Maritieme museum op Lüderitz gaan 'n treffer wees!

Ons kuslyn se ryk geskiedenis was die inspirasie vir die ontwikkeling van Afrika se voorste maritieme museum.
Yochanaan Coetzee
Yochanaan Coetzee - Ons kuslyn is ons rykdom.

Oor honderde jare het meer as 150 skepe vol matrose, bekende seevaarders, ontdekkers, koloniseerders en fortuinsoekers van die ander kant van die wêreld af gereis na Namibië - betower deur ons magiese kuslyn.

Dié betowering en die belofte van skatte het teweeg gebring dat die 1 570 km-­kuslyn eindelik die Skedelkus genoem is.

Die see was dodelik, maar die seevaarders se dapperheid het vrugte afgewerp, want plek-plek was daar 'n oorvloed gesogte stene, minerale en later ook visserye.

Juis dié ryk geskiedenis was die inspirasie vir die ontwikkeling van Afrika se voorste maritieme museum.

DIE SEE GEE EN NEEM

Republikein het verlede week met Dr. Angel Tordesillas, hoof uitvoerende beampte van NovaNam, wat nou betrokke is by die Lüderitz maritieme museumprojek, gesels.

“Lüderitz se maritieme museum is eerstens daarop gemik op nie net by jongmense 'n liefde vir die see te kweek nie, maar ook om 'n besienswaardigheid op die dorp te ontwikkel wat mense sal lok. Die see se magtigheid en ons afhanklikheid daarvan moet hulle betower,” het hy gesê ná sy toespraak onlangs by die Namibiese Weten­skaplike Stigting.

“Baie mense woon aan die kus, maar die meerderheid met hul rug op die kus gedraai. Ons wou 'n plek skep waar ons hulle nader laat voel aan die see, sy geskiedenis, sy rykdom en die grootse manier waarop dit die krag het om lewe te gee, maar ook te neem,” het hy gesê.

Die museum, wat teen die einde van volgende jaar sal oopmaak, sal sy tuiste vind in die historiese ou kragstasiegebou aan Lüderitz se waterfront.

Die gebou, wat in 1912 die grootste onderdak-kragstasie in die wêreld was, is besig om 'n vars nuwe voorkoms te kry danksy die museumprojek.

Omdat die museum al 12 000 m² van die gebou sal beslaan, sal dit ook die grootste onderdakstruktuur én museum in Afrika wees.

“Die idee was nie om die grootste maritieme museum in Afrika te ontwikkel nie. Grootte was nie vir ons 'n vereiste nie, maar wel die kwaliteit van die uitstallings,” het Tordesillas gesê.

“Ons wou eerder die voorste mari­tieme museum in Afrika skep. Weens die gehalte en aantal versamelings, wat meer as dubbel dié van alle maritieme museums in Afrika saam is, glo ons ons kan dit bereik.”



UNIEKE UITSTALLINGS

“In die laaste vyf tot sewe jaar het ek meer as 200 maritieme museums dwarsoor die wêreld besoek - sommige tot 10, 20 of 30 keer.”

Hierdie besoeke was nie net vir navorsing nie, maar ook om unieke uitstallings te soek.

“Hoewel daar in Europa, die Amerikas en die Verre Ooste baie belangrike maritieme museums is, is ons seker die Lüderitz Maritieme Museum sal trots met die wêreld se 200 bestes kan kompeteer - en in Afrika is daar geen kwessie nie.”



HOEKOM LüDERITZ?

Dié hawedorp ontvang meer as 60 000 besoekers per jaar, maar daar is min te doen ná ure, sê Tordesillas. Die museum sal dus nie net vir besoekers 'n erfenis-ervaring bied nie, maar ook inwoners meer vermaak bied.

Op die vraag “Hoekom Lüderitz?” is die doktor se antwoord eenvoudig.

“Hoekom nie?”

“Lüderitz is ideaal geposisioneer om 'n bykomende besienswaardigheid te bevorder. Die museum sal nie net meer besoekers lok nie, maar hulle sal langer bly en weer en weer besoek kom aflê.”

Die museum sal op drie afdelings fokus: visvang, handel en die ondersese mynbedryf.

Besoekers sal meer kan uitvind oor alles van antieke visvangmetodes tot die nuutste diamant-eksplorasiebote, die historiese handel in gauno of “witgoud”, akwa­kultuur en veel meer.

Danksy borge en vennote sal die museum ook verskeie skepe uitstal. Besoekers sal dus die geleentheid kry om, onder andere, regte skepe soos die navorsingstuig die SS Welwitchia en ander te ervaar.

Die grootste versameling modelskepe in Afrika gaan ook uitgestal word.

Besoekers sal die kleinste besonder­hede van die Drommedaris en al die bekende skepe uit die geskiedenis kan ontdek. Dit sal skepe insluit uit antieke Egipte en China, asook die seerowerskepe wat handelskepe op die Karibiese See geterroriseer het.

Daar sal ook 'n groot versameling antieke navigasie-instrumente, honderde outydse kaarte en aardbolle wees om die jeug 'n idee te gee van die kundigheid en vaardighede wat matrose moes hê eeue voor moderne navigasiestelsels.

Daar sal ook uitstallings met honderde voorbeelde en fossiele wees waar besoekers meer kan uitvind oor onder­sese argeologie.

Die uitgrawing in 2008 van die skip wat in die sestiende eeu by Oranjemund skipbreuk gely het, en van die skatte wat gevind is, sal ook te sien wees.

'n Afdeling van die museum sal op die wêreld van seevoëls en ander diere fokus, en 'n skouspelagtige versameling van duisende besonderse skulpe, historiese seëls, muntstukke en antieke geld sal ten toon gestel word.

“Hierdie versamelings is uitstekend, dit hoef nie terug te staan vir ander nie,” het Tordesillas gesê.

Die maritieme museum is baie mense se droom en deur die jare het belanghebbers met die regering en verskeie ministeries saamgewerk om dit 'n werklikheid te maak.

“Die ministerie van visserye was ons verwysingspunt. Deur hul ondersteuning aan die museum kon ons ander belanghebbers soos die ministerie van onderwys, kuns en kultuur, en Lüderitz se dorpsraad nader vir húl ondersteuning.

“Ons kon nie wat ons nou het, bereik sonder die bydrae van lede van die vis- en mynbounywerhede, staatsinstellings, private persone en buitelandse skenkers nie,“ het hy gesê.

Die Lüderitz-waterfront sal ook die Lüderitz-kampus van die Universiteit van Wetenskap en Tegnologie (NUST) huisves, sportfasiliteite en 'n maritieme speelgrond, waar die jongspan veilig tussen die reusegereedskap en -onderdele van ou skepe kan speel.

Die museum sal maklik te vinde wees, danksy die 10 meter lange walvis wat by die ingang uitgestal sal word, asook talle plaaslike visse wat in drie massiewe vistenke vertoon sal word.

'n Projek van hierdie omvang is nie goedkoop nie, maar Tordesillas sê die uitgawes is min in vergelyking met die waarde wat dit sal hê.

Vir meer inligting, stuur 'n e-pos aan ­[email protected].

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!