Marokko lok vinnige Volla uit die suide

Dis my eerste deelname aan die unieke uitdaging, maar ek verstaan dis baie soos die Dakar, sê Hennie de Klerk.
Tielman van Lill
Tielman van Lill - Die Suid-Afrikaner Hennie de Klerk, wenner van die 2018 Dakartydren se trofee vir die beste groentjie, gaan vanaf 13 tot 20 April met sy doelgeboude 4x4 V8 VW Amarok aan die uitmergelende Marokko Desert Challenge (MDC) deelneem.

“So baie duine en so min tyd,” sug De Klerk, wat die oorblywende 49 dae een vir een aftel. De Klerk wat met die 2018 Dakar algeheel 28ste geëindig het, kom oefen gereeld op die duine agter Walvisbaai om sy vernuf vir die Marokko Challenge te slyp.

De Klerk het ook verlede jaar suksesvol aan die ikoniese 2019 Total Tara-tydren deelgeneem wat vir die 50ste keer deur die Windhoek- en Walvisbaai-motorklubs aangebied was.

Sy kragtige Amarok word hoofsaaklik deur TreasuryONE in Pretoria geborg, terwyl sy bande deur Cooper Tyres Suid-Afrika verskaf word.

Dié VW se turbo-gedrewe V8 Ford Mustang-enjin van 5 liter met 32 kleppe is in Suid-Afrika vervaardig en lewer meer as 310 kW en 530 newton-meter wringkrag.

CIM Lubricants smeer die Amarok se kragbron, die sesspoed Sadev-ratkas en ewenaars.

“Ek gaan weer die Cooper STT Pro-bande gebruik, soos in die 2018 Dakar. In die 10 000 km wat ons met dié bande afgelê het, was ongeveer 5 000 op grondpaaie en in sand. Ek het net twee bande verloor. Die STT Pro's het drie metaallae in die band se wande wat dit ideaal vir duine en sand maak.

“Met die geweldige hitte wat tydens renne en in uiterste woestyntemperature opgewek word, kan ek nie met enige motorolie 'n kans waag nie. Die olie wat ek gebruik, speel 'n kardinale rol in die enjin se vertoning. CIM verskaf aan my spesiaal geformuleerde olies wat ek gebruik,” verduidelik De Klerk.

Die Marokko Desert Challenge (MDC) is die tweede grootste van sy soort en word vanjaar vir die elfde keer aangebied. In April sal De Klerk en sy navigator binne agt dae die roete van net minder as 3 000 km moet baasraak wat van kus tot kus in die berugte Westelike Sahara-woestyn verby die Groot Atlasgebergte kronkel.

Twee en 'n halwe trajekte sal in die gedeelte afgelê word wat 'n gemengde uitdaging van vinnige sneldele, tegniese seksies, wye Afrika-vlaktes, hope duine, soutpanne asook gedeeltes van die legendariese ou Parys-na-Dakar-roete bied.

Die seremoniële wegspring is by Agadir aan die Atlantiese Osean, maar De Klerk en navigator Johann Smalberger sal eers sake vanaf Plage Blanche na Abetthe ernstig opneem om agt spesiale trajekte (SS) later in die noorde by Oujda naby Saïdia aan die Mediterreense See klaar te maak. Statisties voltooi sowat 75% van die ­deelnemers jaarliks die MDC.

De Klerk se Amarok was gister vir die laaste keer getoets, waarna dit saam met die nodige spaaronderdele in 'n vraghouer na Spanje verskeep sal word. Hy en sy span sal vroeg in April die Amarok gaan haal en die 1 200 km na Agadir aanpak waar die inspeksie op deelnemers se voertuie gedoen sal word om te sorg dat almal aan die tegniese regulasies voldoen.

Roy Obery en Lionel Lewis is gesoute manne wat De Klerk reeds met sy suksesvolle uitstappie na die 2018 Dakar vergesel het. Vanjaar sal dit weer so wees wanneer Obery en Lewis vir die Amarok se welstand sal sorg.

“Ek dink met die ervaring wat ons in die Dakar opgedoen het, is ons gereed om die Morocco Desert Challenge suksesvol te voltooi. Ons is baie opgewonde oor ons kanse en hoop om weer Suid-Afrika, sy mense en ons ondersteuners trots te maak,” het De Klerk afgesluit.

Jean-Claude Kaket van België is sedert 2010 as direkteur in beheer van die Morocco Desert Challenge.

Volgens die bekende navigator Jean-Marie Lurquin, wat al vir jaers soos Giniel de Villiers, Jean-Louis Schlessen en Collin McRae die pad aangewys het, het Kaket weereens daarin geslaag om nuwe roetes te vind.

“Kyk, ek ken Marokko baie goed en weet waar watter roetes is, maar Jean-Claude het my weereens verbaas met die nuwe roetes wat hy elke jaar uitsnuffel. Ek het gedink die suide gaan niks besonders oplewer nie, maar hy het trajekte saamgestel met ongelooflike panoramas waar jy jou storie as navigator moet ken.

“Dit is roetes wat ek nog nie gesien het nie en verder noord is daar droë riviere met baie sagte sand en duine wat sake kan bemoeilik. In die Marabout-trajek het hy 'n rivier gekies wat my verstom het. Die laaste twee trajekte is baie vinnig en veral die tweede laaste een gaan blitsig wees, asook die laaste 10 km van SS8 waar die spanne volspoed kan jaag.

“Vanjaar het Jean-Claude dit reggekry om gruis- en klipperige dele tot die minimum te beperk en dit is mos waarvan bestuurders hou. Natuurlik is daar dele waar jy dit wel sal teëkom. Ek moet sê dat die roeteboek die beste is wat jy kan kry. Almal betrokke het 'n fantastiese bydrae gelewer,” het Lurquin gesê wat elke sneldeel van die MDC gaan open.

Die daaglikse afstande: SS1: Saterdag 13 April, Plage Blanche na Abetthe (218 km). SS2: Sondag 14 April, Abetthe na Smara (402 km). SS3: Maandag 15 April, Smara na Assa (372 km). SS4: Dinsdag 16 April, Assa na Foum Zguid (425 km). SS5: Woensdag 17 April, Foum Zguid na Zagora (308 km). SS6: Donderdag 18 April, Zagora na Merzouga (370 km). SS 7: Vrydag 19 April, Merzouga na Bouarfa (427 km). SS8: Saterdag 20 April, Bouarfa na Oujda (219 km). Totale renafstand 2 741 km.

De Klerk se vordering met die MDC kan op Facebook-blad TreasuryONE Motorsport gevolg word.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!