Mboma amper deur na 100 in Birmingham

Afrigter Henk Botha het vooraf gesê hy koester nie verwagtinge van blitstye nie, maar sy naelloopers het nie op hulle laat wag nie.
Tielman van Lill
Tielman van Lill – Met 18 klubs en ongeveer 170 atlete wat by Atletiek Namibia (AN) se eerste van tien Grand Prix-byeenkomste vir 2022 aangetree het, kan dié kompetisie Saterdag in Swakopmund se Vineta-stadion gewis as suksesvol beskryf word.

Die wêreldklas Christine Mboma en Beatrice Masilingi se eerste ernstige mededinging in ’n 100 meter-wedloop – boonop die twee Olimpiese finaliste se eerste deelname in hul tuisland sedert hul meteoriese opgang oorsee verlede jaar – was uiteraard ’n hoogtepunt van die dag.

Mboma het Masilingi met 11.25 sekondes teen 11.37 geklop. Mboma se bykans onvergelyklike talent was tot nou toe grootliks oor die langer naellope uitgestal en sy het nog selde die 100 voluit aangedurf, maar met dié tyd het sy reeds op die rand van kwalifisering vir die Statebondspele in Julie in Birmingham gedraai – waarvoor 11.20 vereis word.

Laasgenoemde tyd staan juis as Masilingi se persoonlike beste – haar wentyd vir goud by die o.20-wêreldkampioenskap in Nairobi laas Augustus.

In die verspring vir mans het Chenoult Lionel Coetzee (Swakop Striders) met ’n wensprong van 7.07 meter losgetrek. Later die dag het hy die 100 in 10.82 sekondes vir sy tweede sege afgeblits.

Die 400 vir mans en vroue het groot byval by die entoesiastiese toeskouer geniet. Mahmad Bock het goed gelyk toe hy die volle baanrondte met 48.45 gewen het, terwyl sy Unam-klubmaat Nandi Vass by die vroue in 59.23 baas was.

Daniel Paulus van Korrektiewe Dienste het reeds vroegoggend by die Vineta-stadion sy peil ten toon gestel toe hy die 5 000 m vir mans gemaklik in 14 minute 4.6 sekondes gewen het. Hy sal komende Saterdag opnuut by die Onafhanklikheidstadion in Windhoek tydens Atletiek Namibië se Grand Prix II vir die middelafstande aantree.

Die lenige David Dam van Omaruru het in die middelafstande gewys wat ’n talentvolle vooruitsig hy is. Sy 3:56.93 oor die 1 500 meter is ’n goeie aanduiding van sy vermoëns. Sy afrigter, Bethold Karumendu, het aan Republikein gesê die 24-jarige Dam kan maar in die toekoms dopgehou word.

Die jeugdige Leeorr-el Breytenbach, wat einde 2020 nog op die skoolbanke gesit het en tans in Suid-Afrika studeer, se 15.24 m in die gewigstoot vir mans is nie te versmaai nie. As dié jong reus volhard, kan hy oor ’n jaar of drie die ysterbal gemaklik oor die 20 m laat vlieg.

Hoewel die hamergooi Saterdag nie ’n erkende item was nie, het die twee Smith-sussies van Keetmanshoop gewys watter volgende geslag talent in aantog is. Die 15-jarige Annelize (28 meter) het gewen met Ansuné (13 jaar, 26 meter) nie ver agter nie.

Mnr. Henk Botha (afrigter) sê: “Ons sou Annalize graag verby die 30-merk wou sien, maar dit was hul eerste groot byeenkoms in die betreklik nuwe item wat baie tegniese ontwikkeling verg.”

Saterdag se voorste uitslae:

VROUE

100 m: Christine Mboma 11.25, 2 Beatrice Masilingi 11.37, 3 Ndawana Haitembu 12.32.

100-hekkies: Chrislene Klein 16.71.

400m: 1 Nandi Vass 59.23, 2 Johanna Ludgerus 1:00.28, 3 Dolphine Kapere Dolphine 1:00.40.

1 500: 1 Saara Shikongo 4:42.81, 2 Tresai Kakede 4:53.81, 3 Victoria Kaliteka 4:57.87.

Hoogspring: 1 Chrislene Klein 1.55 m, Queen Gontes 1.25.

Skyfwerp: 1 Leané Boshoff 38.66, 2 Annelize Smith 26.82, 3 Queen Gontes 23.31.

4x100-aflos: 1 Unam 49.70 (Hanganeni Fikunawa, Ndawana Haitembu, Jade Nangula, Nandi Vass). 2 Kakadhinwa 56.04 (Ester Hangula, Epifania Johannes, Peneyambeko Titus, Hendrina Nghidishange), 3 Tumella 56.20 (Innocentia Ngunda, Antonia Shihayo, Dolphine Kapere, Rosemary Thimbunga).

MANS

100: 1 Chenault Lionel Coetzee 10.82, 2 Anthony Vries 10.85, 3 Elvis Gaseb 10.85.

110-hekkies: 1 FC Pieterse 18.43, 2 Heino Keister 18.59, 3 Prince Gawaseb 20.63.

400: Mahmad Bock 48.54, 2 Sherman du Plessis 49.99, 3 Abrosius Shiimi 50.72.

1 500: 2 David Dam 3:56.93, 2 Simon Nghilukilwa 3:57.71, 3 Thomas Shigwedha 3:58.62.

5 000: 1 Daniel Paulus 14:04.60, 2 Simon Paulus 14:06.36, 3 Jeremiah Shaliawe 14:19.91.

4x100-alos: 1 Golden Cheetah 42.56 (Anthony Vries, Sherman du Plessis, Shaun !Naruseb, Sebastian Nyambe). 2 Unam 43.73 (Mahmad Bock, Onesmus Nekundi, Festus Kandiba, Emmanuel Samuntu).

Verspring: 1 Lionel Coetzee 7.07 m, 2 E. Samuntu 6.49, 3 Heino Keister 6.24.

Gewigstoot: 1 Leeorr-el Breytenbach 15.24, 2 Coenraad Kuhn 14.87, 3 Reginald Benade 9.93.

Spiesgooi: 1 David Ndeilenga 44.77 m, 2 Hope Katjihingua 39.22, 3 Petrus Nangolo 32.32.

DIE TOPTIEN KLUBS NÁ GRAND PRIX I:

1 Unam (94 punte). 2 Namibië Korrektiewe Dienste (66). 3 Quinton-Steele Botes atletiekklub (58). 4 Swakop Striders (40). 5 Kakadhinwa (36). 6 Tumella (35). 7 Athletics Development Club (34). 8 Golden Cheetah (30). 9 Tsaraxa-Aibes (27). 10 Dream Team (24).

• Volgende: Atletiek Namibië Grand Prix II (22 Januarie, Windhoek).

FOTO’s
Annelize Smith van Keetmanshoop in aksie in die hamergooi vir vroue.
Christine Mboma (regs) het in die 100 meter uitgehaal om Beatrice Masilingi te klop. Foto Tielman van Lill

Kommentaar

Republikein 2025-01-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 26° Rundu: 19° | 34° Eenhana: 21° | 36° Oshakati: 23° | 36° Ruacana: 20° | 36° Tsumeb: 21° | 33° Otjiwarongo: 21° | 33° Omaruru: 20° | 36° Windhoek: 21° | 32° Gobabis: 22° | 34° Henties Bay: 17° | 21° Swakopmund: 17° | 18° Walvis Bay: 17° | 22° Rehoboth: 22° | 33° Mariental: 23° | 36° Keetmanshoop: 21° | 36° Aranos: 25° | 35° Lüderitz: 16° | 30° Ariamsvlei: 21° | 37° Oranjemund: 15° | 23° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 21° | 27° Lubumbashi: 16° | 26° Mbabane: 19° | 26° Maseru: 18° | 31° Antananarivo: 13° | 28° Lilongwe: 18° | 29° Maputo: 24° | 36° Windhoek: 21° | 32° Cape Town: 18° | 24° Durban: 23° | 26° Johannesburg: 17° | 25° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 18° | 27° Harare: 17° | 21° #REF! #REF!