Mandela Kapere kry staatsbegrafnis
Mandela Kapere kry staatsbegrafnis

Mandela Kapere kry staatsbegrafnis

Begrafnisreëlings en roudienste is nog onderhewig aan terugvoering van die gesondheidsministerie.
Augetto Graig
Augetto Graig

Die Namibiese parlementslid en langtermyn jeugleier, mnr. Mandela Kapere, is Maandagoggend aan Covid-19 oorlede. Die nuus is gister deur sy pa, die Namibiese ambassadeur na Botswana en voormalige Speaker van die parlement, mnr. Asser Kapere, bevestig.

Hy sê die familie wag nog op terugvoering van die ministerie van gesondheid oor besonderhede vir die begrafnis en sal eers daarna inligting oor enige roudienste kan deel.

Die minister van gesondheid en maatskaplike dienste, dr. Kalumbi Shangula, sê egter hy het nog nie die volle inligting oor die saak ontvang nie.

“Die wyle parlementslid is by sy huis oorlede, nadat hy by ’n private instansie behandel was en daar toetse laat doen het. Ons het nog nie die volle inligting nie,” het hy gesê.

Die gesondheidsminister sê egter dat begrafnismaatreëls in verband met Covid-19-sterftes in Namibië steeds in alle gevalle geld. “Covid-19 diskrimineer nie,” het hy gesê.

Kapere was 38 jaar oud en laat sy vrou en twee kinders agter. In sy uitstaande politieke loopbaan het hy laas jaar van die voorsitterskap van die Nasionale Jeugraad afgestaan het om by die parlement aan te sluit.

President Hage Geingob het Maandag op Twitter sy meegevoel met die familie gedeel. “Ons nasie het ’n dinamiese parlementslid verloor wat ’n belangrike rol in die vorming van die rigting van jeugleierskap in ons land gespeel het,” lees Geingob se twiet.

In ’n amptelike verklaring later sê Geingob dat Kapere nog veel aan Namibië sou kon bied en dat hy een van die bestes onder Namibiese jeugleiers was. “Kom ons put krag en inspirasie uit sy uitsonderlike bydraes ten gunste van ’n beter Namibië,” het die staatshoof gesê.

Die woordvoerder van die president se kantoor, dr. Alfred Hengari, het bevestig dat Geingob ’n amptelike staatsbegrafnis aan Kapere sal toeken.

Republikein se susterkoerant Namibian Sun het gister berig oor verskeie huldeblyke wat sedert die nuus van Kapere se afsterwe uitgespreek is. Swapo se sekretaris-generaal, me. Sophia Shaningwa, het Kapere as ’n stoere verdediger van die Swapo-party beskryf, terwyl die opposisieparty Landless People’s Movement (LPM) hom as ’n man van nederigheid, empatie en diplomasie te alle tye beskryf het.

Die nuwe Windhoekse burgemeester en voormalige Swapo-jeugligaleier, mnr. Job Amupanda, het bygevoeg dat niemand Kapere se bydrae tot jeugpolitiek in Namibië kan wegneem nie. “Hy het my op universiteit aan pan-Afrikanisme voorgestel. Mag die siel van Mandela Kapere in ewige vrede rus,” het Amupanda aan Namibian Sun gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!