (19) Saterdag in hegtenis geneem nadat sy na bewering geboorte aan ''n ses maande oue fetus geskenk het wat sy by ''n toilet by die Gekombineerde Skool Onanghulo­ weggegooi het.



TIENJARIGE VERKRAG

''n Voorval van verkragting van ''n 10-jarige Angolese meisie is Vrydag by die polisie aangemeld.

Die voorval het na bewering Donderdag by die Okahombona-nedersetting naby Ehomba in die Kunenestreek plaasgevind.

“Dit word beweer die slagoffer het by haar ouers, wat onder die invloed van alkohol was, in die huis geslaap toe die verdagte ingekom en gedreig het om haar te vermoor as sy nie stilbly nie. Die vermeende verkragter is ''n 18-jarige Angolese­ man,” het Shikwambi gesê.

Hy is in hegtenis geneem en sou gister in die landdroshof op Opuwo verskyn.

Voorts is vier mans, onderskeidelik 35, 32, 31 en 25 jaar oud, Donderdag in verband met veediefstal op die plaas Somoa in die Osire-distrik in die Otjozondjupastreek in hegtenis geneem.

Hulle het na bewering drie beeste ter waarde van N$23 292 geslag en die vleis met ''n bakkie met Windhoek-registrasiemerke vervoer.

Volgens Shikwambi is die vleis en die bakkie gekonfiskeer.

Kommentaar

Republikein 2025-04-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer