Manuel, EFF terug in hof oor lastersaak
Manuel, EFF terug in hof oor lastersaak

Manuel, EFF terug in hof oor lastersaak

Die party het beweer Kieswetter is ’n “geslepe karakter” en ’n familielid en voormalige sakevennoot van Manuel.
Jan Cronje – Die hofsaak waarin Trevor Manuel, voormalige minister van finansies, die EFF van laster aankla, hervat Dinsdag in die hooggeregshof in Johannesburg.

Manuel eis skadevergoeding van R500 000.

Manuel het hom in April op die hof beroep nadat die EFF geweier het om ’n verklaring terug te trek waarin hulle hom van nepotisme beskuldig in die proses waarin Edward Kieswetter as nuwe kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens aangestel is.

Julius Malema, die EFF se leier, en Mbuyiseni Ndlozi, die party se woordvoerder, word as respondente op die hofdokumente aangedui.

Manuel het aan die hoof gestaan van die paneel wat met die kandidate vir die pos as kommissaris onderhoude gevoer het.

Die belastingdiens was sedert Maart 2018 sonder ’n permanente hoof nadat Tom Moyane eers uit dié pos geskors en daarna afgedank is.

Die paneel het aanbevelings gemaak, maar was nie betrokke by die finale keuse om Kieswetter aan te stel nie.

In ’n verklaring wat op 27 Maart gepubliseer is, beweer die EFF dat Kieswetter ’n “geslepe karakter” en ’n familielid en voormalige sakevennoot van Manuel is.

Die party beweer verder dat Kieswetter “in die geheim” gekies is.

Manuel het kort nadat die verklaring gepubliseer is, gesê dit is lasterlik en rassisties. Hy wil hê die hof moet die EFF beveel om die verklaring van al hul platforms terug te trek, verskoning te vra en om skadevergoeding van R500 000 of watter bedrag die hof ook al bepaal, sowel as sy regskoste, te betaal. Hy het onderneem om die geld aan ’n waardige saak te skenk.

Die saak sou op 7 Mei aangehoor word, maar dit is tot Dinsdag uitgestel.

‘Grootliks lasterlik’

Nadat die EFF sy verklaring gepubliseer het, het Manuel se prokureurs ’n brief aan die EFF geskryf en daarop aangedring dat dit teruggetrek word.

Sy regsverteenwoordigers sê “’n opvallend vals en erg lasterlike” verklaring is gepubliseer met die bedoeling om “haat teen Manuel te bevorder of aan te vuur”.

Die EFF het nie die verklaring teruggetrek nie.

Ndlozi het op 12 April, nadat Manuel sy beëdigde verklaring by die hof ingedien het, aan Fin24 gesê die party voel nie geïntimideer nie.

“Ons is reg en ons prokureurs hanteer dit. Ons het dit reeds gesê. Die boelie Manuel sal dit nie regkry om ons stil te maak nie, veral nie wanneer ons hom fyn dophou soos wat ons met alle openbare figure maak nie.

– Fin24/Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!