Maskers sal hul dra
Maskers sal hul dra

Maskers sal hul dra

[email protected]
Tanja Bause
Net voor Windhoek en die Khomasstreek toegesluit is, het ek die voorreg gehad om saam met 'n klomp vriende bietjie in die Kunenestreek te gaan toer. Ons het op ons reis na die Epupavalle deur plekke soos Kamanjab, Opuwo en Khorixas gery.

Dit was vir my opvallend dat die mense in die dorpies almal hul maskers dra. Ek praat nie van soos dit hier in Windhoek gedoen word, waar die masker so skuins onder die neus hang of aan die een oor totdat ons in die winkel instap en dit korrek opgesit word nie. Nee, die masker bly reg op die gesig, al loop die mense stoksielalleen die straat af. Veral in Opuwo dra almal 'n masker – van die kleintjie wat nou die dag geleer loop het tot die oupa wat homself met sy kierie regop hou.

Die Herero-vroue op Opuwo wat ook almal met 'n masker rondloop, het dit nog 'n stappie verder gevat. Hul maskers is dieselfde kleur as hul tradisionele rokke. Is die rok oorwegend pers, dan is die masker pers, en nie net enige pers nie, maar 'n pers wat dieselfde kleurskakering as die pers van die rok het. Die Herero-vroue van Opuwo is baie modebewus.

Ons het 'n skaapwagter met sy vyf skape op die hoofpad na Epupa langs die pad sien stap. Daar was geen ander mense in sig nie. Daar was niks in sig nie – geen huisie, geen ander voertuig, diere of enige teken van ander lewe, maar die man het 'n bloedrooi masker aangehad.

So ook het die oupa wat langs die pad op 'n kampstoel sit en wag, het 'n masker aan. Hy was ook heel alleen langs die pad met die huise wat 'n hele ent verder weg was. Daar het oupa gesit, 'n tradisioneel gekleede Himba-man met sy stok en masker.

Soos toeriste nou maar maak, het ons ook met 'n gids 'n Himba-nedersetting gaan besoek. Ook in die nedersetting in die middel van nêrens het die mense maskers gedra. Dit was 'n eienaardige prentjie, dieselfde as die Himba-vroue wat ons op Opuwo gesien het. Al die mense is tradisioneel geklee, met maskers aan.

Dit is tóé dat ek dit nie meer langer kon uithou nie en vir die gids vra hoekom die mense so gehoorsaam is? Hoekom dra hulle maskers, al is daar geen ander mens is sig nie?

“Ek weet nie waar dit vandaan kom of wie die persoon was nie, maar iemand het hier in die streek vir die Himbas gesê as hulle die virus kry, gaan hulle summier dood. Daar is geen medikasie of hulp nie. Himbas sterf onmiddellik en al wat kan help, is die masker.

“Nou is almal bang, want hulle wil nie sterf nie en dus dra hulle getrou die masker, al is dit net hulle, hul skape, die oop vlaktes, die blou hemel en die vars lug,” het hy geantwoord.

Kommentaar

Republikein 2024-12-26

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 33° Rundu: 19° | 29° Eenhana: 19° | 31° Oshakati: 22° | 30° Ruacana: 21° | 29° Tsumeb: 19° | 29° Otjiwarongo: 18° | 26° Omaruru: 22° | 33° Windhoek: 21° | 29° Gobabis: 21° | 28° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 16° | 18° Walvis Bay: 17° | 23° Rehoboth: 22° | 31° Mariental: 23° | 35° Keetmanshoop: 22° | 36° Aranos: 21° | 35° Lüderitz: 14° | 26° Ariamsvlei: 24° | 37° Oranjemund: 17° | 24° Luanda: 24° | 26° Gaborone: 21° | 31° Lubumbashi: 17° | 29° Mbabane: 15° | 32° Maseru: 18° | 30° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 21° | 33° Maputo: 21° | 34° Windhoek: 21° | 29° Cape Town: 20° | 22° Durban: 20° | 30° Johannesburg: 18° | 28° Dar es Salaam: 26° | 31° Lusaka: 21° | 31° Harare: 18° | 29° #REF! #REF!