Mashare oes binnekort eerste bloubessies

Na verwagting sal die eerste kommersiële oes van bloubessies in die land tussen 150 ton en 200 ton lewer.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh – Mashare Berries Farming gaan geskiedenis maak wanneer dit vanaf einde Junie die eerste keer bloubessies kommersieel in Namibië oes.

Mnr. Izak Grobbelaar, Mashare se produksiebestuurder, sê die bessies lyk goed en hulle verwag om tussen 150 ton en 200 ton te oes.

Dit volg nadat die skema, wat naby Rundu geleë is, in November verlede jaar 160 000 bloubessieplantjies vanuit Spanje op 20 ha gevestig het.

Grobbelaar sê die bloubessies het sy persoonlike verwagtinge sover oortref, maar besef die winter lê voor en hy weet nog nie wat die invloed van die koue op die produksie sal wees nie.

“Die feit is hierdie is die eerste keer wat so iets plaaslik gedoen word en ons werk met ‘n nuwe kultivar. Ons het nie ‘n maatstaf waaraan ons dit kan meet nie. Ons grond ons oesverwagtinge op onder meer hoeveel blomme ons tans sien,” het hy gesê.

Hy het voorheen verduidelik dat hierdie ‘n Amerikaans-Meksikaanse bloubessiesoort is – ‘n spesifieke variëteit wat geskik vir Namibië se klimaat is en ook meerjarig is.

Hy sê hulle het tans byekorwe onder hul nette en kan sien die bye doen hul werk, met vruggies wat al oral te sien is.

Plaaslike winkelgroepe het reeds belangstelling getoon om die bloubessie te koop en Grobbelaar sê hulle is besig om die bemarking van hul oes te beplan. Dit bly ook hulle mikpunt om van die vrugte uit te voer.

“Gesien hoe klein die Namibiese mark is, is dit nie Mashare se hooffokus nie. Die plaaslike mark bly egter belangrik; ons wil ook ons uitvoerkwaliteit bloubessies vir Namibiërs beskikbaar maak.

“Daarom doen ons moeite om die produk op soveel as moontlik winkelrakke in Namibië te kry,” het Köningstein Capital se beleggingsbestuurder, mnr. Albert Basson, aan Die Boer gesê.

Basson is ‘n direkteur van die Mashare-groep.

Grobbelaar het voorheen gesê hulle beplan om 95% van die opbrengs uit te voer. Dit sal hoofsaaklik na Brittanje en Europa, maar ook na die Midde-Ooste gaan, het hy gesê.

Die bloubessies word natgelei met water vanuit die Kavangorivier en direk in die sandgrond geplant.

Mashare het ook met hul eie byeboerdery begin, met mnr. Daniël Grobbelaar aan die stuur daarvan.

INPERKING

Die inperkings vanweë die wêreldwye Covid-19-pandemie het Mashare se werksaamhede egter ook geraak.

Die kenners wat die skema moes kom besoek en dit te akkrediteer sodat die bloubessies uitgevoer kan word, kan weens die reisverbod vir buitelanders nie na Namibië kom nie. Daar is tans ook baie min internasionale vlugte beskikbaar.

“Ons gaan die nodige akkreditasie kry deur onder meer gebruik te maak van die internet en byvoorbeeld video-oudits,” het Basson verduidelik.

Terselfdertyd word die aflewering van kunsmis en ander stowwe waarmee die bessies bespuit moet word, deur die pandemie se inperkingsregulasies vertraag.

“Alles vat langer om hier aan te kom. Dit is ‘n frustrasie,” het Grobbelaar gesê. “Die toerusting vir ons verkoelingsfasiliteit neem baie lank om vanuit Duitsland en Italië via Suid-Afrika na Namibië te kom.”

Basson voeg egter by: “Dit is vir ons belangrik om te noem dat ons planne maak om oplossings te vind vir die uitdagings wat as gevolg van Covid-19 ontstaan het. Daar word mos gesê ’n boer maak ‘n plan.”

TOEKOMSPLANNE

Basson het voorheen gesê hulle verwag om vanaf volgende jaar nog meer bloubessies te oes.

Volgens hom neem oeste jaarliks toe en namate die skema uitbrei, beoog Mashare om eindelik meer as 500 ton bloubessies per jaar te produseer.

Buiten vir die uitvoermarkte wat deur dié projek ontsluit sal word, meen Basson dit kan oor drie jaar werk vir tot 600 mense verskaf en help om talle kommersiële byeboerderye in Namibië tot stand te bring.

Basson sê daar is voorheen ‘n klein aantal bloubessieplantjies as deel van ‘n toetsaanplanting by Aussenkehr geplant. Bloubessies is egter nog nooit plaaslik vir kommersiële doeleindes verbou nie.

Basson sê Mashare Berries Farming, wat deel is van die Mashare Irrigation-groep, is ‘n private maatskappy wat ‘n Groenskema-besproeiingsplaas van die regering huur. Dit is sowat 50 km oos van Rundu teen die Kavangorivier geleë.

“Ons beskou ons ooreenkoms met die regering as ‘n voorbeeld van hoe ‘n suksesvolle openbare-private-vennootskap kan werk,” het Basson gesê.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer