Meatco kry nuwe hoof
Meatco kry nuwe hoof

Meatco kry nuwe hoof

Die nuwe aanstelling volg byna drie jaar ná mnr. Vekuii Rukoro se skorsing.
Ellanie Smit
Ellanie Smit – Die soektog na ’n nuwe hoof vir Meatco is eindelik verby.

Mnr. Mushokabanji Mwilima is onlangs as Meatco se nuwe uitvoerende hoof aangestel en sal die leisels op 1 Februarie amptelik oorneem.

Dié aanstelling volg byna drie jaar ná mnr. Vekuii Rukoro, die voormalige hoof, in Maart 2017 geskors is.

Mwilima beklee tans die pos van uitvoerende direkteur van die Nasionale Boerevereniging van Namibië, en is ook ’n voormalige Meatco-direksielid.

Meatco se waarnemende voorsitter, mnr. Ronald Kubas, het gister gesê die soektog na ’n geskikte kandidaat, wat in Desember afgehandel is, was lank en uitmergelend.

Volgens Kubas het die maatskappy drie werwingsrondes gehad voor ’n suksesvolle kandidaat gevind is.

In November 2019 is 15 kandidate vir die pos oorweeg, maar vier wie se aansoeke laat ontvang is, is van die lys verwyder.

Die res van die aansoeke is deur ’n onafhanklike werwingsagentskap hanteer om deursigtigheid in die proses te verseker.

Vyf kandidate is op ’n kortlys geplaas vir onderhoude met die direksie, maar een het uitgeval. Mwilima is uiteindelik as die topkeuse vir die pos geïdentifiseer.

In dié tydperk is die maatskappy deur verskeie beamptes bestuur.

Hulle het beurte gemaak om as tydelike uitvoerende hoof op te tree.

“Alle uitvoerende posisies is nou gevul, en veral ná die aanstelling van ’n nuwe hoof is die maatskappy nou bestendig.”

Kubas het verder gesê dr. Martha Namundjebo-Tilahun, wat ses jaar lank op die direksie gedien het, het as direksievoorsitter bedank ná sy by die Nasionale Vergadering (NV) aangesluit het.

Volgens die Meatco-wet kan parlementslede nie as direksielede optree nie.

“Om dié rede, asook redes wat met goeie bestuur verband hou, het Namundjebo-Tilahun as voorsitter van die Meatco-direksie bedank. Nietemin gaan sake gaan voort soos gewoonlik,” sê Kubas.

Hy het verder gesê die huidige direksie se termyn verval in Februarie, en nominasies vir nuwe direksielede is deur die minister van landbou, water en bosbou, mnr. Alpheus !Naruseb, ontvang.

“Ons wag nog vir iemand om aangestel te word,” het hy gesê.

Mwilima, wat op die Meatco-direksie gedien het, het op 9 November as direksielid bedank.

Hy het ’n meestersgraad in bestuur en openbare leierskap aan die Universiteit van die Witwatersrand verwerf, sowel as ’n filosofie-meestersgraad in korporatiewe strategie aan die Universiteit van Pretoria en ’n nagraadse diploma in leierskapsontwikkeling aan die Universiteit Stellenbosch.

Mwilima beskik oor ’n honneursgraad in openbare administrasie van die Universiteit Stellenbosch, ’n BA-graad in kommunikasie van die Namibië Universiteit van Wetenskap en Tegnologie (Nust) en ’n nasionale diploma in landbou van die Universiteit van Namibië (Unam).

Sy termyn as uitvoerende hoof sal ná vyf jaar hersien word.

“As ons kyk na sy ervaring, kwalifikasies en insig in die bedryf, bestaan geen twyfel dat Mwilima die maatskappy na nuwe hoogtes gaan neem met ’n bekwame beheerliggaam, ’n sterk bestuurspan en bekwame arbeidsmag, ons veeprodusente en aandeelhouers onder hom nie,” het Kubas gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!