Massmart bly oor ondersoek na SAID

Beleggers se optimisme oor die jaar wat voorlê het gesorg dat die groothandelgroep, Massmart se aandeleprys gestyg het.
Massmart verwelkom die ondersoek na die Suid-Afrikaanse Inkomstediens wat pres. Cyril Ramaphosa verlede week in sy staatsrede aangekondig het.

Dié groothandelaar, wat Donderdag sy resultate vir die jaar tot Desember uitgereik het, sê die afgelope jare was daar ’n skerp styging in groothandelaars wat onwettige of grysprodukte invoer of wat belasting op toegevoegde waarde (BTW) ontduik. Dit maak dit vir Massmart moeilik om prysgewys mee te ding.

Massmart skryf dit toe aan “dalende standaarde vir polisiëring en wetstoepassing by die SAID en ander wetstoepassingsagentskappe”.

Beleggers se optimisme oor die jaar wat voorlê, eerder as tevredenheid met die jaar wat verby is, het Massmart se aandeelprys Donderdag teen 14:00 met 11,64% tot R159,03 laat styg.

Massmart, wat onder meer Game, Makro, Builders Warehouse en die groothandelaar Jumbo in sy stal het, het sy resultate vir die jaar tot Desember 2017 uitgereik. Verkope het maar tam gegroei en die maatskappy skryf dit aan ’n driedubbele slag toe wat dié jaar vir kleinhandelaars “uiters moeilik” gemaak het.

Die drie faktore wat saamgevloei het, was:

Baie swak verbruikersvertroue, wat beteken mense het nie in meubels en huisverbetering belê nie;

Die daling in die groothandelprys van mieliemeel, koring, olie en rys; en

Die swak geldeenhede in Afrika-lande buite Suid-Afrika omdat Massmart sy inkomste in rand weergee.

Massmart sê die verkope van mieliemeel, koring, olie en rys verteenwoordig 16% van die groothandelafdeling Masscash se verkope. Masscash verteenwoordig CBW, Trident, Jumbo, Shield en Cambridge Food.

Só het ’n sak van 12,5 kg mieliemeel byvoorbeeld van R109 in 2016 tot R75 in 2017 gedaal, ’n dalings van R34 of meer as 31%, pleks van die styging van R7 of 6,5% wat Massmart verwag het.

Hoewel mense nie juis meubels of huisware wou aanskaf nie, sê Massmart sy kos- en drankverkope het goed gevaar. In Suid-Afrika het sy kosverkope met 3% gestyg en drankverkope met 8,4%.

Massmart spog ook daarmee dat sy verkoopsgroei op talle produkte – soos ontbytgraan, koeldrank en geriefsmaaltye – hoër was as dié van sy mededingers.

Massmart se verkope vir die jaar was R93,7 miljard. Dis 2,7% hoër as in 2016.

Die groep se bedryfswins het met 4,8% tot R2,8 miljard gestyg, terwyl sy wesensverdienste met 14% tot R1,5 miljard gestyg het.

Verkope in vergelykbare winkels het met 0,8% gedaal.

Massmart sê die trae verkoopsgroei vir die volle jaar verdoesel die feit dat die tweede helfte van 2017 aansienlik beter was as die eerste helfte in drie uit Massmart se vier oorhoofse afdelings.

In Suid-Afrika het verkope met 1,5% gestyg, maar verkope in winkels wat ook in die volle 2016 oop was, het met 0,2% gedaal.

Massmart sê e-handel by Makro, Game, DionWired en Builders Warehouse het baie gegroei. Makro se aanlyn verkope het byvoorbeeld met 37% gegroei. Winkels soos Makro laat mense aanlyn bestel en dan hul ware optel by afsetpunte by veral vulstasies.

Só vaar Massmart se afdelings

Massdiscounters (Game, DionWired): Verkope -2,8% by alle winkels en -4,2% by vergelykbare winkels; gemiddelde pryse -2,5%. Massmart skryf die daling in verkope daaraan toe dat mense nie huishoudelike toestelle of elektronika wil aanskaf nie.

Masswarehouse (Makro en die varsprodukte-groothandelaars Massfresh en The Fruitspot): Verkope +4% en +2,4% by vergelykbare winkels; pryse +2,3%.

Massbuild (Builders Warehouse, Builders Express, Builders Superstore en Builders Trade Depot): Verkope +2,4% en +1,6% by vergelykbare winkels; pryse +3,7%. Ondanks die trae verkoopsgroei sê Massmart dis die beste prestasie van winkelgroepe in die selfdoenmark.

Masscash (Rhino, Cash & Carry, Jumbo en Cambridge Food): Verkope +0,4% en -2,3% by vergelykbare winkels; pryse +3,9%. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!