Marylebone se toerspan in aantog

Krieket
Tielman van Lill
Die legendariese Marylebone Krieketklub (MCC) arriveer môre op sy toer in Namibië en sal vanaf 3 tot 14 November ''n reeks van sewe wedstryde teen plaaslike spanne in die hoofstad, asook op Walvisbaai speel.

Die MCC wat in 1787 deur Thomas Lord gestig is, is die oudste krieketklub ter wêreld en is die eienaars van die roemryke Lord''s krieketstadion in Londen.

Die MCC het tot en met 1993 as die administratiewe hoof van internasionale krieket opgetree en ook die sport in Engeland en Wallis bestuur. Sedertdien is die Internasionale Krieketraad (ICC) in die lewe geroep wat die spel wêreldwyd administreer.

Die MCC onderneem gereeld toere na ontwikkelende krieketlande in ''n poging om die sport te bevorder en met die ontwikkeling daarvan te help. Die toer na Namibië sal die geleentheid aan plaaslike spelers bied om teen spelers van die MCC kragte te meet wat ook afrigtingsklinieke in Windhoek en Walvisbaai sal aanbied.

Die Marylebone Krieketklub het Namibië reeds vier keer tevore besoek waarvan die laaste keer in 2009 was. Volgens die MCC se webblad (www.lords.org/mcc) speel die klub meer wedstryde per jaar as enige van sy eweknieë ter wêreld. Ongeveer 480 daarvan word teen skole, universiteite en ander spanne in die Verenigde Koninkryk gespeel, terwyl tussen 20 en 30 vir sy ontwikkelingsprogram oorsee opsy gesit word.

Volgens mnr. Laurie Pieters, wat die toer help reël, sal dié klub se toer ''n tydige inspuiting wees om krieket in Namibië die nodige blootstelling te gee.

“Dit is ''n absolute eer en voorreg vir ons om ''n klub van hierdie statuur as besoekers in Namibië te hê wat krieket plaaslik in gewildheid sal laat groei,” het die oudpresident van krieket in Namibië entoesiasties verduidelik.

Die toer skop Vrydag om 09:00 in die hoofstad met ''n T20-wedstryd af wanneer die Namibiese nasionale o.19-span die besoekers by die Affies-veld in Pionierspark takel. Om 14:00 sal nog ''n wedstryd by dieselfde venue gespeel word.

Die jong Namibiërs behoort vol selfvertroue te wees om goed te vaar nadat hulle vroeër vanjaar sewende met die junior Wêreldbeker in Bangladesj geëindig en outomaties vir die 2018-kampioenskap in Nieu-Seeland gekwalifiseer het.

Vrydag se botsing behoort goeie medisyne te wees om die o.19''s met voorbereiding vir 2018 te help.

Saterdag om 09:30 ontmoet die gaste ''n Namibiese A-span in ''n 50-beurt eendagwedstryd by Wanderers en die volgende dag sal ''n Namibiese Uitnodigingspan die besoekers by dieselfde veld, tyd en formaat aanvat.

Op Dinsdag 8 November om 08:30 kry die A-span by die veld van Trustco United in Olympia weer kans om in ''n T20-okkasie antwoorde teen die Maryleboners te soek.

Ná Dinsdag se uitstappie by United, vertrek die MCC-geselskap na die kus waar hulle twee dae later op Walvisbaai tussen 14:00 en 17:00 ''n afrigtingskliniek vir die plaaslike kinders sal aanbied.

Op Saterdag 12 November om 10:00 pak ''n kusspan die MCC by die Sparta-krieketklub, wat die Sondag om 10:00 opgevolg word wanneer die Welwitschia-elftal teen kaptein Joseph Barrs se span opstap.

Tim Robinson, ''n voormalige Engelse speler met 29 toetse en 26 internasionale eendagwedstryde op sy getuigskrif, sal as internasionaal erkende skeidsregter in al die wedstryde optree. Robinson het tussen 1984 en 1989 vir Engeland gespeel.

Spelers van die besoekende klub wat dopgehou kan word, is Ian Crosby, James Southgate en Adam Wheater wat goed deur jongelinge soos Dannyjo Cox, Joe Ellis-Grewal, Palash Joshi en Oliver Swann bygestaan kan word.

Die spanne wat sover bekend is:

Namibië onder 19

Ben Shikongo, Petrus Burger, Albert van der Merwe, Mauritius Ngupita, Lo-han Louwrens, Eben van Wyk, Niko Davin, Donovan Zealand, Julian le Roux, Fritz Coetzee, Francois Rautenbach, Jürgen Linde, Gerhard Lottering.



Namibië A

Niko Davin, Tangeni Lungameni, Zhivago Groenewald, Christopher Coombe, Mika Mutumbe, Danie van Schoor, Albert van der Merwe, Justin Baard, Hendrik Geldenhuys, Colin Peake, Lauritz Haccou.



Uitnodigingselftal

Stephen Baard, Wian van Vuuren, Craig Williams, Lo-han Louwrens, Sarel Burger, Nicholaas Scholtz, Zhivago Groenewald, Jan Frylinck, JJ Smit, Bernard Scholtz, Gerrie Snyman, Tangeni Lungameni.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!