McKinsey ontken bande met Guptas
McKinsey ontken bande met Guptas

McKinsey ontken bande met Guptas

Die Amerikaanse konsultasiemaatskappy McKinsey ontken dat hy enige bande met die omstrede Gupta-familie het.
Ügen Vos - Steve John, McKinsey se woordvoerder, sê hulle is bewus van mediaberigte dat die nasionale vervolgingsgesag (NVG) beplan om bates ter waarde van R1,6 miljard van McKinsey en Trillian Capital Partners te bevries.

Trillian het baie noue bande met die Gupta-familie gehad in die tyd toe Salim Essa, wat as 'n bondgenoot van die Guptas beskou word, 60% van die maatskappy besit het.

Essa het Trillian in Julie 2017 verlaat en sy beherende aandeel verkoop.

McKinsey, 'n Amerikaanse konsultasiemaat­skappy, het onder skoot gekom omdat hy waar­skuwings van sy Suid-Afrikaanse tak oor moont­like ongerymdhede in die manier waarop Trillian en Eskom sake doen, geïgnoreer het.

John het Maandag per e-pos op Netwerk24 se navrae gereageer en McKinsey se belofte herhaal dat die maatskappy heeltemal bereid is om die R1,028 miljard wat hy gemaak het met die sogenaamde omkeerstrategie vir Eskom terug te gee.

“Ons verwelkom enige pogings om ons te help om die geld terug te betaal,” sê McKinsey in 'n verklaring.

John sê die ­maatskappy het nog geen formele kommunikasie oor die batebeslagleggingseenheid se beoogde optrede ontvang nie.

Volgens hom word die betrokke geld in 'n aparte rekening gehou en is dit reeds die afgelope twee maande gereed om terugbetaal te word.

“Ons het sedert Oktober 2017 vyf keer sonder sukses aan Eskom geskryf om te vra dat hy die nodige stappe in die hooggeregs­hof doen sodat die geld verhaal kan word,” lui die verklaring.

Volgens McKinsey het Eskom tot op datum glad nie daarop ag geslaan nie, maar McKinsey wil graag die proses bespoedig “sodat die geld tot voordeel van die Suid-Afrikaanse mense” benut kan word.

John sê in sy e-pos die maatskappy win regsadvies in en indien Eskom nie die saak deur 'n toepas­like regsproses uitklaar nie, sal hulle 'n “ander manier” kry om die geld aan Suid-Afrikaners terug te besorg.

“Ons gee nie hierdie geld terug omdat ons enigiets verkeerd gedoen het nie, maar omdat Eskom ons in kennis gestel het dat hy nie die nodige prosesse gevolg het nie,” sê McKinsey.

Volgens John het Eskom McKinsey in Februarie 2016 verseker hy het die nodige goedkeuring van die nasionale tesourie verkry. Eskom het McKinsey egter in Oktober 2017 verwittig dat dit nié die geval is nie. Dit word deur dokumentasie van Eskom se eie regspan bevestig.

“Ons verwelkom enige stappe om hierdie situasie op te los en sal voortgaan om ten volle met die Suid-Afrikaanse owerhede en amptelike ondersoeke na die gebeure saam te werk,” sê John.

McKinsey hou vol hy het nooit direk met enige maatskappy met bande aan die Guptas gewerk nie en ontken dat hy enige direkte of indirekte betalings gemaak het om kontrakte te bekom.

Die maatskappy sê hy het nooit enige betalings aan Trillian gemaak nie. Albei maatskappye het vir 'n paar maande vir Eskom werk gedoen, maar McKinsey ontken dat daar enige geknoeiery was.

McKinsey sê hy het nooit Eskom gemagtig om enige betalings aan ­Trillian te maak nie en hy het alle besprekings met ­Trillian beëindig toe kommer oor dié firma se ­sakepraktyke onder McKinsey se aandag gekom het.

- Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer