u2018Markte met broek op die knieu00eb betrapu2019
u2018Markte met broek op die knieu00eb betrapu2019

‘Markte met broek op die knieë betrap’

Jo-Mare Duddy Booysen
Skokgolwe het Vrydag deur die wêreld se aandelemarkte getrek nadat Brittanje die wêreld verras het deur sy rug op die Europese Unie (EU) te draai.
Dit was nie net die gewone slaansakke, die wêreld se ontluikende markte (waarvan Suid-Afrika een is), wat papgeslaan is deur die skoknuus nie, maar markte van Asië tot Amerika beleef rekorddalings te midde van vrese vir ’n volgende wêreldresessie.
Die plaaslike indeks van die Namibiese aandelebeurs (NSX) het Vrydag onveranderd op 528 punte gesluit, maar die algehele indeks van die NSX het met 4,71% teruggesak en op 966,61 punte geëindig. Die JSE se indeks van alle aandele het 3,56% verloor.
“Niemand het hierdie skuif verwag nie, en die markte en geldeenhede se reaksie wys dit duidelik,” sê Mike Schüssler, hoofekonoom van Economists.co.za.
Toe die finale uitslag van die referendum, waarin 51,7% van die kiesers ten gunste van uittrede uit die EU gestem het, teen 07:00 Suid-Afrikaanse Vrydag bekend geword het, het die waarde van die Britse pond begin tuimel, totdat die geldeenheid 11% van sy waarde teen die Amerikaanse dollar verloor het en ’n laagtepunt bereik het wat 31 jaar gelede laas gesien is.
Londen se FTSE-100-indeks het in een stadium Vrydag met 8,7% getuimel, maar later herstel toe die Britse premier, David Cameron, sy bedanking aangekondig het.
“Die gevaar is dat dit (Brexit) ’n resessie in Brittanje tot gevolg kan hê, wat op sy beurt weer ’n Europese en wêreldwye resessie kan veroorsaak,” sê Joe Rundle, hoof van verhandeling by ETX Capital in Londen.
Die daling is vererger deurdat markte Donderdag begin galop het toe daar lippe afgelek is vir die verwagte oorwinning van die “bly”-faksie.
“In die aanloop tot die referendum het die meningspeilings ten gunste van die bly-stem gedraai en dit het wêreldmarkte, die pond en die geldeenhede van ontluikende markte aangespoor,” sê Dave Mohr van Old Mutual Multibestuurders.
Toe is die mark met sy broek op sy knieë betrap en die reuse-ontstuimigheid Vrydag kan deels gesien word as ’n ommekeer van die winste wat in die vorige aantal dae gemaak is, sê Mohr.


Valutamarkte
Die Japanse jen is as ’n veilige hawe vir beleggers beskou, en dié geldeenheid het Vrydag tot meer as 100 jen per dollar opgeskiet – iets wat glad nie vir Japan so voordelig is as wat dit op die oog af lyk nie. Dit is omdat die land soveel van sy produkte uitvoer en ’n sterk jen sy produkte duur en onmededingend maak.
In Suid-Afrika het die rand selfs meer geduik as met die Nenegate-debakel, wat die geldeenheid 5% van sy waarde gekos het. Vrydag het die rand se waarde teen die dollar met tussen 5% en 8,5% verswak en self in een stadium so laag as R15,68 verhandel. Laatmiddag het dit tot selfs R14,93 verstewig.
Die tyd sal leer of die verswakking tydelik is, met heelwat ontleders wat reken die markte sal kalmeer.
Suid-Afrika se geldeenheid is op die oomblik die wisselvalligste onder 24 ontluikende geldeenhede wat Bloomberg meet. Die rand is dikwels ’n soort weerligafleier vir risiko-sentiment juis omdat die rand meer likied is as ander ontluikende geldeenhede.
Die pandemonium op die valutamark word waarskynlik die beste geïllustreer deur die ongekende volume van verhandelings.
Die welvaartbestuurder Sable het teen 11:00 Britse tyd reeds 600% meer transaksies as sy daaglikse gemiddeld gedoen, volgens Anton van Teylingen, ’n geoktrooieerde finansiële ontleder by dié groep.
“In tye van sulke onsekerheid beweeg mense na veilige hawens, wat positief is vir Suid-Afrika se goudsektor, wat met 15% gestyg het.”
Sommige ontluikende lande se geldeenhede het ook erg deurgeloop. Pole se geldeenheid, die zloty, het met 5% teenoor die dollar ingekrimp te midde van vrese dat dié land en sy Oos-Europese bure voortaan aan die agterspeen sal suig wanneer daar om EU-finansiering aansoek gedoen sal word.
Die Kanadese dollar het sy laagste vlak in ses jaar teen die Amerikaanse dollar bereik en die Mexikaanse peso het oornag meer as 7,1% van sy waarde verloor.


Aandele sien rooi
Aandelemarkte in Asië het diep in die rooi gesluit, met die Nikkei in Japan (-7,8%) en die Hangseng (-2,9%) in Hongkong van die grootste verloorders.
Europese markte het ook van hul grootste verliese nog gely, met die Duitse DAX wat met 7% gedaal het, en die Franse CAC40-indeks wat 8,21% van sy waarde prysgegee het.
Die Italiaanse en Spaanse markte het met meer as 11% getuimel.
Amerikaanse aandelemarkte het teen 15:00 (Suid-Afrikaanse tyd) begin open en dit was gou duidelik dat hulle die res van die wêreldmarkte afwaarts sou volg. Sowel die Dow Jones-nywerheidsindeks as die S&P 500-indeks het spoedig met 2,5% getuimel.
Divya Devesh, ’n strateeg by Standard Chartered in Singapoer, sê: “Brexit is duidelik ’n enorme negatiewe verwikkeling vir ontluikende bates en die uitvloei van kapitaal uit dié markte kan nog ’n aantal weke voortduur.” - Netwerk24 en eie berig

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!