Marais skiet sekuurste op moeilike baan

Jaggeweerskiet
Andrew Poolman
Vanaf die jongste (vier jaar) tot die oudste (70) se deelname het bygedra tot die sukses van die Namibiese Jaggeweerskietver­eniging (NHRSA) se eerste kompetisie vir die jaar wat laas naweek op Hentiesbaai gehou is.

Altesame 115 deelnemers (mans en vroue) het deelgeneem.

Die baan is in die Omarururivier opgestel met on­eweredige terrein, bedrieglike windtoestande en immerteenwoordige lugspieëlings wat verseker het dat die kompetisie onvoorspelbaar was.

Ses verskillende bane (elk met vier lewensgrootte teikens en twee ghongs van agt duim deursnee) het die baan gevorm waarop 'n maksimum van 900 punte (150 per teiken) op die spel was.

Skuts moes telkens die afstand skat wat tot so ver as 400 meter was.

Francois Marais junior het die naaste aan 'n voltal gekom met sy totaal van 826 punte waarmee hy die titel as die 2017 Hentiesbaai skietkampioen verower het.

Die vrouewenner was Cornel van der Westhuizen met haar telling op 656.2.

Agt deelnemers was jonger as 13 jaar, wat verblydend was om te sien as aanduiding van die toekoms van die sport. Die organiseerders hoop om in die oorblywende kompetisies vanjaar nog meer juniors op die skietbaan te sien.

Die voorste uitslae was soos volg:

Algeheel: 1 Francois Marais junior (826.3 punte). 2 Pieter Vorster (731). 3 Johannes Andreas Marais (706.3).

Goudklas: 1 Francois Marais junior. 2 Pieter Vorster. 3 Johannes Andreas Marais.

Silwerklas: 1 Cornel van der Westhuizen (656.2). 2 Gaston Mertens (640.5). 3 Karola Woortman (620).

Bronsklas: 1 Callie van Heerden (640.5). 2 Johan Venter (515.8). 3 Philipie Baard (495.7).

Penkoppe: 1 Mike Baartman. 2 Janro Greeff. 3 Vincent Maresch.

Juniors: 1 Henco Snyman. 2 Johan Brockman.

Vroue: 1 Cornel van der Westhuizen (656.2). 2 Karola Woortman (620). 3 Stephanie Marais (515.7).

Seniors (50-59 jaar): 1 Karel Smith (505.9). 2 Johannes van der Wath (475.6). 3 Alfred Prosser (475.4).

Veterane (60 jaar en ouer): 1 Hindie van Rensburg senior (370). 2 JP Human (295). 3 Bernatt Geldenhuys (285).

Sondag is die kompetisie in die .222-.223 klas aangebied, waarin 'n paar reëls verskillend van die normale Ope klas is. Net vuurwapens van dié kalibers word toegelaat. Hierdie opwindende klas is verlede jaar bekendgestel as deel van die NHRSA se skietkompetisies. Met bykans 30 inskrywings groei dié klas se gewildheid reeds vinnig.

Francois Marais junior was ook hier die skerpskutter vir die goue medalje. Tweede was Gert Martins, gevolg deur Johan Venter in die derde plek.

Die NHRSA bedank al sy lede en borge vir hul volgehoue steun en toewyding om jaggeweerskiet as een van die groot skietsporte in die land te vestig.

Spesiale dank word uitgespreek teenoor die Hentiesbaai munisipaliteit wat die Omarururiviermond vir hulle oopgestel het – wat 'n veilige en natuurskone venue was.

Die organiseerders nooi almal na die volgende skietkompetisie op 18 Maart op Gobabis.

Die NHRSA kondig ook aan dat hy 'n sleepwa aangeskaf het waarmee al die toerusting vir kompetisies dwarsoor Namibië vervoer kan word. Enigiemand wat van die advertensiespasie weerskante van die sleepwa gebruik wil maak, kan met Mike by [email protected] kontak maak.

Kommentaar

Republikein 2025-04-28

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer