Markte gaan wag en kyk
Markte gaan wag en kyk

Markte gaan wag en kyk

Ná ''n hewige reaksie aanvanklik, het wêreldmarkte gister gekalmeer en bestendiger geraak ná die nuus van die Amerikaanse verkiesing verwerk is.
Jo-Mare Duddy Booysen
Elvira Wood - Dit is dalk ’n goeie idee om te belê in die sement- en baksteenbedryf waar almal gaan probeer om die tender vir Donald Trump se Mexikaanse muur te kry.

So het Wiechart Cilliers, direkteur van TreasuryOne, gesê kort nadat dit gisteroggend bekend geword het Trump het die Amerikaanse presidentsverkiesing gewen.

Hy sê die mark se aanvanklike skokreaksie op die nuus uit Amerika herinner baie aan die reaksie ná Brexit.

“Die markte het egter ná ’n rukkie gekalmeer en bestendiger geraak nadat die gebeure verwerk is.”

Tumisho Grater, ekonomiese strateeg by Novare, sê Trump se oorwinning het heelwat onsekerheid en onstuimigheid in die markte veroorsaak.

“Die reaksie was tot dusver baie vinnig met verkope van bates met hoë risiko’s wat gou sigbaar was,” sê hy.

Amerikaanse termynmarkte het sterk gedaal en die JSE se indeks van alle aandele het in die eerste paar minute van verhandeling met 2% gedaal. Teen middagete het dit egter herstel en was dit net-net in die groen.

Die Mexikaanse peso, wat as maatstaf vir die Amerikaanse presidentsverkiesing gedien het, het met 10% teenoor die Amerikaanse dollar verswak.

Die rand was ook onder druk en het in ’n stadium tot R13,80 verswak voordat dit deur die loop van die oggend kop opgetel het tot sowat R13,60 per dollar.

“Tog het die markte in die algemeen nie so erg gereageer ná Trump se oorwinning soos op Brexit nie,” sê Grater.

Hy meen die Trump-administrasie se handelsbeleid gaan die markte se fokuspunt wees. “Dit is moeilik om te raai hoe die beleid daar gaan uitsien,” sê hy.

Neil Roets, direkteur van Debt Rescue, waarsku Trump se verrassende oorwinning kan negatiewe gevolge hê vir Suid-Afrikaanse verbruikers wat reeds diep in die skuld is.

“Daar is niks wat markte meer haat as onsekerheid nie en die Trump-oorwinning gaan ’n beduidende negatiewe uitwerking op internasionale markte hê, wat ook in ons mark neerslag gaan vind,” sê hy.

“Ons kan net raai wat die impak van sy verkiesing op die wêreldekonomie gaan wees. Niks hiervan gaan Suid-Afrikaners met baie skuld help nie,” sê Cilliers.

Die dag voor die verkiesing het The New York Times nog gesê Hillary Clinton, die Demokratiese kandidaat, het ’n 85%-kans om president te word. Ander peilings het haar selfs ’n 90%-kans gegee.

Teen 12:30 was die JSE se top-40-indeks 0,55% hoër op 44 441 en die indeks van alle aandele 0,42% hoër op 50 912.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer