Mank SAL benadeel Comair
Mank SAL benadeel Comair

Mank SAL benadeel Comair

Antoinette Slabbert – Die gesukkel by die SAL kan die genoteerde lugdiensgroep Comair se rekord van winsgewendheid vir 73 agtereenvolgende jare in gevaar stel.

Comair, wat vlugte bedryf onder die British Airways- en Kulula-handelsmerk, het Woensdag bekend gemaak dat hy in die ses maande tot 31 Desember ’n wesensverlies van R564 miljoen aangeteken het vergeleke met ’n wesensverdienste van R126 miljoen in die vorige vergelykbare tydperk.

Die SAL skuld Comair nog byna R800 miljoen van ’n skikkingsbedrag weens oortredings van die Mededingingswet jare gelede. Die groep het vroeër voorsiening daarvoor gemaak dat R285 miljoen daarvan nie verhaal sal kan word nie.

Omdat die SAL tans in sakeredding is, het Comair egter dié bedrag met R505 miljoen verhoog op die veronderstelling dat die SAL hom nie ’n duit sal kan betaal nie.

Comair se aandeelprys het Vrydagoggend op R2,85 gestaan. ’n Jaar gelede was dit nog R5,40.

Wre­nelle Stander, Comair se uitvoerende hoof, het Donderdag gesê die groep het verskeie opsies oorweeg soos om die geld by die SAL-direkteure te gaan soek, maar dit blyk dat hulle maar soos alle ander skuldeisers sal moet wag en hoop op ’n goeie uitkoms.

Comair het reeds geruime tyd gelede begin om die versiening van sy vliegtuie wat deur SAL Tegnies, ’n filiaal van die SAL, gedoen is, te verskuif na die nuwe Lufthansa Technik. Dit was die gevolg van chaos by die SAL-werkswinkel wat ’n negatiewe invloed gehad het op die stiptheid van Comair se vlugte.

Sewe van Comair se 26 vliegtuie word reeds deur Lufthansa versien, maar weens die vestigingskoste van die nuwe fasiliteit en die feit dat Comair nou twee diensverskaffers moet betaal, is dit ’n duur storie. Die oorplasing van die volle vloot sal later vanjaar afgehandel wees, maar volgens Stander sal Comair eers in 2021-’22 kostevoordele kry.

Comair se ander groot kopseer is die feit dat Boeing se 737 Max-vliegtuie ná twee noodlottige ongelukke internasionaal gehok is.

Dit het ’n jaar gelede gebeur net nadat Comair ontvangs geneem het van die eerste van agt van die vliegtuie. Hy staan nou nog in onbruik op die grond.

Die tweede vliegtuig is ook voltooi en staan in Seattle, VSA, terwyl die derde nog nie voltooi was toe die lugvaart-owerhede ingegryp het nie.

Comair het reeds ten volle vir die eerste vliegtuig betaal, sê Stander, en sekere voorafbetalings is gedoen vir al agt.

Comair het al altesame R1 miljard se kontantbetalings gedoen en hy betaal rente op verdere betalings wat gefinansier is.

Daarbenewens is die noodsaaklike program van vlootvernuwing onderbreek en is Comair gedwing om duur huurkontrakte aan te gaan toe die Boeing-kalf in die put was.

Stander sê Comair is in gesprek met Boeing om ’n oplossing te vind. Dit kan kansellasie en/of vergoeding insluit.

Intussen gaan Comair voort om sy Boeing 737 400-vliegtuie te vervang met 737 800’s, wat meer sitplekke het en meer betroubaar en ekonomies is op brandstof.

Stander sê van Comair se ander besighede, wat onder meer spyseniering, lughawesitkamers en reisbesighede insluit, is winsgewend.

Die groep sal binnekort aankondigings maak oor sekere eenhede wat sukkel en verkoop word. Sy wou nie aandui watter besighede dit is nie.

Volgens Stander bied die kansellasie van verskeie SAL-roetes goeie geleenthede vir sy mededingers, veral ten opsigte van streeksvlugte wat goeie wins kan oplewer.

Die SAL het vroeg in Desember in sakeredding gegaan, en daar was ’n skerp toename in korporatiewe kliënte op Comair se BA-vlugte.

Die SAL se sakereddingspraktisyns het Vrydag nog ’n maand uitstel gekry om hul reddingsplan voor te lê. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!