Mboma skitterend met goud in Oos-Afrika

Atletiek
Tielman van Lill
Tielman van Lill

Christine Mboma (18) het Saterdagnamiddag haar heerskappy by die o.20-Wêreldkampioenskap in Nairobi, Kenia, in goud gesmee toe sy die 200 meter-finaal in 21.84 sekondes gewen het.

Beatrice Masilingi (18) was tweede in 20.18 om haar persoonlike beste tyd aan te teken, terwyl Favour Ofili van Nigerië brons met 22.23 opgeraap het.

Voor die Namibiërs vir die 200-finaal kon nader staan, het hulle Vrydag gemaklik hul onderskeie uitdunne en semifinale gewen.

In die uitdunne het eers Mboma ’n kampioenskapsrekord in 23.23 opgestel waarna Masilingi dit in die volgende ren na 22.65 laat sak het.

In die eerste semifinaal was Mboma ietwat ernstiger in haar benadering met 22.41 vir ’n vars kampioenskapsrekord, maar Masilingi bars minute later los in 22.19 met ’n voorsprong van ses meter voor haar naaste mededinger.

In ag genome dat niemand Masilingi gejaag het nie, was haar semifinaalwedloop moontlik beter as haar aanslag in die finaal.

Mboma se goue-tyd in die finaal is slegs 00.03 sekondes stadiger as haar 0.20-wêreldrekord vandeesmaand in Japan. Sy het in Tokio by die Olimpiese Spele ’n silwermedalje in die finaal met 21.81 beklink om haar eie wêreldrekord (21.97) aan flarde te nael wat sy die vorige dag (2 Augustus) opgestel het.

Mboma (toe 17) het op 11 April by die All Comers-byeenkoms in Lusaka, Zambië, met ’n verrassende 49.24 in die 400 op die internasionale atletiektoneel gebars. Sy het dit ses dae later in Windhoek tydens die nasionale senior kampioenskap met 49.22 opgevolg en die stophorlosie onseremonieel op 30 Junie in Bydgoszcz, Pole, by die Irena Szewinska-gedenkbyeenkoms by ’n verstommende 48.54 laat stop.

Haar tye is beter as die omstrede Duitser, Grit Breuer, se o.20-wêreldrekord (49.42) wat sy as 19-jarige op 27 Augustus 1991 by die einste Olimpiese-stadion in Tokio behaal het.

Sedert Mboma die atletiektoneel soos ’n tornado getref het, het Wêreldatletiek haar Saterdag vir die eerste keer heuning om die mond gesmeer.

Wêreldatletiek het op hul amptelike Facebook-blad geskryf, “Christine Mboma is die o.20-wêreldkampioen. Sy het haar Olimpiese silwermedalje vir ’n goue een en ’n puik kampioenskapsrekord verruil.”

Diamantliga en 2022-seisoen

Mboma het ná haar goue medalje gesê: “Rekords kom en gaan, jy besit dit nie. Gister het ek ’n kampioenskapsrekord opgestel en minute later het Beatrice dit selfs vinniger gemaak.

“Ek is verheug dat ek vandag ’n nuwe o.20-kampioenskapsrekord kon opstel, maar ek weet dit sal een of ander tyd verbeter word. Ek hoop om gou aan die Wanda Diamant-liga deel te neem.”

“Kenia is ’n wonderlike gasheer en ek het die ondervinding terdeë geniet.”

Masilingi het bygevoeg: “Die kompetisie was werklik taai, maar wat kan mens anders in die finaal verwag? Om eerlik te wees, die kampioenskap was vanjaar puik. Ek het elke oomblik daarvan geniet en sien uit na volgende jaar.

“Baie dankie vir die liefde en ondersteuning van die Namibiërs. Dankie dat julle agter my staan. Ek het Nairobi werklik geniet en opnuut ondervinding by ’n wonderlike kompetisie opgedoen.

“Dit is ’n eer en voorreg om Namibië op die wêreldverhoog te verteenwoordig. Baie dankie dat ek kon.”

Mnr. Henk Botha, persoonlike afrigter van die duo, is meer ontspanne ná sy “dogters” medaljes gewen het en weer eens die kollig op Namibië geplaas het.

“Baie dankie vir die Namibiërs se passievolle ondersteuning. Julle maak dit net so veel makliker vir ons. Beatrice en Christine het ongelooflik goed gedoen.

“Ek dink Beatrice het Saterdag een van haar beste vertonings ooit in die 200 gelewer. Ons is verskriklik trots op haar. Dit maak haar die tweede vinnigste o.20-vrou in die geskiedenis en natuurlik is Christine se prestasie ’n droom.

“Net om te dink Namibië spog met die wêreld se twee vinnigste junior vroue! Ek dink mense moet net soms besef hoe goed Beatrice ook is. Goud is nie altyd alles nie, maar dit is lekker om dit te kry.

“Baie dankie vir jul volgehoue ondersteuning Namibië! Ons kan met reg breëbors rondloop. Baie geluk aan Chanique (Chani) Rabe wat Saterdagaand die Mej. Supranational-kompetisie gewen het.”

Ndawana Haitembu, Beatrice Masilingi, Nandi Vass en Christine Mboma het gisternamiddag met ’n skitternede 43.76 sekondes ’n silwermedalje vir Namibië in die 4x100 meteraflos gewen Dit is ’n nuwe nasionale senior rekord. Die vorige rekord (45.49) is op 17 Julie 2013 in Lusanne, Switserland, opgestel. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!