Mars kom náby met bloedmaan

Vandeesmaand sorg die naghemel vir ‘n seldsame skouspel wanneer Mars die naaste aan die aarde in duisende jare kom en die langste maansverduistering vir die 21ste eeu plaasvind.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh - Mars bereik vandeesmaand sy naaste punt aan die aarde sedert Augustus 2003.

Dít dae nadat dié planeet ook sy verskyning reg langs ‘n totaal verduisterde maan sal maak.

Boonop sal dié totale maansverduistering die langste een vir die 21ste eeu wees. Tydens totale maansverduisterings word dikwels na ‘n “bloedmaan” verwys weens die rooierige kleur wat die maan hiertydens aanneem.

Verder kan sterrekykers uitsien na die gewilde Perseïdes-meteoorreën gedurende Augustus.

STORM OP ROOI PLANEET

Me. Jane Houston Jones, wetenskapskrywer by Nasa se Straalaandrywingslaboratorium (JPL), het in ‘n video op dié laboratorium se Facebook-blad gesê Julie en Augustus sal ‘n goeie tyd wees om die rooi planeet te bestudeer wanneer dit sowat 57,6 miljoen km van die aarde af sal wees.

“Dit is die naaste punt wat die planeet die afgelope 15 jaar aan die aarde bereik. In 2003 was dit sowat 56 miljoen km van die aarde af en tóé was dit die naaste wat die rooi planeet in 59 619 jaar aan ons gekom het,” het sy gesê.

Sy het bygevoeg mense sal vandeesmaand, veral met behulp van ‘n teleskoop, waarskynlik die ligter en donkerder gebiede op die planeet kan sien en by tye dalk selfs sy yspole.

“Mars ervaar tans ‘n groot storm, wat kan veroorsaak dat minder besonderhede op sy oppervlak gesien word.

“Op 27 Julie bereik die planeet opposisie, wat beteken die son, aarde en Mars vorm ‘n reguit lyn met die aarde in die middel.

“Op 31 Julie sal dit amptelik sy naaste punt aan die aarde bereik. Mars sal vir nog baie maande sigbaar wees – ook ná Julie en Augustus. Dit sal egter maand ná maand kleiner vertoon soos dit verder van ons af wegbeweeg,” het Jones gesê.

BLOEDMAAN

Op 27 Julie sal ‘n totale maansverduistering in Namibië sigbaar wees – asook op plekke soos Australië, Asië, Europa en Suid-Amerika.

“Mars sal dan reg langs die verduisterde maan sy verskyning maak,” het Jones gesê. Die maan sal op 27 Julie op sy verste punt van die aarde af wees en kleiner as gewoonlik in die lug vertoon.

Volgens www.timeanddate.com sal hierdie nie net die tweede totale maansverduistering vir 2018 wees nie, maar ook die langste een vir die 21ste eeu. Die maan sal glo vir altesaam 103 minute heeltemal verduister wees en vir twee ure en 12 minute gedeeltelik.

Die totale duur van die verduistering is ses ure en 14 minute.

Plaaslik sal Namibiërs van 19:14 af op 27 Julie kan sien hoe die aarde se skaduwee oor die maan begin skuif. Die verduistering sal op 28 Julie teen 01:28 tot ‘n einde kom.

‘n Maansverduistering vind egter nooit op sy eie plaas nie – ‘n sonsverduistering vind altyd sowat twee weke daarvóór of daarná plaas. Op 13 Julie en weer op 11 Augustus sal ‘n gedeeltelike sonsverduistering voorkom, maar dit sal nie van Namibië af sigbaar wees nie.

METEOORREËN

Die Perseïdes-meteoorreën sal sy piek op 12 en 13 Augustus bereik en in Namibië sal dit die duidelikste tussen 04:00 en 07:00 in ‘n noordoostelike rigting gesien kan word.

Hierdie is een van die helderder jaarlikse meteoorreëns, wat tussen 17 Julie en 24 Augustus voorkom. Die meteoorreën is gewild onder sterrekundiges omdat mens op sy piek sowat 60 tot 100 meteore per uur op 'n donker plek kan sien.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!