Mansudae se perseel verlate
Buitelandse diplomate in Namibië twyfel nie dat die regering die waarheid praat oor Noord-Korea se onttrekking aan die land nie.
Ronelle Rademeyer en Estelle de Bruyn
Die reusekompleks in Rentsburgerstraat in die Lafrenz-nywerheidsgebied vanwaar die Noord-Koreaanse maatskappy Mansudae Overseas Projects (MOP) sy konstruksiebelange in die land bedryf het, is die afgelope “vier tot ses maande” reeds verlate.
Die nywerheidsperseel met verskeie groot pakhuise op is agter 'n hoë muur goed versteek. Dit is egter die muurskilderye en ander versierings aan die voorkant wat onmiskenbaar aan die Noord-Koreaanse kunswerke by Staatshuis, die Heldeakkker en die Onafhanklikheidsmuseum herinner.
CNN het vroeër die week berig Mansudae het die eiendom in 2004 vir N$1,6 miljoen gekoop en besit dit steeds.
Volgens die Verenigde Nasies (VN) se paneel kundiges wat Noord-Koreaanse sanksies monitor, is Mansudae in 2004 as MOP Architectural & Technical Services (Namibia) in Namibië geregistreer.
By die hoofingang is 'n groot leeu in brons wat oor Rentsburgerstraat uitstaar. Een van die muurpanele is met brons borsbeelde van die Groot Vyf versier.
Verder is daar ook vyf muurskilderye: een van 'n Welwitschia mirabilis, een van sandduine en een wat die Spitzkoppe uitbeeld.
'n Werknemer by 'n naburige onderneming het gister aan Republikein gesê hy het “vier tot ses maande” gelede laas vragmotors of mense by die hoofingang sien ingaan en uitkom.
Volgens hom het die Noord-Koreaanse werkers in die pakhuise op die perseel gewoon.
“Ons het soggens gesien wanneer die vragmotors met die werkers agterop by die hek uitry. Nou is daar geen beweging nie.”
By nadere ondersoek is twee wit kontruksievragmotors tussen twee van die pakhuise opgemerk. Daar was geen mens in sig nie.
Die vensters van vertrekke wat soos kantore lyk, staan oop. By die hoofingang is 'n groot voëlhok met duiwe wat in en uit vlieg.
'n Sekuriteitswag by die ingang het gesê hy pas die terrein op “sodat die goed nie wegraak nie”. Hy wou nie sê by watter sekuriteitsmaatskappy hy in diens is nie en of dit steeds die eiendom van Mansudae is nie.
DIPLOMATIEKE GEMEENSKAP
Op 'n vraag gister aan 'n hooggeplaaste diplomatieke bron of hy glo Namibië speel oop kaarte oor die Noord-Koreane se onttrekking, was sy antwoord: “Ons het geen rede om Namibië se woord in twyfel te trek nie.”
Verskeie ander diplomatieke bronne met wie Republikein gesels het, sê dit is jammer die Namibiese regering het nie die geleentheid aangegryp toe die laaste Koreane die land verlaat het om 'n aankondiging daaroor te maak nie. Dit sou meegebring het dat heelwat van die negatiewe publisiteit wat Namibië na aanleiding van die CNN-verslag te beurt geval het, vermy kon word.
“Dit is ook jammer die regering het tot vandag toe verseg om te erken dat VN-sanksies wel sedert 2006 geskend is. Die voortgesette ontkenning dat Namibië enigiets verkeerd gedoen het, doen afbreuk aan die land se internasionale geloofwaardigheid,” het een van die diplomate aan Republikein gesê.
Desnieteenstaande is die feit dat die regering nou sy huis in orde gekry het, wyd verwelkom.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie