Marokko se mooiste mosau00efek lu00ea in my hart
Marokko se mooiste mosau00efek lu00ea in my hart

Marokko se mooiste mosaïek lê in my hart

Francoise Steynberg
Marokko is ’n land wat ek nog altyd wou besoek en Casablanca klink só romanties weens die gelyknamige ikoniese rolprent van Ingrid Bergman en Humphrey Bogart.
Ek het eers my vliegtuigkaartjie gekry die dag voor ek moes vlieg en toe is dit die lang vlug via Johannesburg en Kaïro oor die Mediterreense See voor ons uiteindelik in Casablanca neer­stryk. Teen daai tyd is jy so moeg dat jy niks behalwe ''n bed waardeer nie.
Ons toergroep het bestaan uit 55 joernaliste uit Afrika en almal was baie aangenaam, so oulik dat ek nie een onder ''n bus wou ingooi nie.
Ons het die eerste dag die majestueuse Hassan II-moskee besoek en my asem is weggeslaan deur die mooiste mosaïek, marmer, houtsneewerk en kandelare. Tydens ons busrit deur Casablanca het die tolk verduidelik dat dié mees liberale en ekonomiese hoofstad van die voormalige Franse kolonie besig is om weer sy outydse glorie van sy voormalige naam, Anfa, te herwin.
By die promenade “de la corniche” het die see het vir my so sout soos ons see geruik. Daar het ons lafenis teen die hitte by ’n kafee met kleurryke potplante teen die muur gevind. Getrou aan my reistradisie, moet ek in elke land waar my voetspore lê, hul bier proe en al kos dit meer as N$70 vir ''n botteltjie, is elke druppel Casablanca-bier al die durhams werd.
Die aand is ons na ’n “soukh”, ''n tradisionele mark in ’n nou stegie waar plat brode, druiwe, turksvye en hope speserye netjies in waentjies uitgepak lê. Al wat ek soek, is Arghan-olie en dadels vir my ma, maar die ou oom met die dadels is taai vir kibbel. Ten minste is die straatkatte nie maer nie en ’n vrou in ’n “burka” sit vir hulle kaas neer. Ek weet nie of katte mag kaas eet nie.
Toe is ons na die politieke en administratiewe hoofstad Rabat waar ons werk begin het met die afskop van die Klimaatberaad se COP22 Akademie. Rabat laat my dink aan Jerigo (nie dat ek al ooit in Jerigo was nie) weens die groot, rooibruin muur wat die stad omring. Dit is ’n ou stad aan die mond van die rivier Bou Regreg met mooi, groot bome. Casablanca is vir my baie kosmopolitaans, terwyl Rabat vir my die ware, tradisionele Marokko is. Tog voel dit nie vir my of ek in Afrika is nie.
In Rabat het ek ’n mark besoek waar ek stroopsoet dadels kon proe voor ek dit koop. Die enigste probleem was ’n man wat die hele tyd saam met my gepiekel het. Ek het sy hulp waardeer, maar hy het my tot terug by my hotel vergesel waar hy my telefoonnommer gevra het.
Langs die geskiedkundige fort Oudayas Kasbah met sy rooi mure wat tans gerestoureer word, het ek die meeste grafte in my lewe gesien. Binne die fort het ek uiteindelik die hemelblou deure van Marokko raakgeloop, asook die gesogte Arghan-olie en “babouche”-leerskoene.
Marokko spog ook met heerlike Mediterreense geregte en ek het omtrent weggelê aan olywe en lam- en pruim-“tagine” wat stadig in ’n erdepot met ''n tuit gestoom word. “Pasia” is ''n diepgebraaide koekie wat bestaan uit gemaalde hoender, amandels en kaneel, wat reguit van die hemel kom. Moenie eens praat van al die soetkoekies met neute en menttee wat vir ons by mediakonferensies aangedra word nie. Ek kon nooit nee sê vir die créme caramel wat elke middag- en aandete as nagereg bedien is nie.
Marokko is soos sy mooiste mosaïek se teëltjies in my hart vasgemessel.

Kommentaar

Republikein 2025-02-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer