• Tuisblad
  • Sake
  • Markus Jooste gaan eis van R858 m. wél bestry
Markus Jooste gaan eis van R858 m. wu00e9l bestry
Markus Jooste gaan eis van R858 m. wu00e9l bestry

Markus Jooste gaan eis van R858 m. wél bestry

Die nodige dokument waarin Jooste aandui dat hy van plan is om homself te verweer, is by die hooggeregshof in Kaapstad.
Nellie Brand-Jonker en Hanlie Stadler

Markus Jooste se regspan het Woensdagmiddag aangedui dat hy hom wel teen Steinhoff se siviele eis van nagenoeg R858 miljoen gaan verweer.

Die nodige dokument waarin Jooste aandui dat hy van plan is om homself te verweer, is by die hooggeregshof in Kaapstad ingedien en aan Steinhoff se regspan gestuur.

Dit beteken Jooste het die spertyd gehaal, wat tien werkdae was nadat die dagvaarding in die saak op hom bestel is.

Jooste het nou nóg 20 werkdae om sy teenargumente by die hof in te dien.

Callie Albertyn van De Klerk & Van Gend verteenwoordig Jooste en Robert Driman van Werksmans verteenwoordig Steinhoff.

Steinhoff wou nie kommentaar lewer op die nuus dat Jooste homself gaan verweer nie.

Ben la Grange, teen wie ’n eis tegelykertyd gebring is, het ’n maand gekry om aan te dui of hy homself gaan verweer omdat hy intussen na Gauteng verhuis het.

La Grange het aan Netwerk24 bevestig hy gaan homself verweer. Hy het nog nie formeel kennis gegee nie, maar het nog ’n paar weke om dit te doen.

Steinhoff eis nege jaar se salaris, bonusse en aandele-aansporings, plus die rente daarop, asook regskoste van Jooste, wat tot 4 Desember sy uitvoerende hoof was. Die eis is uiteengesit in ’n dagvaarding wat op 14 Junie deur die hof gestempel is en kort daarna op Jooste bestel is.

DAGVAARDING

Die eis is vir bedrae waarvan dele in rand en dele in euro was. Teen die heersende wisselkoers kom dit neer op altesame R858 miljoen. Dit is vir alle inkomste wat Jooste vanaf 2009 tot 2017 verdien het en aandele wat aan hom toegeken is.

Die waarde van die aandele is bereken soos met die toekenning daarvan. Steinhoff se aandeelprys het in duie gestort nadat boekhou-ongerymdhede in Desember 2017 openbaar gemaak is.

Nagenoeg R279 miljoen word van La Grange, tot in Januarie 2018 Steinhoff se finansiële hoof, geëis. Dit verteenwoordig sy salaris, bonusse en aandele-aansporings vanaf 2010 tot begin 2018.

Steinhoff eis die geld terug op grond daarvan dat Steinhoff se finansiële prestasie wesentlik oordryf is deur middel van “fiktiewe en/of onreëlmatige transaksies” waardeur inkomste, die waarde van handelsname en van eiendomsportefeuljes “wesentlik oordryf” is.

Die hofstukke maak dit duidelik dat syfers in ’n ingewikkelde web van transaksies heen en weer geskuif is op die boeke van die magdom Steinhoff-entiteite.

Dit het ingesluit die beweerde “koop en verkoop van entiteite, handelsmerke, handelsname, intellektuele eiendomme, rabatte en kundigheid, met inkomste uit die transaksies wat nie betaal is nie, wat gelei het tot lenings of ander ontvangbare rekeninge wat aan die Steinhoff-groep geskuld word wat weinig of geen ekonomiese waarde gehad het nie en wat nooit vereffen is nie.”

BATEWAARDES OPGEBLAAS

Daarby was daar die “herklassifisering van nieverhaalbare lenings en ontvangbare rekeninge as ander bateklasse, byvoorbeeld kontantekwivalente, stygings in die waarde van vaste eiendom, stygings in die waarde van handelsmerke, of stygings in die waarde van klandisiewaarde, waarvan die uitwerking was dat die indruk geskep is dat die lenings en ontvangbare rekeninge vereffen is, en meegebring het dat ander batewaardes opgeblaas is.”

