Marmerrenoster kry huis in Oostenryk

Francoise Steynberg
Francoise Steynberg - Die marmerrenosterbeeld wat die Franse beeldouer Gé Pellini gemaak het, is nie meer op Namibiese bodem nie, maar het 'n tuiste in Oostenryk gekry.

Die beeld, wat 4,5 ton weeg, se nuwe Oostenrykse baas wil egter anoniem bly.

Hy het 30 000 euro (sowat N$865 000) daarvoor opgedok, het me. Tanja Dahl, uitvoerende hoof van die Namibiese Professionele Jagtersvereniging (Napha), gesê.

"Die skip met die beeld het Woensdag uit die Walvisbaaise hawe vertrek en gaan vandag (Vrydag) in Hamburg se hawe in Duitsland aankom en vandaar per pad na Oostenryk vervoer word," het sy gesê.

Pellini het die lewensgrootte renosterbeeld in Julie verlede jaar uit 'n marmerblok by die Franko-Namibiese Kultuursentrum (FNCC) in die hoofstad begin beitel.

Die marmerblok het nege ton geweeg en is van Karibib af.

Teen die einde van Augustus was die beeld klaar en ’n horing van drie meter lank is daarop aangebring.

Napha het ná die voltooiing van die beeld op 31 Augustus 2017 'n spoggerige galadinee ten bate van hul Hunters United Against Poaching-trust (Huap) gehou, waartydens die beeld opgeveil is.

Daar was egter geen suksesvolle bieërs nie.

Intussen het die marmerrenoster voor FNB Namibia se Parkside-tak in Windhoek gepryk.

"Ons het gehoop om heelwat meer vir die beeld te kry, maar is verheug oor die geld wat Huap gebruik om 12 wildgidse in die Zambezistreek op te lei," het Dahl gesê.

"Die 12 gidse het reeds 'n kursus agter die blad en is baie opgewonde daaroor om verder in die veld opgelei te word. Daar is vir hulle tente en kamptoerusting vir die maand lange kursus gekoop," het Dahl gesê.

Volgens haar het die gidse die afgelope jaar reeds baie sukses in die voorkoming van wildstropery behaal - nie net wat olifantstropery betref nie, maar ook onwettige visvang in riviere.

'n Tweede, kleiner renosterbeeld deur die plaaslike kunstenaar Alpheus Mvula, wat saam met Pellini gewerk het, soek ook nog 'n baas.

Dié beeld, wat Mvula met die hand gebeitel het, kan by die Kollege van die Kunste (Cota) gesien word.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!