Massavrekte van dolfyne 'n raaisel

Tanja Bause
Tanja Bause



Vrydag het vissermanne van Lüderitz die ontdekking van verskeie dolfynkarkasse op die strand by die ministerie van visserye en mariene hulpbronne aangemeld.

Volgens me. Kolette Grobler, 'n mariene bioloog verbonde aan die ministerie, is 'n ministeriële navorsingsvoertuig Saterdagoggend na die toneel ontplooi.

“Die dolfyne het op die strand in Hottentotsbaai, sowat 60 km buite Lüderitz, gelê. Die baai is net per voertuig deur die duine of per boot bereikbaar. Dit is baie afgeleë en daar woon geen mense in die baai of in die nabye omgewing nie,” sê sy.

Navorsers het 86 dolfynkarkasse op die strand getel, waarvan twee kalfies was.

“Hulle was slegs 'n paar dae oud, óf hulle is gebore terwyl die ma om oorlewing geveg het. Ons lei af hulle lê al so lank as sewe dae op die strand, omdat ontbinding in 'n gevorderde stadium was en wilde diere soos jakkalse en bruin hiënas op hulle geaas het.”

Volgens Grobler weet hulle nie hoekom die dolfyne land toe geswem het nie en sal dit nie moontlik wees om dit vas te stel nie omdat vars monsters nie geneem kon word nie.

Sy sê dit is moontlik dat een van die dolfyne siek was, op die strand beland het en deur die ander gevolg is.

“Ons het in 2016 'n soortgelyke geval gehad met 33 vaaldolfyne wat naby Lüderitz gestrand was. Een van my kollegas het hulle gesien en kon hulle terug in die water kry. Ons het daardie dag net een dolfyn verloor en dit was die siek een wat oorspronklik gestrand het.”

'n Ander verklaring is dat die dolfyne vis gevreet het wat giftige plankton bevat.

Dit veroorsaak disoriëntering by dolfyne, sê sy.

Grobler het wel watermonsters geneem, wat nog ondersoek moet word.

“'n Derde moontlikheid is dat seismiese opnames in die gebied gedoen is waarvan ons nie bewus is nie. Ons sal dit moet navors. Al die moontlike oorsake is blote spekulasie,” sê sy.

Die vaaldolfyn kom gewoonlik in dieper water aan die Lüderitz-kus voor.

“Hulle kom tot sowat 40 seemyl van die strand af in groepe van honderde voor.”

 – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!