Meatco hersien sy strategie
Meatco hersien sy strategie

Meatco hersien sy strategie

Okahandja aanleg weer in werking
Gerine Hoff
Meatco se slagpale op Okahandja is weer in werking nadat die maatskappy ’n toename in slagvee ervaar.
Dié stap kom na die besluit van Julie verlede jaar toe seisoenwerkers afgedank is weens ’n afname in beesgetalle wat by Meatco bemark is. Die besluit is egter heroorweeg ná ’n toename in die hoeveelheid slagdiere, wat beteken dat benewens die aanleg in Windhoek, Okahandja se slagpale weer sedert verlede week in werking is.
Dit bring ook mee dat nagenoeg 200 mense vir die volgende vyf maande op ’n vaste-termynkontrak aangestel is.
Die toename in slaggetalle kom ná die verhoging van die Noorweegse kwota asook ’n gunstige wisselkoers.
“Soos ons verlede jaar onderneem het mits ons weer hoë getalle bees ontvang, is vaste-termynkontrak werknemers wat in die verlede by Meatco gewerk het, weer die geleentheid gegee om vir dié vakante posisies aansoek te doen,” het Neu-Nique Williams van Meatco gesê.
Met dié operasionele besluit, verwag Meato om binne die volgende vyf maande minstens 16 000 beeste by sy aanlegte te verwerk.
“Nog ’n faktor wat ons nie in ons beplanning vir hierdie tydperk ingesluit het nie, was die Noorweegse kwota. Meatco het vroeër vanjaar ’n bykomende kwota van 400 ton ontvang wat ons na Noorweë mag uitvoer. Die kombinasie van die Noorweegse kwota en die waarde wat ons genereer deur die gunstige wisselkoers, plaas ons in die posisie om hoër produsentpryse te bekostig en vol te hou,” het sy gesê.
Boonop het die regering ingestem dat beesvleis weer van buurlande ingevoer mag word.
“Op ’n strategiese vlak het Meatco goed nagedink oor die voordele vir die bedryf, die besigheid en ons land wat gepaardgaan met die invoer van bees. Dié besluit het ’n noemenswaardige impak op ons besigheid, aangesien ons nou die geleentheid het om ons vleis aan meer winsgewende markte te bemark waar ons beter opbrengste ontvang, en om die beurt kan ons ons produsente betaal,” het sy gesê.
Beide die Windhoek en Okahandja slagpale sal na verwagting vir die volgende vyf maande op ’n rotasiebasis in werking wees.

Kommentaar

Republikein 2025-04-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer