Mariental-boekhouer twee jaar tronk toe
Mariental-boekhouer twee jaar tronk toe

Mariental-boekhouer twee jaar tronk toe

’n Ma van drie is tronk toe gestuur omdat sy haar boekhoukliënte se belastingterugbetalings verduister het.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer



’n Bekende boekhouer van Mariental wat tussen 2006 en 2009 bedrog van N$532 915,20 gepleeg het deur terugbetalings aan kliënte deur die Ontvanger van Inkomste vir haarself toe te eien, is tot tronkstraf van twee jaar gevonnis.

Die 49-jarige Madelein Kirsten van Namib Accounting Services is Vrydag deur landdros Frans Anderson tot vyf jaar tronkstraf gevonnis, waarvan drie jaar tronkstraf vir vyf jaar opgeskort is op voorwaarde dat sy nie in daardie tyd dieselfde misdryf weer pleeg nie.

Sy het skuld beken op die klagte teen haar.

Dié vonnis volg tien jaar nadat haar verhoor in die landdroshof op Mariental begin het.

Kirsten is in 2017 ook skuldig bevind op drie klagte van bedrog in ’n saak wat verband gehou het met dié een.

Laasgenoemde saak, wat in 2012 deur mnr. Max Meyer teen Kirsten en haar man, mnr. Gideon Kirsten, aanhangig gemaak is, spruit uit bedrae geld wat Kirsten en haar man uit die boekhouersfirma, Namib Finansiële Adviesdienste, se rekening aan hulself oorbetaal het. Dié firma het eers aan Meyer behoort en is op 1 Maart 2009 deur die Kirstens oorgeneem. Dit staan sedertdien as Namib Accounting Services bekend.

Volgens Meyer het die onttrekkings uit sy rekening deur die paartjie aan die lig gekom met sy ondersoek na hoe die Kirstens kliënte se terugbetalings vanaf die Ontvanger van Inkomste vir hulself toegeëien het.

Volgens Meyer was hul werkswyse om tjeks van kliënte wat deur die ministerie van finansies terugbetaal is, óf by die bank te wissel óf in hul persoonlike bankrekeninge in te betaal.

Landdros Anna Matroos het Kirsten in 2017 tot twee jaar gevangenisstraf gevonnis, wat in die geheel opgeskort is vir ’n tydperk van vyf jaar. Sy het verder beveel Kirsten moet N$8 600 ten opsigte van al drie klagte by die landdroshof tot voordeel van die klaer (Meyer) inbetaal.

Die saak teen Kirsten se man is laat vaar nadat sy erken het sy was die een wat die bedrog gepleeg het.

Hy het egter voor haar vonnisoplegging Vrydag ter strafversagting getuig en gesê sy is ’n liefdevolle mens wat enigiets vir haar familie en ander mense sal doen.

Hy het ook getuig sy ontvang psigiatriese behandeling en besoek een keer in drie maande ’n psigiater in Windhoek.

Volgens hom is die jongste van hul drie kinders nou maar eers 13 jaar oud. Hy is volgens sy pa se getuienis as klein seuntjie getraumatiseer toe hy gesien het hoe sy man in hegtenis geneem word.

Anderson het tydens vonnisoplegging daarop gewys dat nóg Kirsten, nóg haar man aan die hof gesê het wat van die geld geword het wat hulle van kliënte verduister het.

Hy het gesê dit is “sonder twyfel ’n groot som geld”.

Anderson het gesê Kirsten se persoonlike omstandighede word oorskadu deur die misdrywe en die belange van die gemeenskap.

Hy het die hoop uitgespreek dat haar familie “ná hierdie aaklige ervaring in hul lewe sterker anderkant sal uitkom”.

Mnr. Eric Naikaku het aangekla, terwyl Kirsten deur mnr. Henry van Zyl en adv. Albert Strydom verteenwoordig is. –[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-01-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 30° Rundu: 19° | 33° Eenhana: 19° | 31° Oshakati: 21° | 29° Ruacana: 20° | 33° Tsumeb: 18° | 28° Otjiwarongo: 17° | 25° Omaruru: 19° | 29° Windhoek: 19° | 28° Gobabis: 20° | 25° Henties Bay: 17° | 21° Swakopmund: 17° | 18° Walvis Bay: 18° | 22° Rehoboth: 20° | 29° Mariental: 20° | 31° Keetmanshoop: 19° | 32° Aranos: 20° | 29° Lüderitz: 16° | 27° Ariamsvlei: 20° | 34° Oranjemund: 16° | 23° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 29° Lubumbashi: 18° | 20° Mbabane: 19° | 30° Maseru: 17° | 19° Antananarivo: 14° | 29° Lilongwe: 19° | 24° Maputo: 26° | 40° Windhoek: 19° | 28° Cape Town: 18° | 22° Durban: 22° | 27° Johannesburg: 18° | 24° Dar es Salaam: 25° | 29° Lusaka: 18° | 24° Harare: 17° | 22° #REF! #REF!