Wat baie interessant is in die hofstukke, is dat daar nêrens beweer word dat Jooste en La Grange die boeke gekook het nie. Louis du Preez, Steinhoff se uitvoerende hoof, het in Maart in die parlement agt name genoem wat in PwC se forensiese ondersoek na die ongerymdhede genoem is, insluitend Jooste en La Grange.

Die siviele saak berus bloot daarop dat Jooste en La Grange nié betaal sou word indien die maatskappy se direksie bewus was van die ware stand van die groep se geldsake nie.

“As Steinhoff bewus was van die ware feite met betrekking tot finansiële prestasie, sou geen salarisse, bonusse of aandele-aansporings betaal gewees het nie. Dis betaal op die bona fide- redelike, maar foutiewe, oortuiging dat die betalings aan hulle verskuldig was,” luidens die hofstukke. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-09-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Premier League: Manchester City 2 vs 2 Arsenal | Brighton 2 vs 2 Nottingham Forest LaLiga: Real Madrid 3 vs 2 Deportivo Alaves | Valencia 0 vs 0 Osasuna | Sevilla 2 vs 1 Real Valladolid | Real Betis 1 vs 2 Mallorca | Rayo Vallecano 1 vs 1 Atletico Madrid | Villarreal 1 vs 5 Barcelona | Athletic Club 3 vs 1 Celta Vigo | Getafe 1 vs 1 Leganés SerieA: Atalanta 2 vs 3 Como | Inter Milan 1 vs 2 AC Milan | AS Roma 3 vs 0 Udinese | Monza 1 vs 2 Bologna | Fiorentina 2 vs 1 SS Lazio European Championships Qualifying: Preston North End 0 vs 0 Blackburn Rovers English Championship: Preston North End 0 vs 0 Blackburn Rovers #N/A Currency: GBP to NAD 22.96 | EUR to NAD 19.21 | CNY to NAD 2.45 | USD to NAD 17.25 | DZD to NAD 0.13 | AOA to NAD 0.02 | BWP to NAD 1.27 | EGP to NAD 0.35 | KES to NAD 0.13 | NGN to NAD 0.01 | ZMW to NAD 0.64 | ZWL to NAD 0.04 | BRL to NAD 3.14 | RUB to NAD 0.19 | INR to NAD 0.21 | USD to DZD 131.87 | USD to AOA 933.05 | USD to BWP 13.12 | USD to EGP 48.5 | USD to KES 128.48 | USD to NGN 1596.98 | USD to ZAR 17.25 | USD to ZMW 26.37 | USD to ZWL 321 | Stock Exchange: JSE All Share Index Same 0 | Namibian Stock Exchange (NSX) Overall Index 1845.32 Up +0.73% | Casablanca Stock Exchange (CSE) MASI 14193.3 Down -0.53% | Egyptian Exchange (EGX) 30 Index 30871.1 Down -0.49% | Botswana Stock Exchange (BSE) DCI 9651.25 Same 0 | NSX: MTC 7.75 SAME | Anirep 8.99 SAME | Capricorn Investment group 17.34 SAME | FirstRand Namibia Ltd 49 DOWN 0.50% | Letshego Holdings (Namibia) Ltd 4.1 UP 2.50% | Namibia Asset Management Ltd 0.7 SAME | Namibia Breweries Ltd 31.49 UP 0.03% | Nictus Holdings - Nam 2.22 SAME | Oryx Properties Ltd 12.1 UP 1.70% | Paratus Namibia Holdings 11.99 SAME | SBN Holdings 8.45 SAME | Trustco Group Holdings Ltd 0.48 SAME | B2Gold Corporation 47.34 DOWN 1.50% | Local Index closed 677.62 UP 0.12% | Overall Index closed 1534.6 DOWN 0.05% | Osino Resources Corp 19.47 DOWN 2.41% | Commodities: Gold US$ 2 654.83/OZ DOWN -0.0013 | Copper US$ 4.46/lb DOWN -0.0091 | Zinc US$ 3 005.00/T DOWN -0.38% | Brent Crude Oil US$ 73.89/BBP DOWN -0.0177 | Platinum US$ 989.62/OZ UP +0.13% #N/A