Mars-helikopter se verkennings hou voordele in
Buiten dat die helikopter nou sy 12de vlug kon voltooi, sal dit Nasa in toekomstige ruimtesendings help.
Elvira Hattingh – Die Mars-helikopter, ofte wel Ingenuity, het afgelope Maandag sy 12de vlug oor die rooi planeet voltooi – dié keer oor die uitdagende South Séítah-gebied, wat wetenskaplikes as 'n geologiese wonderwerk beskou.
Die vlug was 'n verkenningstog waartydens Ingenuity 'n arendsblik van die gebied vir sy groter vennoot, die Perseverance, moes bied.
Dit volg nadat die Amerikaanse ruimteagentskap (Nasa) se verkenningstuig, Perseverance – waarby Namibië se wyle dr. Japie van Zyl ten nouste betrokke was vóór sy aftrede in 2019 – in Februarie op Mars geland het. Vir die eerste keer het 'n ruimtetuig 'n klein helikoptertjie saamgeneem, wat aan sy buik vasgemaak was.
Die helikopter is die breinkind van Van Zyl, voormalige direkteur van sonnestelselverkenning by Nasa se Straalaandrywingslaboratorium (JPL).
Volgens 'n mediaverklaring deur JPL se Teddy Tzanetos, leier van die Ingenuity-span en Håvard Grip, Ingenuity-hoofvlieënier, was dit 'n “ambisieuse vlug” waartydens Ingenuity vir so lank as 169 sekondes 10 meter moes klim en altesaam 450 meter moes vlieg.
Volgens die wetenskaplikes was die vlug uitdagend omdat die helikopter 'n relatief eenvoudige navigasiestelsel het, wat eintlik ontwerp is om oor 'n plat gebied te vlieg. Séítah South beskik egter ook oor talle rotse, koppies en ander geologiese formasies.
Tog is die vlug suksesvol voltooi en is tien foto's geneem, wat gebruik sal word om te bepaal watter ander geologiese kenmerke in die gebied moet deur die Perseverance-ruimtetuig van nader bestudeer word.
Daar word na tekens van lewe op die rooi planeet gesoek, hetsy histories of wat tans nog bestaan. Tzanetos en Grip sê hulle het aanvanklik gehoop om minstens een en selfs dalk tot vier suksesvolle vlugte met Ingenuity te onderneem.
Buiten dat die helikopter nou sy 12de vlug kon voltooi, sal dit Nasa in toekomstige ruimtesendings help met die ontwerp van vliegtuie of helikopters en ook om te weet waarheen dit sal kan vlieg – en waarheen nie.
“Ingenuity het nou reeds 19 minute en sowat 1,2 seemyle op Mars afgelê. Alle stelsels is steeds 'groen' en die helikopter is gereed vir voortgesette vlugte,” het Tzanetos en Grip gesê.
Van Zyl het in 2018 tydens 'n onderhoud met Republikein verduidelik dié projek lê hom baie na aan die hart en dat hy in 2013 omtrent vir sy Mars-helikopter moes “baklei”.
Die helikopter weeg sowat 1,8 kg en bevat batterye wat met sonkrag werk, 'n kamera en sender. Dit beskik nie oor enige wetenskaplike instrumente nie.
- [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie