Man wat oor Oranjerivier glip, binnekort in hof
Man wat oor Oranjerivier glip, binnekort in hof

Man wat oor Oranjerivier glip, binnekort in hof

Die man wat positief getoets het vir Covid-19 nadat hy die Oranjerivier onwettig oorgesteek het, is nou gesond en mag in die hof verskyn.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer en

Henriette Lamprecht



Die oud-Namibiër wat op 12 Junie by Noordoewer met 'n kano oor die Oranjerivier geroei en die land onwettige binnegekom het, sal waar­skynlik eerskomende naweek van die aanhoudingselle by die Internasionale Lughawe Hosea Kutako na Karasburg vervoer word.

Die 36-jarige mnr. Imanuwela David moet op 19 Augustus in die landdroshof op Karasburg sy tweede verskyning maak op klagte wat verband hou met oortredings van die immigra­siewet.

Hy het na verneem word op Swakopmund grootgeword, maar woon deesdae in Suid-Afrika en beskik ook oor 'n Suid-Afrikaanse paspoort.

David is op 14 Junie in Windhoek by die woonstelblok 77 on Indepen­dence in hegtenis geneem nadat intelligensiebronne die polisie oor sy onwettige binnekoms ingelig het. Hy is vir Covid-19 getoets, en het Namibië se 33ste positiewe geval geword.

Die minister van gesondheid en maatskaplike dienste, dr. Kalumbi Shangula, het vroeër die week bekend gemaak geval 33 het genees en toets nou negatief vir die virus.

Adj.komm. Abner Agas, die koördineerder van misdaadondersoeke in die Khomasstreek, het gister aan Republikein gesê David is sedert sy inhegtenisneming in 'n enkelsel by die polisiekantoor by die Internasionale Lughawe Hosea Kutako aangehou. Volgens Agas het hy in absentia in die hof verskyn, en die saak is na 19 Augustus uitgestel wanneer hy op Karasburg voor die hof gebring sal word.

Aanvanklik is beweer David het R7 miljoen oor die rivier gesmokkel. Op 'n vraag hieroor aan Agas, het hy gesê daar is net “sakgeld” by hom gevind toe hy inhegtenis geneem is.

Dit is steeds nie duidelik hoekom hy die land onwettig binnegekom het nie. Hy is op Noordoewer opgelaai deur mnr. Paulus Ngalangi, wat toe waargeneem het as uitvoerende hoof van Fishcor in die plek van mnr. Mike Ngipunya wat in verband met die Fishrot-saak in hegtenis geneem is.

Ngalangi was vergesel van sers. Lukas Nghede van die polisie se toerismebeskermingseenheid op Lüderitz toe hy David gaan haal het.

Ngalangi het in 'n verklaring enige ­sinistere verbintenis tussen David se onwettige rivieroorstekery, homself en die Fishrot-saak ontken en aangevoer hy het bloot iemand gehelp wat in nood was en 'n geleentheid na Windhoek gesoek het.

Volgens Agas kan ander klagte moont­lik nog teen David gevoeg word.



Nuwe gevalle

Shangula het gister 72 nuwe gevalle van Covid-19 in die land aangekondig. Die totaal staan nou op 1 032.

Uit die 72 nuwe gevalle is een in Windhoek, een op Katima Mulilo, twee op Swakopmund en 68 op ­Walvisbaai aangeteken.

Die geval in Windhoek is in 'n plaas­like hospitaal opgeneem. Die geval op Katima Mulilo het vanaf Walvisbaai gereis.

Uit die 72 gevalle is 39 mans en 33 vroue. Die jongste is nege maande oud en die oudste 62. Tot op hede is 16 305 weefselmonsters getoets en 653 mense is tans in kwarantyn in die land. - [email protected] / ­[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!