Marna staan vir niks terug nie
Marna staan vir niks terug nie

Marna staan vir niks terug nie

'n Gesiggestremde Windhoeker het sowat 1% sig oor, maar Marna van der Merwe laat haar nie stuit nie.
Tanja Bause
Tanja Bause

“Ek is 'n ma van twee dogters, 'n vrou, 'n kan­tooradministrateur van een maatskappy en die operasionele toesighouer van 'n ander én ek is blind,” sê me. Marna van der Merwe (52).

Sy is die afgelope ses jaar die kantooradministrateur van Africa Commercial Vehicles en sedert November verlede jaar die operasionele toesighouer van Kyani Tours & Safaris.

Marna is op Tsumeb gebore en sy was tot graad 5 in Laerskool Suiderhof in Windhoek.

“Ek is gebore met ma­kulêre degenerasie wat oorerflik is en deur geleidelike gesigsverswakking gekenmerk word. Dit is basies selle in my oog wat doodgaan en hoe meer doodgaan hoe meer verswak my sig. Ek het tot op elfjarige ouderdom normale sig gehad. Tans het ek nog sowat 1% sig oor, wat beteken ek kan lig en donker onderskei en bietjie beweging sien.”

Sy moes by die Pionierskool op Worcester in Suid-Afrika verder gaan leer omdat haar sig verswak het.

“My ma het gesê sy los my nie alleen nie en my ouers het saam Kaap toe getrek. Ek het egter nog altyd gesê ek sal eendag terug Namibië toe kom, terug huis toe.”

Sy het by die skool op Worcester 'n sekretariële en 'n telefonistekursus gedoen.

SELFSTANDIG GELEER

“Dit was moeilik in die begin. Almal in die skool was in dieselfde bootjie met een of ander gestremdheid, maar as jy die wye wêreld ingaan, besef jy dat jy uitstaan, dat mense nie altyd vriendelik is nie en jou nie altyd as 'n gelyke behandel nie.

“Toe ek 'n kind was, was ek baie sensitief. Ek wou nie huis toe gaan nie; in die koshuis het almal 'n probleem gehad. By die huis as die niggies en nefies kom kuier, het ek in die kamer gaan wegkruip omdat hulle kon sien en ek nie; hoewel ek daai tyd nog relatief goed kon sien.

“My pa het my daar deurgehelp en gesê ek kan nie so redeneer nie.

“My ma het my baie selfstandig grootgemaak. Ek onthou 'n vriendin wat saam met my huis toe gekom het en my ma het gesê: 'Daar is die brood, botter en konfyt op die tafel, help julle self'. Sy het gesê: 'Tannie bedoel seker nie dat ek my eie sny brood moet smeer nie'. En my ma het geantwoord: 'My kind, jy kan nie sien nie, maar jou hande makeer niks nie'.

“Sy wou weet wat sal gebeur as sy mors en my ma het gesê: 'Dan vat ek 'n lap en maak dit skoon'.

“Dit was die eerste sny brood wat sy in haar lewe gesmeer het. Ek is dankbaar dat ek so grootgemaak is, want vandag staan ek vir niks terug nie.”

Marna het haar nie laat onderkry nie en sy het ná skool as 'n skakelborddame begin werk. Sy en haar familie het in 2005 terug na Namibië verhuis.

“Die tyd was reg en ek kon uiteindelik huis toe kom. Ek het onmiddellik vir werk as ontvangsdame by verskeie besighede aansoek gedoen en elke keer is ek van die hand gewys. Mense en besighede in Namibië was nog baie agter die tyd wat mense met gestremdhede betref.

“Baie mense dink omdat jy blind is, is jy ook verstandelik gestremd en kan niks vir jouself doen nie. Maar ek is net soos enige ander mens. Ek kook, stryk, was klere, hou die huis skoon en het twee kinders grootgemaak. Ek kan net nie sien nie, dis al.”

Sy het nooit moed opge­gee nie en in 2009 het sy as ontvangsdame by Blaauw's Transport begin werk.

“Mnr. Deon Blaauw het my gevra hoekom ek nog nie gewerk het vandat ek in Namibië aangekom het nie? Ek het net gesê dit is omdat Namibiërs baie agter die tyd is. Ek het die werk gekry en vier maande later het hy vir my gesê hy was baie kwaad vir my oor die stelling, maar hy het besluit dit is 'n pad wat hy gaan stap en dat hy nog nie 'n oomblik spyt was nie.”

MEER PLIGTE

Vier jaar later het sy as verkoopsdame by ACV begin werk.

“Dit is iets wat ek nooit gedink het ek sal kan doen nie. Ek het altyd gedink om 'n ontvangsdame of skakelborddame te wees, is maar wat ek kan en sal doen. My direkteur, mnr. Jakkie Coetzee, het egter in my geglo en my gehelp om my potensiaal te ontdek. Toe verkoop ek 30 Iveco-bussies in bietjie meer as 'n jaar en 'n half. Ek was die nie-amptelike persoonlike assistente vir vier verskillende bestuurders toe ek die pos as kantooradministrateur aanvaar het.”

Einde verlede jaar is die sustermaatskappy Kyani Tours & Safaris gestig en Marna is as die operasionele toesighouer aangestel.

“Ek doen al die besprekings vir die Kyani-busse. Ons verhuur die bestuurder en die busse aan ander toermaatskappye. So byvoorbeeld as daar 'n probleem iewers op die toer is dan bel hy my en ek sorteer dit uit.

“My werk is vir my baie lekker, want ek doen alles per foon en die mens aan die ander kant van die telefoon weet nie dat ek blind is nie. So hy kry my nie jammer nie, probeer my nie anders behandel nie. Ek is net 'n mens wat op die foon praat.

“In die wêreld werk dit so as jy 'n koppie koffie omstamp was dit 'n ongeluk. As ek die koppie omstamp, is dit omdat ek blind is.”

Sy werk op haar rekenaar waarop sagteware gelaai is sodat die rekenaar soos haar foon met haar praat.

“Ek het altyd my oorfone aan. Op die een praat my rekenaar met my en lees byvoorbeeld my e-posse, op die ander een praat my foon met my as daar 'n oproep inkom. So doen ek my werk en het die voordeel as my rekenaar se skerm breek, kan ek aangaan, want ek lees in elk geval nie wat daar staan nie, ek hoor alles,” het sy laggend gesê.


Skool vir gesigge­stremde kinders

'n Skool vir gesiggetrem­de kinders het vir Marna genader om met die kinders en veral die meisies te gesels oor die moontlikhede wat daar buite is.

“Ek probeer om hulle te motiveer. Ek het ook met die onderwysers gesels en vir hulle gesê hulle moet die kinders leer om selfstandig te wees. Hulle moet dinge vir hulself kan doen. Hulle moet kan tik en op rekenaars werk om 'n toekoms te kan hê; om braille te kan lees, help jou nie verder nie. Vat byvoorbeeld my werk. Ek het nog nooit braille gebruik nie, maar met die regte sagteware kan ek op Word en Excel werk.

“Ek wil baie graag hê dat Namibië en Namibiërs bietjie bykom, wil ek amper sê, en besef wanneer iemand 'n gestremdheid het, beteken dit nie hulle kan niks doen nie. Dit beteken nie dat jy nie verstaan nie en beslis nie dat jy 'n aansteeklike siekte het nie. Ek is doodnormaal, ek kan net nie sien nie.”

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!