'Maskers nie volgens spesifikasie'
'Maskers nie volgens spesifikasie'

'Maskers nie volgens spesifikasie'

Die gesondheidsministerie sê maskers wat by sy store afgelewer is en waarvoor miljoene geëis word, voldoen nie aan tenderspesifikasies nie.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – Mediese maskers wat nie aan die vereiste tenderspesifikasies voldoen en volgens vereistes vir noodaflewering by die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste se sentrale mediese store (CMS) afgelewer is nie.

Dit vorm die kruks van die ministerie se verweer teen 'n eis van N$7,5 miljoen deur MVM Investments vir die lewering van 252 000 maskers in Julie verlede jaar.

In hofstukke verwys die ministerie na die noodtoestand wat op 18 Maart verlede jaar in die lig van die Covid-19-pandemie verklaar is en dat 'n vrywaring deur die ministerie van finansies deur die eenheid vir openbare aankope (PPU) toegestaan is vir die aankoop van goedere en dienste vir die nasionale reaksieplan teen Covid-19. Dit beteken goedere en dienste word op 'n noodbasis verkry om spoedig teen die pandemie te reageer.

Volgens die ministerie is 'n tender aangevra vir die verskaffing van N95-maskers met spesifieke tegniese vereistes vir die verspreiding en gebruik deur gesondheidswerkers in staatshospitale en klinieke oraloor die land.

Die tenderdokument het volgens hofstukke duidelike spesifikasies vir die aankoop van N95-maskers gehad en MVM Investments se aanbod is op grond van hul kwotasie en spesifikasies aanvaar. Die dokument het dit ook duidelik gestel geen item sal aanvaar word wat nie in ooreenstemming met die wet op medisyne en verwante middele is nie. Die ministerie verwys na 'n bepaling in die tenderdokument dat verskaffers – in dié geval MVM Investments – wat afwyk van produkte waarvoor die tender toegeken is, 'n kansellasie of her­evaluering in die gesig staar.

Op 20 April is 'n bestelling en eisvorm aan MVM Investments uitgereik om die produkte aan CMS te verskaf. Volgens die ministerie is die bestelling uitgereik op grond daarvan dat MVM Investments 'n verskaffer van mediese en/of kliniese items is, die aankope op 'n noodbasis is weens die Covid-19-pandemie, 500 N95-maskers afgelewer moet word en dat die vervaardiger van die maskers Sharam Orthopedic (Pty) Ltd in Indië is.

MVM Investments het aangedui die produkte sal binne 10 tot 12 dae vanaf die uitreiking van die bestelling aan die sentrale mediese store gelewer word met die afleweringsdatum wat 7 Mei verlede jaar sou wees.

Volgens die ministerie is KN95-maskers uiteindelik op 22 Julie 2020 afgelewer en het die maatskappy “bewustelik en bedrieglik” op die afleweringsnota en rekening aangedui dit was die korrekte besending van N95-gesigmaskers. Dié aflewering was ook maande ná die beloofde datum van 7 Mei en op grond waarvan die tender aan MVM Investments toegestaan is.

Volgens die ministerie was die maatskappy nie net by verstek in die fout met die streng nood-afleweringstydperk nie, maar het dit ook die verkeerde maskers en wel KN95-nie-mediese maskers afgelewer in weerwil van duidelike en gedetailleerde spesifikasies in die tenderdokument.

Die maatskappy se foutiewe aflewering van die maskers is gelykstaande aan die opskorting van die twee partye se ooreenkoms en kontrak, word beklemtoon. Die ooreenkoms het ook 'n kansellasieklousule, met die ministerie wat aan die vereistes hiervoor voldoen.

Die hofstukke verwys na die afleweringsnota van 22 Julie 2020 wat dui op 10 080 N95-gesigmaskers, terwyl MVM Investments se rekeningnommer CMS001 dui op 500 N95 asemhalingsmaskers en 1 600 N95-respiratoriese maskers – 'n totaal van 2 100 en nié 252 000 maskers soos wat die maatskappy beweer nie.

Volgens die ministerie is MVM Investments in Julie ingelig dat die nie-mediese KN95-maskers nie geskik is vir mediese gebruik nie en afgekeur word omdat dit nie die kliniese N95-maskers is waarvoor die bod toegestaan is nie en dit verkeerd in spesifikasie, hoeveelheid en grootte en ook lank ná die beloofde afleweringsdatum was. MVM Investments is gevolglik opdrag gegee om die verkeerde voorraad uit die store te verwyder, iets wat meer as 'n jaar later glo nog nie gedoen is nie.

“Die eiser het dit gepas gedink om 'n ongespesifiseerde aantal KN95 nie-mediese maskers aan die verweerders te verskaf wat hulle nie kan gebruik nie en vir duidelike redes nie verantwoordelik gehou kan word om hiervoor te betaal nie,” lui die hofstukke.

MVM Investments se verweer is die produkte is op 22 Julie verlede jaar afgelewer teen 'n goedgekeurde bedrag van N$7,5 miljoen vir 252 000 maskers. Ontvangs hiervan is deur die aptekersassistent by die store, me. Fabiola Vahekeni, erken.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!